Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Duisende poste by skole in gedrang

Tienduisende onderwysers in beheerliggaamposte se werk is in gedrang omdat baie ouers weens die inperking nie skoolgeld kan betaal nie.

Volgens vakbonde is baie van hierdie onderwysers se salarisse reeds met tot soveel as 50% verminder.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sê baie skole het kontantvloeiprobleme. Beheerliggaam-onderwysers se salarisse is verminder, en as sake só voortduur sal die skole hul poste moet besnoei.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrika (Fedsas) raam beheerliggame bestee jaarliks tussen R10 miljard en R12 miljard om 150 000 onderwysers in diens te hou. Wat dit moeiliker maak, is dat daar steeds geen duidelikheid van die departement van onderwys is oor wanneer skole gaan heropen nie. Skole kan dus nie finansiële planne vir die toekoms maak nie.

“Ons is bekommerd dat baie voorskoolse inrigtings en naskoolsentrums hul deure gaan sluit en dat ouers gaan sukkel om plekke te kry wat toesig kan hou oor hul kinders,” sê Klopper.

Basil Manuel, uitvoerende direkteur van die onderwysvakbond Naptosa, sê hulle het die departement gevra om hul regulasies oor die toekenning van finansiering te verslap sodat departementele geld gebruik kan word om onderwysers en ander personeel, soos skoonmakers, se salarisse te betaal. “Die departement het in beginsel met ons saamgestem, maar dit is nog nie in enige regulasies vervat nie,” sê hy.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, sê ouers moet besef as hulle ophou betaal, sal skole onderwysers se poste moet besnoei wat uit skoolfondse betaal word. Dit sal die gehalte van hul kinders se onderwys benadeel, sê hy.

Erik Visser, hoof by die Gereformeerde Skool Dirk Postma in Pretoria, sê 10% minder ouers het in April skoolgeld betaal en die skool verwag ’n verdere afname van 30% in Mei. “Baie ouers sukkel finansieel omdat hul salarisse besnoei is of omdat hulle hul werk verloor het. Hulle is nie in staat om skoolfondse te betaal nie.”

Nog ’n skoolhoof sê hulle sal wanneer skole heropen onderwysers moet aanstel om waar te neem in die plek van onderwysers wat ouer as 60 is of kwesbaar is.

’n Onderwyser van Johannesburg sê hy en sy kollegas is geweldig gefrustreerd dat die onderwysdepartement geen verantwoordelikheid wil aanvaar vir onderwysers wat met skoolfondse betaal word nie.

“Die onderwysdepartement doen absoluut niks om hoogs opgeleide onderwysers se poste te beskerm wat weens Covid-19 in gedrang is nie. Al wat die minister doen, is om ouers aan te moedig om steeds hul skoolfondse te betaal. Dit is onaanvaarbaar,” sê hy.

Carien Bloem, AfriForum se bestuurder van onderwys, sê skole sukkel nie net om salarisse te betaal nie. Baie skole het nie genoeg geld vir die veiligheids- en gesondheidsmaatreëls wat nodig gaan wees wanneer skole heropen nie.

“Dit kos skole tussen R50 000 en R100 000 vir vooraf ontsmetting en om maskers en handreiniger te voorsien en isolasieruimtes te skep. Daar word van hulle verwag om skole op ’n daaglikse basis te ontsmet. Baie skole weet nie hoe hulle dit gaan bekostig sonder addisionele hulp van die staat nie,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.