Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Dit gaan nou oor verontagsaming van Grondwet’

Enige ondersoek deur die Menseregtekommissie (MRK) na die jongste voorvalle waar koshuisstudente van minstens twee vrouekoshuise van die Universiteit Stellenbosch (US) verbied is om Afrikaans te praat gedurende hul oriënteringsweek, sal deur die drukgroep Gelyke Kanse verwelkom word.

Danie Rossouw, sekretaris van Gelyke Kanse, het hulp aangebied aan die MRK indien indiepte-inligting en feite verlang sou word.

“Die US-bestuur se hantering van die saak strek nou veel verder as bloot die taalkwessie. Dit gaan nou oor die blatante, minagtende verontagsaming van ons land se Grondwet,” sê hy.

Rossouw was ook die tweede applikant saam met Gelyke Kanse en Gelyke Kanse se prokureur van rekord in die 2016-aanslag om die US se taalbeleid van 2014 te laat hersien. Hulle sê hulle was veral bekommerd oor presies hierdie soort gevalle wat sou plaasvind en dat die US van sy eie taalbeleid afwyk.

Wat van taalregte?

Rossouw sê die US is steeds besig om van sy eie taalbeleid af te wyk en dat die huidige bestuur “hom nooit aan ons land se Grondwet ten opsigte van taalregte sal steur nie”.

Intussen het nog studente na vore gekom met dieselfde klagtes. Hul klagtes stem ooreen met koshuisstudente van twee vrouekoshuise, Minerva en Irene, dat hulle in die eerste week van hul verblyf gedwing is om Engels te praat.

Mentors het glo aan die studente gesê hulle mag net Engels met mekaar praat, selfs wanneer hulle in hul kamers is.

Die Afrikaanse Taalraad het by monde van dr. Conrad Steenkamp, sy uitvoerende hoof, gesê hulle sal met die US vergader oor die “oënskynlik hardhandige opdwinging van Engels as verpligte omgangstaal” in dié koshuise.

Geen amptelike klagtes glo ontvang

Die US het luidens mediaverslae teen Sondag nog geen amptelike klagtes ontvang nie. Hy het Vrydag aan Netwerk24 gesê dit is nie beleid dat slegs Engels in koshuise gebruik word nie, maar hy is daarvan bewus dat Engels dikwels gebruik word om inklusiwiteit te verseker tydens die verwelkomingstydperk wat formele byeenkomste en gespreksgeleenthede aanbetref.

Die US sê dit is in ooreenstemming met die taalbeleid wat daarvoor voorsiening maak dat taal in koshuise en ander leefomgewings so gebruik word dat niemand van aktiwiteite uitgesluit word nie.

Sondag het Rapport berig Tian Alberts, voorsitter van die studenteorganisasie StudentePlein, sê StudentePlein gaan namens anonieme eerstejaarstudente ’n formele klag by die US aanhangig maak.

Dr. Leon Schreiber, die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, het die voorval beskryf as ’n “totalitêre aanslag teen die grondwetlike regte van Afrikaanssprekendes”.

Die DA beplan ’n besoek aan die universiteit en om “al die klagtes te konsolideer om ’n saak by die MRK aanhangig te maak”, sê Schreiber.

Meer oor:  Mrk  |  Gelyke Kanse  |  Danie Rossouw  |  Koshuisstudente  |  Grondwet  |  Us  |  Verontagsaming Van Grondwet  |  Us-Taalbeleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.