Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Dis nie ons nie,’ sê departement oor skorsing
 Laerskool Schweizer-Reneke
’n Ouer leen sy selfoon aan ’n leerling van die Laerskool Schweizer-Reneke in Noordwes om haar ma te laat weet sy moet gehaal word. Langs haar staan ’n maatjie in trane oor die chaos wat by die skool geheers het. Foto: Christiaan du Plessis

Noordwes se onderwysdepartement was sy hande in onskuld nadat sy LUR Elana Barkhuizen se naam in die openbaar genoem en haar skorsing aangekondig het voordat sy haar saak kon stel.

Sello Lehari, LUR vir onderwys in Noordwes, het verlede week Barkhuizen se skorsing in die openbaar aangekondig nadat oproer uitgebreek het oor ’n foto van swart en wit kinders wat apart in ’n gr. R-klas sit.

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag aangekondig dat hy regstappe gaan doen om haar skorsing uit die Laerskool Schweizer-Reneke op te hef omdat dit onregmatig is.

Solidariteit beplan ook stappe teen die skool se beheerliggaam omdat hulle saam met die onderwysdepartement besluit het om haar “voorkomend om veiligheidsredes” te skors.

Barkhuizen het verlede Woensdag die gewraakte foto in ’n ander onderwyser se gr. R-klas geneem.

Elana Barkhuizen, schweizer
Elana Barkhuizen Dinsdag op die nuuskonferensie. Foto: Deaan Vivier

Jozeph du Plessis, voorsitter van die beheerliggaam, sê hy kan weens die hangende regsproses nie kommentaar lewer oor die wettigheid van Barkhuizen se skorsing nie.

Freddy Sepeng, woordvoerder van Noordwes se onderwysdepartement, sê Lehari het net gereageer nadat die skool en sy beheerliggaam Barkhuizen as die onderwyser betrokke by die foto geïdentifiseer het.

“Ons sal verder kommentaar lewer sodra ons regstreeks van Solidariteit hoor.”

Elsabé Olivier, in wie se klas die foto geneem is, is nie geskors nie. Volgens die onderwysdepartement is dit omdat daar nog vasgestel moet word presies hoe dit gebeur het dat die kinders geskei is.

Intussen is die skool se bedrywighede Dinsdag ten volle hervat. Du Plessis sê sowat 80% van die sowat 350 leerlinge is terug by die skool. ’n Private veiligheidsdiens was egter steeds op die perseel om leerlinge en onderwysers te beveilig en toegangsbeheer toe te pas nadat oproeriges gedreig het om die skool onregeerbaar te maak. Die meeste ouers het hul kinders sedert verlede Donderdag uit die skool gehou.

Amptenare van Noordwes se onderwysdepartement en lede van die Menseregtekommissie was Dinsdag weer by die skool om ondersoek na die bewerings van rassisme in te stel.

Regslui van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) was sedert die begin van die ondersoek Maandag teenwoordig om onderwysers teen viktimisasie en intimidasie te beskerm.

Só lyk die gewraakte foto wat deur ’n juffrou by die Laerskool Schweizer-Reneke gedeel is waarin wit en swart leerders skynbaar geskei word. Foto: VERSKAF

Chris Klopper, bestuurshoof van die SAOU, sê in die ondersoek is onderwysers onder meer gevra of dit normale praktyk is om gr. R-leerlinge van verskillende taalgroepe op die eerste skooldag van mekaar te skei.

“Dit is algemeen aanvaarde en geykte opvoedkundige praktyke van klaskamerbestuur om nuwe leerlinge in gr. R op hul eerste skooldag in ’n vreemde omgewing gemaklik te laat voel deur hulle in taalverband te groepeer, veral wanneer hulle nie een van die skool se tale van leer en onderrig magtig is nie. Wanneer dit speeltyd is, meng kinders van alle taalgroepe.”

Volgens Solidariteit is die taalkwessie ook die rede waarom die gr. R-leerlinge wat afgeneem is, geskei was.

Klopper sê die onderwysdepartement het probeer om te bewys dat ander foto’s, waar leerlinge in die klas geïntegreerd saamspeel en -werk, gemanipuleer is om die skool en onderwysers te beskerm.

“Daar is nie sprake van so iets nie, maar die ander foto’s is geïgnoreer omdat dit nie die bevooroordeelde politieke agenda pas nie.”

Hy sê die onderwysers en die skoolhoof word met “politiek gelaaide, leidende vrae” gepeper.

“Die SAOU se regslui is gereed om ons lede op enige forum by te staan.”

Sepeng ontken dat die departement nie objektief is nie of ’n politieke agenda het.

Die DA was teen druktyd Dinsdag nie beskikbaar vir kommentaar oor Solidariteit se eise dat daar teen die party se jeugleier, Luyolo Mphithi, oor sy uitsprake oor rassisme by die skool opgetree word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.