Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Eksamens, skolesport in weegskaal

Die verlies aan onderrigtyd weens die staat van inperking skep die geleentheid om die oorvol nasionale kurrikulum-en-assessering-beleidsverklaring (KABV) te hersien.

Volgens ’n uittreksel uit die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se plan wat Maandag aan Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, voorgelê is, kla onderwysers al ’n geruime tyd dat dié kurrikulum te wyd en oppervlakkig is.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) en Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het vroeër aan Netwerk24 gesê die besnoeiing van die kurrikulum is een van die opsies om die skooljaar te red, maar het benadruk dat geen finale besluit nog geneem is nie.

Die SOS glo van die kurrikulum se inhoud kan herverpak word deur onder meer inhoud te identifiseer wat as boublokke vir opeenvolgende konsepte dien en tersiêre onderrig ondersteun. Die sentrum sê verder die huidige kurrikulum vereis volgens onderwysers oormatige assessering en ’n verandering kan die administratiewe las verlig.

As die Junie-eksamen geskrap word en klem geplaas word op formatiewe assessering, kan leerlinge steeds kernvaardighede in elke fase bemeester, volgens dié plan.

Die sentrum sê hy sal ’n paneel van ervare onderwysers vir ses kernvakke saamstel om die 80% noodsaaklike vakinhoud te identifiseer en ’n hersiene assesseringsraamwerk vir elke vak daar te stel. Meer inligting oor die plan sal bekend gemaak word nadat dit aan Motshekga voorgelê is.

Foto ter illustrasie.

Intussen sê die SAOU in sy jongste nuusbrief dit is ’n gegewe dat daar minder beskikbare skooldae gaan wees as die verskillende grade ingefaseer word. ’n Konsepplan waarin die infasering van die skooljaar klaarblyklik uiteengesit word, het verlede week uitgelek.

Volgens die konsepplan kan gr. 12- en gr. 7-leerlinge op 6 Mei terugkeer, gevolg deur gr. 11-leerlinge op 20 Mei.

Leerlinge in gr. 10 en gr. 5 volg op 3 Junie en daarna gr. 9 en gr. 4 (7 Junie) en gr. 8 en gr. 3 (1 Julie). Leerlinge in gr. 1, gr. 2 en gr. R word laaste ingefaseer, op onderskeidelik 8 en 15 Julie.

Fedsas, die SAOU en die onderwysersvakbond Naptosa beklemtoon dat alle dokumente nog slegs beplanning is.

Die SAOU sê egter vir ’n moontlike infasering is dit noodsaaklik dat die belangrikste konsepte met die oog op die volgende graad geïdentifiseer word.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, sê ook die afskaling van dele van die kurrikulum wat nie noodsaaklike boublokke vir die volgende graad is nie, is een van die stappe wat oorweeg kan word.

Gaan vakansies geskrap word?

Die SAOU sê daar word voorlopig beplan om die Junie-vakansie met twee weke te verkort, asook om die September-vakansie te verkort om skooldae in te haal.

“Dit sal nie moontlik wees om die dae in te haal as daar nie aanpassings aan die skoolkalender gemaak word nie. Die SAOU is egter hoegenaamd nie ten gunste daarvan om bloot deur te druk sonder enige noemenswaardige breuke nie. Dit sal vir veral die jonger leerlinge uitputtend wees,” lui die nuusbrief.

Volgens die SAOU kan daar moontlik verwag word dat die skooldag vir laerskole met ’n halfuur verleng word en vir hoërskole met ’n uur.

Die organisasie glo nie Saterdae moet gebruik word om skooldae in te haal nie.

Fedsas voel ook dat vakansies nie afgeskaf moet word nie en dat die skooldag verleng kan word.

Gaan eksamens voort?

Volgens die SAOU word alle opsies oorweeg om die matriekeksamen soos geskeduleer te laat voortgaan weens die invloed wat ’n verskuiwing op die nasienproses en bekendmaking van uitslae kan hê.

“As enige verskuiwing wel plaasvind, sal dit met hoogstens een week wees.”

Die afskaffing van die Junie-eksamen word wel glo oorweeg om verlore skooldae in te haal.

“Afhangend van die skedulering daarvan, sal dit vir skole moontlik wees om dan tien tot 15 skooldae in te haal.”

Gaan skole ontsmet word en hoe gemaak met gesondheidsmaatreëls?

Volgens die SAOU het die departement aangedui dat elke skool ’n ontsmettingspakket sal ontvang, maar daar word voorsien dat die meer as 24 000 pakkette nie betyds by skole afgelewer sal word nie.

“Skoolbesture sal dus in oorleg met skoolbeheerliggame gepaste reëlings moet tref. Dit sal egter nie ’n eenmalige aksie kan wees nie,” lui die nuusbrief.

Die organisasie sê verder die verskaffing van maskers en ander beskermende drag vir onderwysers is ’n kopseer en dat die haalbaarste opsies is dat die departement vir elke skool ’n begroting daarvoor gee of dat die skool dit self finansier.

Die SAOU voeg by die handhawing van ’n gesonde afstand van 1,5 m is baie moeilik in skoolverband en dat skole die implementering van dié maatreël goed moet deurdink.

Volgens Colditz is dit nog moeiliker om higiënemaatreëls vir jonger kinders toe te pas.

Dit is ook nog nie duidelik hoe skole gaan verhoed dat geïnfekteerde leerlinge en personeel, veral diegene wat asimptomies is, skool toe kom nie.

Sal sport en kultuur voortgaan?

Die SAOU sê georganiseerde sport lok baie toeskouers en weens die feit dat selfs wêreldsportbyeenkomste afgestel of uitgestel is, voorsien hy daar sal nie vir die voorsienbare toekoms skolesport plaasvind nie. ’n Finale besluit is egter nog nie geneem nie.

Die departement het nie Maandag op Netwerk24 se navrae reageer nie.

Meer oor:  Paul Colditz  |  Angie Motshekga  |  Skole  |  Inperking  |  Skolesport  |  Eksamens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.