Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Duisende skoolaansoeke aanlyn reeds ontvang
Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, help Maandagoggend met die eerste paar aansoeke by die Atteridgeville-gemeenskapsaal naby Pretoria. Foto: Twitter

Tienduisende skoolaansoeke vir gr. 1- en gr. 8-leerlinge in Gauteng is vir die 2019- akademiese jaar ontvang, maar daar is steeds ontevredenheid oor ouers wat by enige skool kan aansoek doen – ongeag die skool se taalbeleid.

Ouers kon sedert Maandagoggend om 08:00 aansoek doen vir toelating van kinders wat volgende jaar gr. 1 of gr. 8 toe moet gaan. Binne tien minute is meer as 10 000 suksesvolle aansoeke afgehandel, luidens ’n verklaring van die Gautengse onderwysdepartement.

“Teen Maandag om 15:15 was daar reeds 144 124 suksesvolle aansoeke,” sê die departement.

Die aanlyn stelsel het egter ’n paar uitdagings.

“Dit sluit in: ouers wat die huis- en werkadres verkeerd insleutel, ’n vertraging in die stuur van waglysnommers en webbedryfstelsels,” lui die verklaring.

Luidens die verklaring moet ouers eers hul munisipaliteit kies en dan die dorp soos Johannesburg, Pretoria of Randburg.

“Daarna kan ouers die township of woonbuurt kies waarin hul woon. Indien dit in die korrekte volgorde gebeur, behoort daar nie probleme te wees met die straatadres nie.”

Die departement doen ook ’n beroep op ouers om van Google Chrome gebruik te maak, omdat die aansoekwebtuiste aan Google Maps gekoppel is wat dit makliker maak om adresse en skole op te spoor.

Die departement doen ook ’n beroep op ouers om van Google Chrome gebruik te maak.

“Ons ervaar ook vertragings met die waglysnommers, maar ons vennoot Vodacom staan ons by hiermee.”

Daar is egter steeds ontevredenheid oor die feit dat ouers by enige skool kan aansoek doen – ongeag die skool se taalbeleid.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het verlede week op ’n mediakonferensie gesê ouers hoef hulle nie te steur aan wat die taalbeleid van ’n skool is nie.

“Ouers moet aansoek doen by die naaste skool aan hul huis of werkplek. Dit maak nie saak wat die naaste skool se taalbeleid is nie,” het Lesufi gesê.

Volgens hom sal die departement dan verseker dat die betrokke skool se taalbeleid verander as die behoefte beduidend genoeg is.

“As genoeg leerlinge aansoek doen by ’n skool wat nie hul moedertaal aanbied nie, sal ons die beheerliggaam kontak, die nodige prosesse volg en verseker dat die taalbeleid verander. As te min leerlinge aansoek doen, sal ons die ouers kontak en ’n ander skool voorstel.”

Tim Gordon, uitvoerende hoof van die Stigting vir Beheerliggame (GBF), sê skole se taalbeleid moet eers bepaal word voordat aansoeke aanvaar kan word.

“Ouers moet presies weet waarvoor hulle hulself inlaat en wat die skool se taalbeleid is waar aansoek gedoen word.”

Gordon sê verwagtinge sal geskep word wat dalk nie nagekom kan word nie.

“Dit sal moontlik tot groot ontevredenheid lei onder skoolgemeenskappe.”

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) moedig in ’n verklaring Afrikaanse ouers aan om so gou as moontlik aansoek te doen vir hul kinders wat volgende jaar gr. 1 of gr. 8 toe moet gaan.

“So word Afrikaanse skole beskerm en kinders se plek in hul skool van keuse verseker.”

Die SOS beklemtoon ook dat daar eers ’n noukeurige konsultasieproses met die skoolbeheerliggaam moet wees voordat ’n skool van sy taalbeleid kan afwyk.

“Nuutverkose skoolbeheerliggame moet hulself dus vergewis van hul regte en verantwoordelikhede om toelatings- en taalbeleid te bepaal en toe te pas.

“Flink ouers en ingeligte beheerliggame by Afrikaanse skole kan die nodigheid vir latere regsaksie voorkom, as daar druk op skole geplaas word om te verengels,” lui die SOS se verklaring.

Lees hier meer oor hoe die stelsel werk en die omstredenheid rondom die taalkwessie. 

Meer oor:  Gauteng  |  Onderrig  |  Taalbeleid  |  Onderwys  |  Aanlyn  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.