Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Drank speel dalk rol’ in Matie se val

Die voogde van die 19-jarige Matie Taylië Jaap wat verlede Sondag ernstig beseer is toe sy uit ’n venster van die tweede verdieping van haar koshuis geval het, vermoed vuil spel.

Taylië Jaap

Hein Leonard en sy vrou, Charmaine, het Taylië ’n paar jaar gelede in hul sorg geneem ná die afsterwe van haar ma, Alicia Jaap.

Die eerstejaar-BSc-student en twee vriende het verlede Sondagoggend omstreeks 01:00 by die Serruria-koshuis aangekom. Hulle was glo by die Neelsie-studentesentrum waar hulle vir die eksamen gestudeer het. Taylië se kamer is op die grondvlak van die koshuis, maar sy het uit ’n venster op die tweede verdieping geval. Taylië is oorspronklik van Lambertsbaai aan die Weskus en was verlede jaar die hoofmeisie van die Hoërskool Schoonspruit op Malmesbury.

Paramedici van die ER24-ambulansdiens was gou op die toneel en moes die bewustelose Taylië se asemhaling kunsmatig ondersteun. Sy is met ernstige kopbeserings na die Stellenbosch-hospitaal gehaas, van waar sy na die hoësorgeenheid van die Tygerberg-hospitaal in Parow oorgeplaas is.

Sy was meer as 24 uur lank bewusteloos, maar Leonard sê sy het later in die week wakker geword, en herken haar besoekers. Teen die einde van die week het sy selfs ’n paar woorde met haar besoekers gewissel, en haar familie hoop dat sy ten volle sal herstel.

Die venster waaruit Taylië Jaap geval het. Foto: Edrea du Toit

Dit bly ’n raaisel hoe Taylië deur die klein venster met die skarnier aan die bokant – en wat boonop nie heeltemal oop kan gaan nie – geval het.

Volgens mense wat op die toneel was – wat met Rapport gepraat het op voorwaarde dat hulle nie geïdentifiseer word nie – was daar aanduidings dat Taylië onder die invloed van drank kon wees.

Van die omstanders was ook oortuig dat sy self gespring het.

Hein Leonard sê egter hy vermoed vuil spel en hoop op ’n deeglike polisieondersoek. Hy sê hy ontmoet môre die polisie op Stellenbosch om te hoor hoe die ondersoek vorder en om te verneem oor die gerugte dat sy self gespring het.

“Ek wil sien dat die polisie die kamermaats ondervra. Ek wil self agter die kap van die byl kom.”

Serruria se koshuismoeder, Benita van Zyl, het aan Eikestadnuus gesê daar is beeldmateriaal van kringtelevisiekameras wat wys hoe Taylië en twee maats Sondagoggend by die koshuis aankom. “Ons kon op die kamera sien toe hulle inkom in die koshuis, met sakke op hul skouers. So, hulle was nie by ’n kuierplek nie.”

Volgens Martin Viljoen, ’n universiteitswoordvoerder, is die Sentrum vir Studentegemeenskappe gereeld in kontak met Taylië se familie.

“Me. Jaap se koshuisvriende ontvang ook deurlopende ondersteuning van onder meer die Sentrum vir Studentevoorligting en Ontwikkeling.”

Hy sê die universiteit gaan nie in hierdie stadium kommentaar lewer oor die omstandighede rakende die insident nie, maar gee sy volle ondersteuning aan die polisie in hul ondersoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.