Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Eksamen: Matige spanning is nodig

Matrikulante is in die pylvak van die matriekeindeksamen. In dié artikel, wat die ‘Onderwys in die kollig’-reeks inlei, gee Willie Engelbrecht wenke oor hoe leerlinge dié span-ningsvolle tyd kan aanpak.

Daar is nog net 87 dae oor voor die matriekeindeksamen. Deur ’n paar riglyne te volg, kan leerlinge met stres klaarspeel.Foto: pexels.com

Indien die syfer 87 nog nooit enige betekenis vir jou gehad het nie, is hierdie syfer sekerlik iets waarvan elke gr. 12-leerling kennis moet neem – willens of wetens.

Daar is slegs 87 kalenderdae oor voor die finale gr. 12-eksamen. En slegs 17 kalenderdae voor die rekordeksamen.

Die oorblywende dae voor die eindeksamen kan sekerlik nie beskryf word as “te laat” nie. Daar is heelwat strategieë wat gr. 12-leerlinge volg in die volgende paar weke ter voorbereiding vir die eindeksamen.

Drome ontwyk jou wanneer jou liggaam met stres gevul is. Dit is algemeen dat stres vir die meeste mense eerste in die dermkanaal gevoel word, daarom dat eetgewoontes soms feitlik onmiddellik verander. Sommige leerlinge eet minder of weinig, terwyl ander weer meer eet (gewoonlik drang-eetgoed soos sjokolade).

Moenie ophou droom oor jou sukses in die eindeksamen en jou toekoms nie. Wanneer die spanning te veel raak, het dit tyd geword om jou studiepatrone en gewoontes te verander. Identifiseer die stressor – dit mag soms net ’n spesifieke vak wees of ’n gebrek aan voorbereidingstrategie. Wanneer die stressor geïdentifiseer is, kan jy daaraan werk. Let wel dat dit normaal is om spanning te ervaar voor groot gebeurtenisse.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Gematigde en beheerde spanning is nodig om ons aan die beweeg te kry vir optimale funk­sionering. Sodra dit jou funksionering negatief beïnvloed en jy angs om te misluk ontwikkel, is dit tyd dat jy om hulp aanklop.

Hou jou gemoedstoestand dop of vra jou ouers om jou te monitor vir veranderinge in jou gemoed en/of gedrag in hierdie voorbereidingsfase. Die verandering raak beduidend sodra jou funksionering verlam word op verskeie terreine.

Let op die volgende aspekte van funksionering: hoe word jou konsentrasie beïnvloed; is dit vir jou moeilik om aan die gang te kom; is jy oormatig bekommerd; voel dit heeltyd of jy wil huil; ervaar jy gelukkigheid; bekommer jy jou oormatig oor die verlede en of toekoms; is jy hoopvol; het jy belangstelling verloor in genotvolle aktiwiteite; is daar malende gedagtes in jou kop; voel jy waardevol; is jy opgewonde oor jou toekoms; kan jy maklik besluite neem en deurvoer; raak jy maklik ontsteld oor kleinighede? Indien die antwoorde ’n probleemarea aandui, raadpleeg ’n sielkundige of psigiater.

Die geheim van jou sukses is gesetel in jou daaglikse roetine. Verander jou daaglikse roetine om sodoende in die gr. 12-eindeksamen te presteer.

Kom ons kyk na ’n paar studiegewoontes of -roetines:

Elke leerling behoort reeds ’n voorbereidingsrooster in besit te hê. Bepaal hoeveel tyd jy per vak benodig om elke vak te bemeester en deel jou studietyd ooreenkomstig in. Stel doelwitte oor hoeveel leerinhoud elke dag bemeester moet word. Soms is dit raadsaam om meer tyd te wy aan vakgebiede waarin jy rooi ligte sien.

Maak tyd vir gesonde ontspanning en aktiwiteite, soos gesinsaktiwiteite en sport. Oefen gereeld en eet gesond vir energie. Raadpleeg ’n dieetkundige waar nodig. Kom gereeld in die buitelug en son. Kry genoeg slaap.

Hoewel studiemetodes en -gewoontes reeds gevestig behoort te wees, moet leerlinge evalueer watter studiemetode die beste vir hulle werk in hul unieke omstandighede per vakgebied. Gaan vir ekstra onderrig indien nodig of vra ’n vriend om te help met probleemareas. Raadpleeg jou vakonderwysers oor spesifieke studiemetodes wat werk vir daardie spesifieke vak. Die meeste leerlinge vind baat deur breinkaarte of ’n semantiese netwerk op te stel. Woorde, betekenisse en idees word gekoppel aan ’n sentrale kernbegrip en/of sleutelwoord. Dit is ’n visuele voorstelling en formulering van kennis en begrip met ’n sleutelwoord in die middel. Gaan soek gerus op die internet vir ’n paar idees oor breinkaarte.

Breinkaarte kan ook gebruik word vir selfassessering. Dit is waardevol om ekstra vraestelle deur te werk. Vraestelle sal help met tydsbeplanning en selfassessering.

Ouers speel ’n sentrale rol in die voorbereiding vir die eindeksamen. U rol moet uitnodigend en ondersteunend wees ten opsigte van bogenoemde beplanning en uitvoering. Skep ’n rustige atmosfeer. Gee jou kind die nodige ruimte, maar tree in gesprek wanneer nodig.

Oorweeg om vir Beeldskool in te skryf in die Oktober-vakansie: duxedmedia.com of stuur e-pos na skool@beeld.com.

Engelbrecht is ’n praktiserende opvoedkundige sielkundige.

Meer oor:  Beeld In Onderwys  |  Onderwys  |  Graad  |  Onderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.