Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Die Stem’: Maties verwelkom koshuis se besluit

Die bestuur van die Universiteit Stellenbosch verwelkom die wyse waarop die leiers van die manskoshuis Huis Visser die inwoners se besware oor die sing van “Die Stem” hanteer, en dat die voorval opgeweeg word teenoor die koshuis se waardes.

Dié manskoshuis het alle voormalige inwoners verbied om klubaande en sosiale geleenthede van die koshuis by te woon nadat “Die Stem” op een so ’n geleentheid gesing is.

Huis Visser, ’n manskoshuis by die Universiteit Stellenbosch. Foto: Facebook

Volgens die universiteit het die huidige inwoners, oudinwoners wat steeds aan die US studeer, en van die koshuis se alumni, Vrydagaand ’n spitbraai by die koshuis bygewoon. Sommige gaste is weg ná die einde van die formele geleentheid terwyl ander nog in die klub gekuier het totdat die lokaal ongeveer halfeen gesluit is. By dié informele gekuier is “Die Stem” gesing.

Huis Visser sê in ’n verklaring daar is Maandagaand op ’n huisvergadering besluit om alle voormalige inwoners te verbied om klubaande en sosiale geleenthede by te woon totdat hulle die voorwaardes bespreek het waarop die verbod gelig sal word en totdat hulle “tyd gehad het om die skade te herstel wat deur hierdie optrede veroorsaak is”.

“As ’n koshuis veroordeel ons hierdie optrede omdat ‘Die Stem’ geassosieer word met ’n tydperk waarin skade aan ons alumni, huidige inwoners en die groter universiteitsgemeenskap aangerig is,” lui die verklaring.

Die “oumanne” het ’n verskeidenheid menings oor die besluit op Facebook uitgespreek.

“Ek sou ook nie graag geassosieer wil word met sulke kinderagtige gedrag nie. Hoe sad is dit. Jammer vir julle ouens wat altyd so baie moeite doen om die oumanne te akkommodeer. Ek sou hoop die skuldiges het dit in hulle om verskoning te vra. Dis mos nie meer die 80’s nie. Skrik ’n bietjie wakker!” sê George van der Spuy Zaayman onderaan die Facebook-inskrywing.

Le Roux Viljoen sê die “oumanne” word nou verbied weens die optrede van net ’n paar mans. Hy vertrou dat die huidige inwoners ’n wyse besluit sal neem om die probleem te hanteer sonder om alle “oumanne” te vervreem.

“Ek vind dit afgryslik dat daar steeds mense is wat vir die nostalgie van die ou Suid-Afrika lewe wat slegs vir wit mense was. Ek het gehoor dat die sing van dié volkslied verdeling in die koshuis veroorsaak het en dat baie rasse en kulture ontsteld is oor wat gebeur het. As ’n old boy veroordeel ek hierdie optrede,” sê Kerwin Cameron Jacobs.

Die universiteit sê dat hy juis op die slagspreuk 'saam vorentoe' in sy eeufeesjaar besluit het omdat tydperke in die vorige 100 jaar van sy geskiedenis verdelend en uitsluitend was.

Anton Boshoff sê egter “Die Stem” is ’n baie belangrike deel van die huidige nasionale lied.

“Ons land het genoeg sonskyn vir ons almal. Dit is hoog tyd dat almal meer verdraagsaam moet wees,” sê hy op Facebook.

Op sosiale media is daar oproepe vir ’n ondersoek, maar die US het tot dusver geen formele klagtes ontvang nie.

“ ‘Die Stem’ dateer uit ’n tydperk toe sekere gemeenskappe en individue uitgesluit was van die historiese bevoorregting waarin die instelling gedeel het,” sê prof. Eugene Cloete, waarnemende rektor.

Die universiteit sê dat hy juis op die slagspreuk “saam vorentoe” in sy eeufeesjaar besluit het omdat tydperke in die vorige 100 jaar van sy geskiedenis verdelend en uitsluitend was.

Die verbod op die bywoning van sosiale geleenthede deur oudinwoners van Huis Visser is ’n tydelike maatreël om die huidige leierskap en inwoners die geleentheid te gee om die voorval te verwerk. Oudinwoners wat nog aan die US studeer, kan steeds bespreek vir maaltye in die koshuis se eetsaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.