Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Drome bewaarheid met Helpende Hand se opleiding

Elmarie Els (50) se trane het vryelik by die Siesta-aftreeoord in Bloemfontein gevloei waar die inwoners reeds ná enkele dae in haar hart gekruip het.

Els is een van die eerste 19 studente wat Solidariteit Helpende Hand en die Gratia Via Akademie se kursus in tuisversorging neem.

Dié geleentheid was vir haar ’n saak van gebed, ’n droom wat waar geword het, vertel sy.

“Dis die eerste keer in bitter baie jare uit ’n familie van dokters en predikante . . . ek het nooit die geleentheid aangegryp toe ek jonk was nie,” sê Els, afkomstig van Leeudoringstad in Noordwes.

Die Bloemfonteinse studente is Dinsdag amptelik by die aftreeoord verwelkom, waar hulle vir ses maande praktiese en teoretiese opleiding sal ontvang.

Studente sal ná die voltooiing van dié Seta-geakkrediteerde kursus ’n nasionale sertifikaat in tuisversorging ontvang.

Vyf van die tien tuisversorgingstudente wat Solidariteit Helpende Hand en die Gratia Via Akademie se kursus by die Siesta-aftreeoord in Bloemfontein neem. Van links is Carmi Burger (24), Elmarie Els (50) met inwoner Pieter de Vos (62) voor haar, Janell Serfontein (18) met inwoner Toy Strydom (80) langs haar, Jacquiline Steenkamp (52) en Marioleen Jansen van Rensburg met inwoner Martina Janse van Vuuren (79). Foto: Lientjie Mentz

Els, ma van vier en ouma van een, het haar wyle ouers, Jan en Louise Botha, self vir 15 jaar lank versorg.

“Hierdie (geleentheid) het op my pad gekom en ’n werklikheid geword. Dit word deel van jou lewe om ’n glimlag op ’n gesig te sien en daai waardering, om die laaste stukkie van ’n bejaarde persoon in waardigheid te laat sterf en in vrede te laat gaan om te weet iemand was daar vir my.”

Solidariteit Helpende Hand se studiefondssentrum help die studente met ’n rentevrye studielening vir dié kursus van R8 000. Altesaam 14 van die 19 studente doen die kursus met behulp hiervan.

Vyf van die tien Bloemfonteinse studente is inwonend by die Siesta-aftreeoord teen R6 500 ’n maand vir verblyf en etes. Studente kan ook vir verblyf vir ’n rentevrye lening by die studiefondssentrum aansoek doen.

Die ander nege studente is Donderdag in Pretoria-Noord verwelkom. Studente hier het egter nie die opsie om in te woon nie.

Die organisasie wil graag die opleiding deurlopend aanbied, en wil die volgende groep inneem nadat dié groep hul kursus voltooi het. Die minimum toelatingsvereiste is gr. 10.

“Hierdie opleiding bied nie net aan die student bekostigbare opleiding nie, maar ook ’n geleentheid om ’n inkomste te verdien en só ’n toekoms te verseker,” sê dr. Elsha Hermann, ’n maatskaplike werker van Helpende Hand.

Volgens Hermann het die organisasie ’n behoefte aan tuisversorging opgemerk ná voortdurende navraag by Helpende Hand, asook verskeie stakings by tehuise.

Kobus Venter, Solidariteit Helpende Hand se streeksorganiseerder vir die Vrystaat, sê dit is ’n monumentale oomblik om die studente van oor die land heen in die Rosestad te verwelkom.

• Stuur ’n e-pos na tuisversorging@helpendehand.co.za vir meer inligting of om ’n skenking tot die studiefonds vir tuisversorgingstudente te doen.

Meer oor:  Helpende Hand  |  Drome  |  Opleiding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.