Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Drastiese optrede gevra ná ‘sexy’ foto’s vir lees-veldtog
Elijah Mhlanga
Elijah Mhlanga, die woordvoerder van die departement van basiese onderwys. Foto: Felix Dlangamandla

Die departement van basiese onderwys moet dringend optree teen sy woordvoerder ná sy “onnadenkende, seksistiese, chauvinistiese benadering tot ’n waardige en edele veldtog”, sê die portefeuljekomitee oor basiese onderwys in die parlement.

“Hulle gaan die kwessie met die departement bespreek,” sê Bongiwe Mbinqo-Gigaba, voorsitter, in ’n mediaverklaring.

Dit kom nadat die woordvoerder Elijah Mhlanga die naweek op Twitter foto’s van skraps geklede vroue en mans gebruik het vir die departement se “Read to Lead”-veldtog waarin skoolkinders aangemoedig word om meer te lees.

Mbinqo-Gigaba veroordeel die onvanpaste twiets en foto’s ten sterkste en sê dit beeld vroue as objekte uit in ’n veldtog wat veronderstel is om leerlinge aan te moedig om te lees.

Mhlanga het Maandag om verskoning gevra nadat dit sommige Twitter-gebruikers ontstig het. Hy sê op Twitter hy het Saterdag ’n reeks twiets uitgestuur om die departement se veldtog te bevorder. Hy wou jong volwassenes en leerlinge aanmoedig om te lees, maar hy besef hy het “sensitiewe kykers” ontstel.

Een van Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van onderwys, se plasings waaroor Twitter-gebruikers de josie in is. Foto: Twitter/Elijah Mhlanga

“Ek besef een van die foto’s kon dalk sensitiewe kykers ontstel het. Dit was nie my bedoeling nie. Ek vra om verskoning aan diegene wat ek teleurgestel het en dié wat aanstoot geneem het,” sê Mhlanga.

Hy sê hy het dieselfde foto’s vroeër gebruik om die veldtog te bevorder, en toe was daar geen ontevredenheid nie.

Volgens Mbinqo-Gigaba is dié verskoning nie voldoende nie. Sy het opgemerk dat Mhlanga eers sy twiets probeer regverdig het en toe om verskoning gevra het.

“Dit is nie genoeg nie. Ons kan vroue nie as objekte uitbeeld nie, veral nie in Vrouemaand nie.

“Wat leer ons ons kinders op skool deur so te kommunikeer? Watter boodskap stuur ons aan ons meisies dat hul liggame op dié manier gebruik kan word?” sê sy.

“Mnr. Elijah Mhlanga se benadering tot die Read to Lead-veldtog vir die basiese onderwyssektor mis sy teikenmark heeltemal en doen meer skade as goed.”

Intussen het News24 berig dat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, haar en haar departement van die onvanpaste foto’s gedistansieer het.

Nog een van Elijah Mhlanga se plasings wat Twitter-gebruikers ontstig het. Foto: Twitter/Elijah Mhlanga

In ’n verklaring sê Motshekga dat sy nie in kennis gestel is dat die veldtog die gebruik van foto’s van halfkaal vroue sou insluit nie, en dat sy nooit toestemming daarvoor sou gegee het nie.

“Die uitbeelding van vroue as objekte belemmer ons stryd teen die deurdringende aard van patriargie en die plaag van geslagsgegronde geweld.

“Ek wil die kabinet waarin ek dien, en die departement van basiese onderwys distansieer van die openlike uitdrukking van chauvinisme. Die uitbeelding van vroue as objekte het nêrens plek in ons samelewing nie,” sê sy.

Die minister het verder gesê dat sy die rekenpligtige beampte van die departement opdrag gegee het om te verseker dat geen amptenaar namens die departement op hul eie besluite neem nie.

Luidens ’n verklaring deur FOR SA (Freedom of Religion South Africa) demonstreer die departement van basiese onderwys se “Read to Lead”-veldtog die indruk dat hy gemaklik is om seksualiteit te gebruik om sy agenda te bevorder. Daarmee word die regte van ouers om hul eie kinders volgens hul eie waardes op te voed, geskend.

Meer oor:  Bongiwe Mbinqo-Gigaba  |  Elijah Mhlanga  |  Leesveldtog  |  Verskoning  |  Foto's  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.