Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Dosent bekyk ná hy Hitler verdedig

Hitler het maar net aan wit mense gedoen wat wit mense gewoonlik aan swart mense doen.

Dr. Lwazi Lushaba, dosent in die departement politieke studie aan die Universiteit van Kaapstad.

Dit is die mening van ’n berugte dosent aan die Universiteit van Kaapstad (UK) wat die universiteit genoop het om ’n ondersoek in te stel na sy uitsprake.

Dr. Lwazi Lushaba, dosent in die departement politieke studie en voorbok gedurende die #FeesMustFall-betogings in 2016, het in ’n lesing verlede week aan eerstejaarstudente in die bresse getree vir Adolf Hitler wie se Nazi-party verantwoordelik was vir die dood van 6 miljoen Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog.

Die lesing is vooraf opgeneem.

“Hitler het nie ’n misdaad gepleeg nie. Al wat Hitler gedoen het, was om aan wit mense te doen wat normaalweg vir swart mense gereserveer is,” sê Lushaba in ’n opname van sy lesing waarvan ’n kopie in Rapport se besit is.

Lushaba se kommentaar was enkele dae voor Yom HaShoah, die Holocaust-gedenkdag, wat Vrydag deur Jode wêreldwyd gedenk is.

Dat hy dié opmerking as dosent aan die Universiteit van Kaapstad gemaak het, is ekstra ironies omdat Ikeys – die universiteit se populêre naam – afgelei is van die Joodse voornaam “Ike” omdat daar tradisioneel baie Joodse studente aan die UK studeer het.

Het in 2019 stembus omgedop.

Die Kaapse Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes het Lushaba se kommentaar as “betreurenswaardig” beskryf, en bygevoeg die grense van akademiese vryheid en vryheid van spraak moet nie die kerndoel van die Grondwet ondermyn nie – om ’n verenigde en demokratiese Suid-Afrika te bou.

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, het die Menseregtekommissie gevra om Lushaba se kommentaar te ondersoek. Mazzone het prof. Mamokgethi Phakeng, visekanselier van die UK, gevra om vir Lushaba te skors.

Die UK het op sosiale media bevestig Lushaba se kommentaar word ondersoek. “Ons verifieer al die feite,” lui die UK se verklaring.

“Intussen is die UK se standpunt duidelik dat alle volksmoorde uitloop op misdade teen die mensdom sowel as aanhoudende bronne van pyn. Ons distansieer onsself baie sterk van enige ander beskouing.”

Lushaba het nie op navrae ge­reageer nie, maar het vroeër die week aan TimesLive gesê: “As jy weet wat universiteitslesings is, dan sal jy my nie daardie vrae vra nie.”

Lushaba is geen vreemdeling as dit by omstredenheid kom nie.

In Junie 2019 het Rapport berig hoe hy met die verkiesing van ’n dekaan vir die fakulteit geesteswetenskappe chaos veroorsaak het omdat sy gunstelingkandidaat nie verkies is nie. Hy was glo ontstoke omdat die kandidaat, wat deur die stemproses bevestig moes word, dr. Shose Kessi, nie ’n swart Suid-Afrikaner is nie. Kessi is van Tanzanië afkomstig en het in Switserland skoolgegaan.

Uit protes het hy die stembus tydens die verkiesing omgedop en van die stembriewe in sy mond geprop.

Lushaba het destyds nie op Rapport se navrae gereageer nie, maar het aan TimesLive gesê om vrae van ’n koerant te beantwoord is ’n “koloniale konstruk”.

In 2016, tydens die hoogtepunt van die #FeesMustFall-betogings, het ’n video die ronde gedoen van Lushaba wat studente aanhits om klasse te boikot. Hy sê daarin wit akademici “moet eers vir ons vertel watter soort kennis dit is wat hulle wil onderrig” voordat klasse hervat kan word.

Meer oor:  Lwazi Lushaba  |  Adolf Hitler  |  Volksmoord  |  Universiteit Van Kaapstad  |  Jode  |  Holocaust
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.