Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Driehoek pryk met drieling én tweeling in leerlingraad

“Óf julle stem vir ons al drie, óf julle moenie vir een van ons stem nie, want ons is ’n package deal,” het ’n drieling hulself glo aan die skool voorgestel voordat al drie in die matriekleerlingraad verkies is.

“Dit was wonderlik,” sê Jacques Marx, voorsitter van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark se beheerraad.

Van links is die Vorster-drieling, Wian, Ruan en Juan, en die Pretorius-tweeling, Christopher en Christiaan.Foto: Facebook

Dié skool het verlede Vrydag sy nuwe leerlingraad aangewys. Die nuwe span sluit drieling- én ’n tweeling-broers in – volgens ’n Facebook-inskrywing ’n “eerste in Driehoek-geskiedenis”.

Marx vertel twee van die 17-jarige Vorster-broers, Wian en Ruan, het hulself voor die stemproses op die saal se verhoog as “copy” en “paste” aan die ander leerlinge voorgestel en Juan, wat effe anders lyk as sy identiese broers, was “cut”.

Hul pa, Marius (51), en ma, Ronél (49), sê die seuns was baie in hul noppies toe ál drie die leerlingraad haal. “Hulle het ons dadelik laat weet ál drie het dit gemaak,” vertel Marius.

“Hoewel hulle ’n drieling is, probeer ons hulle soos individue grootmaak. Hulle is uiteenlopend. Wian praat reguit. Hy het nie altyd ’n wag voor sy mond nie. Ruan is die gemaklike een. Hy hou van sy musiek en is die vrede vanself. Juan is die ernstige een. Hy maak erns van sy akademie en waar al drie voorheen vir die rugby-sewesspan gespeel het, speel hy deesdae gholf.”

Die drie is mekaar se grootste ondersteuners, maar ook mekaar se grootste kritici, sê hul pa.

Benewens die drieling het die Vorster-egpaar twee dogters, Larochelle (24) en Angelique (21).

“Ons het ’n seuntjie verloor tussen die twee susters. Toe word die drieling op die dag presies ’n jaar ná ons die seuntjie verloor het, gebore,” sê hy.

Die Hoërskool Driehoek se nuwe skoolhoof, Ricardo Erasmus.Foto: Facebook

Die identiese tweeling Christiaan en Christopher Pistorius (17) dien ook in die nuwe leerlingraad.

Charl (39) en Lizelle (38) Pistorius sê hulle is oorstelp dat albei verkies is.

“Hulle is sulke vriendelike, pligsgetroue en hardwerkende kinders. Hulle is baie ná aan mekaar,” vertel Lizelle.

Hoe berei jy ’n tweeling voor dat die een dalk verkies kan word en die ander een nie? “Ons leer hulle alles gaan nie altyd oor wen nie. Soms haal die een die rugbyspan, en soms weer die ander een. Hulle is baie bly hulle is saam in die leerlingraad, maar hulle verstaan ook dis ’n voorreg. Hulle weet: Maak nie saak wat hulle aanpak nie, ons ondersteun hulle,” sê sy.

“Christopher is ’n happy go lucky-kind, waar Christiaan weer die ernstige, voorbeeldige een is. Hulle vul mekaar so mooi aan.”

Volgens Lizelle is die tweeling se susters, Chazelle Pistorius (8) en Meghan Kilian (14), baie trots op hul broers, wat ingenieurswese of sportbestuur as studierigting oorweeg.

Die leerlingraad is nie ál wat nuut is by die Hoërskool Driehoek nie. Die skool het vandeesweek vir Ricardo Erasmus as nuwe hoof aangestel.

Erasmus het sedert April waargeneem, nadat die vorige hoof, Hein Knoetze, afgetree het.

KASSIE: Só gaan dit nou by Driehoek

Die skool is op 1 Februarie vanjaar in groot hartseer gedompel nadat ’n loopbrug tussen klasse ineengestort het. Vier leerlinge is dood en byna 30 lig tot ernstig beseer.

Marx sê daar heers ’n positiewe gees by die skool – “ ’n gevoel van aanbeweeg”.

Die positiwiteit beteken egter nie die skool het vergeet wat gebeur het nie, sê hy.

“Niemand het vergeet nie en ons sal ook nooit vergeet nie. Maar ons het ook ’n verantwoordelikheid teenoor die ander kinders in die skool om hulle voor te berei vir die lewe.”

Hy sê van al die beseerde kinders is net meer as 20 terug by die skool.

“Daar is kinders wat gekies het om nou eerder tuisonderrig te ontvang. Ons is spyt daaroor, maar ons verstaan dit.”

Meer oor:  Hoërskool Driehoek  |  Vanderbijlpark  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.