Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Ekurhuleni hét nood vir universiteit
Mzwandile Ma­sina, uitvoerende burgemeester van Ekurhuleni. (Nation Nyoka, News24)

Die uitvoerende burgemeester van die Ekurhuleni-metro is vasbeslote om ’n universiteit aan die Oos-Rand te bou met ’n kurrikulum bestaande uit ingenieurswese, landbou, logistiek, lugvaartkunde, ruimtevaartkunde en ontwerp.

Die Ekurhuleni-metrostreek (Oos-Rand) dra trouens 23,1% by tot die ekonomie van Gauteng en 8,1% tot die nasionale ekonomie.

Dít is volgens Mzwandile Ma­sina, uitvoerende burgemeester van Ekurhuleni, op ’n universiteitsimposium wat verlede week in Benoni gehou is.

Masina het aan die afgevaardigdes uit verskeie sektore gesê die visie om ’n universiteit te bou, het gestalte begin aanneem sedert die aanvanklike aankondiging daaroor tydens sy stadsrede in Maart vanjaar.

Masina het tydens sy stadsrede gesê ’n universiteit sal dien as ’n fontein waaruit vaardighede geskep kan word.

Hy het daarna verwys dat Ekurhuleni een van net twee metro’s in Suid-Afrika is sonder ’n universiteit – die ander een is Buffalo City in Oos-Londen.

Daar is reeds gesprekke met belanghebbendes soos die private sektor en die regering gevoer om vaardighede en opleiding in die metrogebied te bevorder.

Masina het vroeër gesê om vaardighede te ontwikkel en menslike kapitaal te wil lewer om ontwikkeling te dryf, moet ons “sonder ophou” werk om tersiêre instansies te bou.

Hoewel die beplande universiteit nog nie ’n amptelike naam het nie, word daar in tussentyd verwys na die Ekurhuleni-Universiteit vir Toegepaste Wetenskappe en Tegnologie, met die akroniem East-U van die Engelse naam (Ekurhuleni Applied Sciences and Technology University) afgelei.

Dit sal na raming tussen R5 miljard en R6 miljard kos om die universiteit op te rig, wat die nasionale gemiddelde is gegrond op die koste van universiteite wat tans in Mpumalanga en die Noord-Kaap gebou word.

“Om die aspirasies van die vierde nywerheidsrevolusie te vervul, is ’n wetenskap-en-tegnologie-universiteit in ons gebied nodig omdat ons (die Oos-Rand) ’n vervaardigingspilpunt is – nie net van die land nie, maar van die vasteland.

Hoe hoër iemand se vlak van opleiding, hoe geringer is die kanse dat hulle in armoede verval.
Mzwandile Ma­sina, uitvoerende burgemeester van Ekurhuleni

“Dit is dus belangrik dat ons voortdurend vaardighede en kundigheid in ons stede ontwikkel ten einde industrialisering en ontwikkeling aan te dryf,” het Masina gesê.

Germiston, Boksburg en Kempton Park is as liggings voorgestel vir die universiteit omdat dit naby die O.R. Tambo- internasionale lughawe, hoofweë en spoorvraggeriewe is.

“Een van die ontwikkelaars in die stad het grond verniet beskikbaar gemaak aan die metro.”

Hoewel dit nog nie bereken is hoeveel werkgeleenthede die bou van die universiteit gaan skep nie, gaan ekonomiese groei aangedryf word deur die indiensneming van skoonmaakpersoneel, die bou van behuising en die aanstel van akademiese personeel en veiligheidsbeamptes.

Buti Manamela, adjunkminister in die presidensie, het die belangrikheid van universiteite in ’n samelewing beklemtoon.

“Hoe hoër iemand se vlak van opleiding, hoe geringer is die kanse dat hulle in armoede verval,” het hy gesê.

Sifiso Mtsweni, uitvoerende voorsitter van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (Nyda), het ’n beroep gedoen dat werkervaring as ’n vereiste vir intreevlakberoepe geskrap word en dat universiteitsgelde en toelatingsvereistes “gesentraliseer” word.

Dit word in die vooruitsig gestel dat die bou van ’n universiteit die druk op tegniese en beroepsgerigte opleidingskol­leges (TVET-kolleges) sal verlig wat volgens die metro tans uit hul nate bars.

Meer oor:  Burgemeester  |  Metro  |  Benoni  |  Ekurhuleni  |  Universiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.