Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Maties: 'Ons toekoms is Engels'

Onmin broei by die Universiteit Stellenbosch (US) nadat ’n lys met taalvoorstelle wat Engels die primêre taal van kommunikasie en administrasie by dié instelling sal maak Donderdag op ’n spesiale senaatsvergadering bekend gemaak is. 

Die voorstelle sal op 30 November aan die US-raad voorgelê word. Luidens ’n verklaring oor die aanbevelings wat prof. Wim de Villiers, die rektor, Donderdagoggend aan senaatslede gestuur het, is insette van onder meer die studentebeweging Open Stellenbosch en die studenteraad verkry. 

“Aangesien Engels die omgangstaal in Suid-Afrika is, sal alle onderrig by die Universiteit Stellenbosch in Engels gefasiliteer word en beduidende akademiese ondersteuning sal in ander Suid-Afrikaanse tale voorsien word volgens studente se behoeftes,” lui die verklaring. 

Die US se huidige taalbeleid, wat einde 2014 deur die raad aanvaar is, verleen gelyke status aan Afrikaans en Engels. 
Prof. Christo Viljoen, president van die US-konvokasie, en adv. Jan Heunis, die visepresident, het gisteraand gesê indien die voorstelle goedgekeur word, dit ’n keerpunt in die geskiedenis van Afrikaans sal wees. 

Die aanbevelings sal Afrikaans nie net van sy beskermde status ontneem nie, maar ook van sy gelyke status. Afrikaans sal volgens die voorstelle net soos Xhosa as ’n “randtaal” geakkommodeer word, het Viljoen gesê. Die raad is egter die enigste liggaam wat beleid kan bepaal, dus bly dit in dié stadium net voorstelle. 

Die aanbevelings van die rektor en sy bestuurspan is soos volg: 

- Studente moet in koshuise en ander leefomgewings Engels as omgangstaal by huisvergaderings en ander amptelike geleenthede gebruik; 

- Alle onderrig by die US sal in Engels gefasiliteer word en bykomende akademiese ondersteuning sal in ander Suid-Afrikaanse tale, na gelang van studente se behoeftes, aangebied word; 

- Die universiteit bly toegewyd daaraan om Afrikaans en Xhosa as akademiese tale uit te brei; 

- Parallelmedium-onderrig sal geld vir universiteitsmodules met groot getalle inskrywings; 

- Die onderrigtaal in kleiner klasse sal egter Engels wees. Bykomende ondersteuning in Afrikaans en Xhosa sal aan studente gebied word om te verseker dat hulle die werk verstaan;

- Alle voorleggings van studiemateriaal en evaluerings sal steeds in Engels en Afrikaans geskied; 

- Studente sal ook, soos wat tans die geval is, toetse, eksamens en take in beide Engels en Afrikaans kan beantwoord; en

- Engels sal die primêre taal van kommunikasie en administrasie by die universiteit wees met Afrikaans en Xhosa as bykomende tale. 
Luidens die rektor se verklaring sal dié voorstelle as “vertrekpunte” aan die raad voorgelê word en ook aan studente, personeel en ander belanghebbendes oorgedra word.

Dié vertrekpunte sal van Januarie 2016 toegepas word. Volgens Viljoen rus daar ’n groot onus op die US-raad wanneer die voorstelle bespreek en besluite daaroor geneem word. 

“My eerste reaksie by ontvangs van die nuwe taalbeleidvoorstelle was: Et tu, Brute? Die teerling is gewerp. Met die jongste voorstelle het die rektor se bestuurspan duidelik ’n streep in die sand getrek. Ons wag op die universiteitsraad om te bewys dat dit geen rubberstempel is nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.