Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Deurdruk bring hom doktorsgraad in die sak

Dit het Mervin Chetty R280 gekos om ’n snoepwinkel in sy ma se kombuis oop te maak. Dié snoepwinkel se inkomste het uiteindelik vir sy graad aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) betaal.

Chetty (35) het Woensdag sy doktorsgraad in rekenaarwetenskap aan die UKZN ontvang, 17 jaar nadat hy begin het om aan dié universiteit te studeer.

“My storie is ’n storie van sukses teen alle verwagtinge en ’n oorwinning van die buiteperd. Dit is ’n storie van inspirasie, oor om te volhard deur uitdagings en om te glo dat daar lig is aan die einde van die tonnel,” sê Chetty.

Chetty moes noodgedwonge sy studies in 2000 staak – ses maande nadat hy met sy BA-graad begin het – nadat sy ma haar werk verloor het. Hy het toe met die snoepwinkel begin omdat sy nie meer ’n inkomste gehad het nie.

In enige gebroke huis, veral diegene wat deur armoede geraak word, is die kinders se kanse op sukses skraal, met akademiese sukses op die hoogste vlak net ’n droom
Mervin Chetty

“In enige gebroke huis, veral diegene wat deur armoede geraak word, is die kinders se kanse op sukses skraal, met akademiese sukses op die hoogste vlak net ’n droom,” sê hy.

“Ek het vinnig besef dat my familie nie kan oorleef op slegs my pa se salaris nie. Die winkel is letterlik oopgemaak om brood en melk vir die dag te verdien.”

In 2010 kon Chetty terugkeer na die UKZN om sy BSc-graad te voltooi.

Mervin Chetty Foto: Verskaf

“Om terug te gaan was ’n moeilike besluit. Ek het nie geweet hoe ek sou vaar nie, omdat my vorige akademiese prestasie swak was, maar ek was vasberade om dit wat ek begin het, klaar te maak,” sê hy.

Hy het sy finalejaar afgesluit met ’n gemiddeld van 86%.

Chetty se akademiese prestasie het verseker dat hy ’n beurs ontvang het om vir ’n BSc-honneursgraad in rekenaarwetenskap te studeer, wat hy in 2011 voltooi het ten spyte van sy persoonlike uitdagings.

“Die ervaring om my honneursgraad te voltooi terwyl ek moes toekyk hoe my persoonlike lewe in duie stort, het my laat besef dat ek tot enigiets in staat is,” sê hy.

Chetty het sy meestersgraad in 2013 voltooi en sy doktorsgraad in rekenaarwetenskap in 2016.

“Aan die einde van die dag het ek myself uitgedaag, een akademiese tree op ’n slag. Ek het gegaan van ’n akademiese opskopper, en nou het ek my PhD-graad. So, as jy misluk het, moenie moed opgee nie. Selfs in moeilike omstandighede is daar hoop.”

Chetty skryf ’n boek oor die uitdagings terwyl hy op universiteit was.

“Jy kan altyd teruggaan en klaarmaak wat jy begin het,” sê hy. – News24

Meer oor:  Ukzn  |  Die  |  Hom  |  Doktorsgraad  |  In
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.