Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Eerste 7 jaar van onderrig móét in moedertaal wees”
Paul Colditz

“Ouers sal hul Afrikaanssprekende kinders algeheel benadeel wanneer hulle dink hulle moet hulle nou so gou as moontlik in Engelse skole sit weens die onlangse appèlhofuitspraak oor die gebruik van Afrikaans by Suid-Afrikaanse universiteite.

“Dit is ’n drogredenasie.”

So het Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas (Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole), Saterdag in geen onduidelike taal in Bloemfontein gesê toe hy die Nellie Swartklub toegespreek het.

Altesaam 10,43% van Suid-Afrika se skole is Afrikaansmedium en is goeie skole. Dit is nie nodig om kinders in private skole te sit nie.
Paul Colditz

Dinsdag is Wêreld-Moedertaaldag en hy het beklemtoon dat ouers minstens hul kinders in die eerste sewe jaar van onderrig, in hul moedertaal moet laat onderrig.

“ ’n Goeie grondslag vir onderrig moet eers in die kind se eie moedertaal gelê word voordat hy of sy in staat is om in ’n tweede taal onderrig te ontvang.”

Colditz het gesê daar is politieke én demografiese druk op Suid-Afrikaanse skole oor die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal.

“Altesaam 10,43% van Suid-Afrika se skole is Afrikaansmedium en is goeie skole. Dit is nie nodig om kinders in private skole te sit nie.”

Colditz het ook gesê Afrikaanse skole is grootliks geïntegreerde skole omdat 55% van die leerlinge uit bruin en swart leerlinge bestaan wat ook Afrikaans as huistaal praat.

Hy het gesê die koste van parallelmediumskole is hoog en dit moet ’n bogemiddelde ryk gemeenskap wees om ’n volhoubare parallelmediumskool daar te stel.

“Van die 175 skole in die Vrystaat is 78 enkelmedium- Afrikaanse skole. In die Oos-Kaap is 73 van die 345 skole Afrikaans-enkelmediumskole en in Natal is dit tien uit die 49 skole.

“In die Noord-Kaap is byvoorbeeld 184 van die 306 skole enkelmedium-Afrikaans.”

Hy sê die bykans 11% Afrikaanse skole in die land stem ooreen met die ongeveer 15% Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika.

Colditz het gesê ’n groot gros van die Afrikaanse skool-gebruikers is eintlik arm. Omdat ’n mens die idee kry dat die Universiteit Stellenbosch nou ook so gou moontlik van Afrikaans as onderrigtaal wil wegkom, is die vraag of daardie mense dit sal kan bekostig om na die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom te gaan waar Afrikaans nog as onderrigtaal geld.

Colditz het gesê Afrikaanse skole lewer uitstekende resultate, die Afrikaanse onderwysers het in die algemeen ’n hoë werketiek en pligsbesef én is toegewyd.

Hy het gesê daar is beslis hoop vir die voortbestaan van goeie Afrikaanse skole.

  • Oor godsdiens op skoolvlak het hy verwys na die komende hofsaak teen ses Suid-Afrikaanse skole wat vir 15 tot 17 Mei in Johannesburg op die rol geplaas is.

Die hofgeding deur die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod) dagvaar ses skole, twee van Oudtshoorn en vier van Gauteng, oor hul Christelike gebruike.

Colditz het gesê dit gaan basies oor vier aspekte wat onderskei moet word:
  • Godsdiensonderrig;
  • Godsdienste-onderrig;
  • Godsdiensbeoefening; en
  • Godsdienstige oriëntasie (die reg om te wees en om jou geloof in die openbaar te kan uitleef).

“Vreemd is dat dit net Afrikaanse skole is wat geteiken is en net Christenskole, wat bestempel kan word as ’n fanatieke aanslag uit die ateïstiese sektor op die Christendom,” het Colditz gesê.

Dit gaan ’n taai saak wees waar kerke in Suid-Afrika aansoek doen om tot vriend van die hof toegelaat te word.

Meer oor:  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.