Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
DIEPTE-ARTIKEL: KYK: Oos, wes, Tanna bly bes!

Tanna is ’n Afrikaanse ma van ’n dosyn Taiwannese kinders. Sy neem reeds drie dekades lank Oosterse babas onder haar vlerk, en maak hulle groot met boerekos en liefde. Cheréne Pienaar en Mlungisi Louw het gaan inloer met huiswerktyd.

Annalize Duarte (65), Sikai Zhang (7), of Boeta, Ouma Elize (92) en Mila Luo (3) in die woonkamer in Universitas Rif. Foto: Mlungisi Louw

’n Taiwannese meisie huil en sanik in Afrikaans.

“Sy stoot my, Tanna!”

Dit is Veronica Wung (4) wat in haar ontsteltenis met ’n reguit armpie na Mila Luo (3) wys.

“Tanna” is Annalize Duarte (65), wie se huis in Bloemfontein ’n huis van baie tale is.

Hier word Afrikaans, Engels, Mandaryns en gebaretaal, Chinese kos en boerekos vermeng.

Sy bedryf in haar huis ’n koshuis vir Taiwannese kinders wat in die stad op skool is.

Ouma Elize (92) loer oor haar bril en kom tot Veronica se redding.

Vir ’n oomblik is daar vrede.

Weer klink Afrikaans uit die eetkamer se rigting, waar Adelynn (6) wroeg met ’n stuk huiswerk

“Mamma, die potlood is stukkend!”

Die baksteenhuis in Universitas-Rif, waar ’n blikmeerkat met twee kameelperde teen die muur pryk, is Tanna, soos die kinders haar noem, se klein Oosterse paleis vir ’n 12-tal Taiwannesies.

Ouma Elize (92) help Adelynn met haar huiswerk. Foto: Mlungisi Louw

Wat sy hier regkry, beskou mense wat haar ken as niks minder as ’n wonderwerk nie.

Sy kry van die kinders as maand oue babas in en maak hulle groot tot matriek. Die ouers werk meestal buite die stad in fabrieke.

Die vier wat reeds uit die skool is, het saam meer as 20 onderskeidings in matriek gekry.

Dié vier is Eveny Liu (25), nou ’n prokureur, Yi-Ting Lee (25), ’n mediese student, haar suster, Yi-Chia (20), ook ’n mediese student, en E Lee (18), wat pas matriek voltooi het. Sy het nou met ’n BRek-graad aan die Universiteit van die Vrystaat begin.

Die kinders is só geheg aan Annalize dat hulle heeltyd terugkom “huis toe”.

‘Toe God ’n ma gemaak het’

In die kombuis hang ’n plakkaat met die Afrikaanse woorde “Toe God ’n ma gemaak het” langs ’n Chinese ornament.

Die yskas is bedek met baba­foto’s van Taiwannese, almanakke vol inskrywings, matriekdansfoto’s en onthounotas.

Dis nes ’n ouerhuis vol tienertirades, trane, lag, huiswerk (waar almal mekaar help), kosmaak, kosblikke pak en drukkies.

Annalize sê sy maak die kinders in ’n Christelike huis groot.

“Tot Sikai vou sy handjies om te bid as hy eet. En die kleintjies sing liedjies.”

Sikai Zhang (7), of Boeta, het Down se sindroom en is doof. Outisme is ook by hom gediag­noseer.

Annalize is die vredemaker tussen Veronica Wung (4) en Mila Luo (3). Foto: Mlungisi Louw

Hy slaap saans by haar op ’n dubbelbed sodat sy sy doek kan omruil.

Agt tot tien pakke doeke ’n maand.

Wipes? Baie!”

Sy gaan kyk hoe hulle kan geld insamel vir hom.

“Ek wil ’n masjientjie laat inbou dat hy nie meer hoef doek te dra nie. Dit kos R170 000.

“Dan werk ons met ’n muis, dan druk jy so ’n knoppie, dan doen hy nommer twee.

“Jy’t seker nooit daai ding op TV gekyk met die vet mense nie? Daar tel ’n ou baie tips op.”

Sy lag.

Boetie Lee, die VS se Bruce Lee

Annalize sê die kinders is net in haar sorg. Hulle is nie wees­kinders nie.

Die kinders het al sodanig Vrystaters en Afrikaans geword dat Cheng Chin Lee (17) se naam na Boetie verander het. Hy speel selfs rugby.

Hy word in die St. Andrews-seunskool oor die interkom “Boetie Lee” geroep.

Yi-Ting, Yi-Chia en Boetie Lee se ouers werk by ’n papier­fabriek.

Annalize Duarte (65) neem reeds drie dekades lank Taiwannese kinders onder haar vlerk en maak hulle in Afrikaans groot. By haar is Sikai Zhang (7) en Adelynn Wung (6). Foto: Mlungisi Louw

Mila se ma besit Nagoya, die soesjiplek in Tweede Laan; Eveny se ma het Allan K Products, wat plastiekware vervaardig; Veronica en Adelynn se pa is ’n verteenwoordiger vir die eierfabriek in Bot­shabelo en hul ma werk by ’n toiletpapierfabriek.

Bruce (11) se ma besit die Midas in Lesotho.

E (dit is haar volle naam) se ouers het ’n groenteplaas in die Kaap.

Haar boetie, Chi, is saam met die ouers Kaap toe, maar net as hy in Afrikaans kon skoolgaan.

Hoewel die meeste haar “Ma” noem, ken hulle haar eintlik as Tanna, iets tussen ’n tannie en ’n ma, ’n omgee-engel wat vier uur per nag slaap en daagliks drie bondels wasgoed kafdraf tussen skool toe ry en terug vir sport. En dan is daar nog spraakterapie en selfs gebaretaalklasse, wat sy en Sikai kry.

Sy lag as ’n mens haar aangaap.

“Dis my werk! Gister het hulle my juis uitgetrap by die ge­baretaalles en gesê ek moet begin rus.”

Dié lesse help dat sy met Sikai kan praat.

Adellyn by een van die nege mak skilpaaie. Foto: Mlungisi Louw

As sy ma klaar is by die fabriek, kom haal sy hom Saterdagmiddag laat en bring hom Sondagaand terug.

“Ek en Ouma het hom gister in Botshabelo gaan haal.”

Nimmereindigende liefdesverhaal

Dit het alles begin toe Eveny, wat steeds by haar woon, se ouers met haar as pap babatjie aan Annalize se deur kom klop het.

In daardie tyd het sy net ’n gemengde groepie dagkinders gehad.

Toe kom Yi-Chia, Yi-Ting en “Boetie”.

Daar is geen huishulp nie.

Mandaryns is naas Engels die meeste van die kinders se derde taal.

Yi-Chia wys trots na haar en haar broer en susters se baba­foto’s.

“Ek noem haar my ma, en my eie ma noem ek ‘Mom’.”

E is nou ’n eerstejaarstudent. Annalize het haar gekry toe sy gr. 2 toe gaan.

Yi-Ting het in matriek agt onderskeidings gekry. Yi-Chia self “maar net twee”.

Annalize het destyds onderwys studeer, maar opgeskop. “Onthou, daai jare was anders. Jy bly in die huis. Gelukkig was ons nie kaalvoet en swanger in die kombuis nie. Maar nog steeds, hulle wou mos nie gehad het vroue moet werk nie.”

Mila met haar iPad op Annalize se rusbank. Foto: Mlungisi Louw

Benewens die hond, Zeus, en ’n kat, Sweetness, hou sy nege mak skilpaaie aan. “Ek dink die bure dink ek roep hoenders.”

Die kinders mag net die blare vir hulle neersit, nie voer soos Tanna nie, want hulle byt.

Yi-Chia is nou in haar oefenklere. Sy tik op haar selfoon, maar neig ewig in die radar van haar Boerema.

Sy doen alles wat ’n ma doen.

“As hulle siek is, hospitaal toe, dan sal die pa net teken. Dan sê hy: ‘Dis nou jou beurt, Annalize.’ Dan vul ek al die besonderhede in. En ek bly by hulle sit.”

As die kleingoed woeilig raak, maak sy hulle stil in Afrikaans.

“Saggies, bokkies!

“Waar ek gaan, gaan hulle. Dis net, partykeer boikot ons vir Boeta. Kyk, hy regeer Pick n Pay; hy jaag die mense met die trollie om. Partykeer moet ek hier leopard crawl uit die huis.”

Yi-Chia Lee (20) wys trots die “huisgesin” se babafoto's. Foto: Mlungisi Louw

Sy en haar ma gaan nooit albei êrens heen nie.

Sy het twee seuns van haar eie, Enrico en Mario, albei in hul veertigs.

Maar sy sal aanhou ma wees vir haar Taiwannese kinders totdat elke liewe kind klaar studeer het en ’n grootmens is. En veel meer.

“Ek wil vir Boeta ’n skool bou vir serebraal gestremdes wat helpers by hulle het.”

Sy kyk na haar kroos en die lig in haar oë vertel ’n nimmereindigende liefdesverhaal.

“Weet jy, dis normaal. Dis normaal . . .”

Mila se sussie, Leggejekeke (9), kom ná agt jaar terug nadat haar ouers haar China toe gestuur het.

“Sy kom terug. Sussa kom terug.”

Van links voor sit Annalize, Adelynn, E Lee en Sikai. Agter staan Yi-Chia met Sweetness die kat. Foto: Mlungisi Louw
Annalize en Adelynn. Foto: Mlungisi Louw
Hier bid ons in Afrikaans . . . Mila Luo, Adelynn Wung en haar sussie, Veronica. Foto: Verskaf

Meer oor:  Bloemfontein  |  Taiwan  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.