Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Eldoradopark-skool: ‘Dié stryd moet nou end kry’
Die skoolgemeenskap van Eldorado Park Secondary School word nou deur AfriForum ondersteun om die onmin tussen onderwysers en die skoolhoof op te los. Foto: Brümilda Swartbooi

Ouers van leerlinge aan die Eldorado Park Secondary School in Johannesburg hoop dat die twee jaar lange stryd by die skool nou einde sal kry.

Die ouer van ’n leerling wat in 2019 hier gematrikuleer het, sê die gebrek aan samewerking tussen onderwysers is een van die grootste probleme hier.

Sonia Elie (regs) saam met haar seun Dhelmon wat in 2019 aan die skool gematrikuleer het.

Sonia Elie sê terwyl ouers vir hul kinders se onderrig veg, stamp die personeel kop.

“Daar is nie eenheid in die skool nie. Baie onderwysers is teen die (skool)bestuur. Onderwysers veg teen mekaar. Sadou-onderwysers wil nie onder die bestuur van mnr. Marlon Louw (skoolhoof) wees nie. Daar is wrywing,” sê Elie.

Die onmin het onder meer daartoe gelei dat tot sewe onderwysers bykans twee jaar lank glad nie skool gehou het nie – en ander onderwysers by tye uit solidariteit met dié onderwysers óók nie klasgegee het nie. Al dié onderwysers is lid van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou).

Dit kom nadat ’n groep onderwysers talle klagte teen Louw by Sadou en die Gautengse onderwysdepartement aanhangig gemaak het – waaraan ’n onafhanklike ondersoeker hom onskuldig bevind het. Van die klagte sluit in aanranding, die wanbestuur van skoolgeld, ’n gebrek aan dissipline by die skool, rassisme en dat die skoolhoof een van die onderwysers met ’n mes gedreig het.

Elie sê daar is altyd twee kante aan elke storie.

“Daar het dan niks van die saak gekom van die onderwysers wat vir meer as twee jaar afwesig was nie,” sê Elie.

Nog ’n ouer, Yasen Jacobs, wat self ’n oudleerling van die skool is, sê die fout lê by die groep onderwysers wat teen die skoolhoof gekant is.

“Die onderwysers kan dit nie op die skoolhoof uithaal nie, nou moet die leerlinge daaronder ly. Die tweede probleem is die feit dat ouers nie hul kinders ondersteun nie. Hulle kinders loop daar skool, maar hulle vra nie hoekom word hulle vroeg huis toe gestuur weens onderwysers wat gedurig afwesig is nie.”

Jacobs sê sy gr. 10-seun is verlede jaar gedurig vroeg huis toe gestuur.

“Ek weet nie hoe het hy geslaag nie, want ek het hom nooit sien huiswerk doen nie en hy het so min onderrig ontvang.”

Die skool se beheerliggaam het onlangs die burgerregtegroep AfriForum se hulp ingeroep. AfriForum se vervolgingseenheid behartig nou onderhandelinge tussen die skool, Sadou en die departement.

Glenwill Sweetland, tesourier van die skool se beheerliggaam, sê ses van die sewe onderwysers wat bykans twee jaar lank nie klasgegee het nie, het ’n week voor die eindeksamen in 2019 na die skool teruggekeer. Sweetland sê tot op hede het die skool se beheerliggaam niks gehoor oor die vervolging van of ’n formele ondersoek teen hierdie onderwysers nie.

“Ons kinders het twee jaar lank daaronder gely toe die onderwysers afwesig was. Dit lyk nie ons kinders is vir hulle belangrik nie.”

‘Ongemagtigde vergaderings op skoolgrond’

Volgens Sweetland het Sadou ongemagtigde vergaderings op die skool se perseel gehou. In 2017, toe Sadou die perseel weer vir ’n vergadering wou betree, het veiligheidsbeamptes hulle toegang geweier. ’n Rusie het ontstaan.

Sedert November 2017 was vyf onderwysers afwesig. In Januarie 2018 het nog twee onderwysers hulle hierby aangesluit.

“Volgens inligting het dié sewe onderwysers elke dag by die departement se kantoor gerapporteer,” sê Sweetland.

Sweetland sê die beheerliggaam het talle kere aan die departement geskryf om ’n ondersoek teen die onderwysers te doen.

Dinge het egter vererger.

In 2018, nadat die hoof onskuldig bevind is, was nog sowat 17 onderwysers 13 dae lank afwesig, “in solidariteit met die sewe onderwysers”.

Hy sê intussen gaan dinge by die skool agteruit. Leerlinge baklei en bring messe en ander wapens skool toe. Netwerk24 het in September 2018 berig oor ’n leerling wat in hegtenis geneem is nadat hy ’n vuurwapen op ’n onderwyser gerig het.

Tseliso Ledimo, Sadou se hoofsekretaris in Gauteng, sê by navraag leerlinge het reeds genoeg gely, daarom keer die onderwysers nou terug skool toe. Hy het bevestig dat die sewe onderwysers die afgelope twee jaar elke dag by die onderwysdepartement aangemeld het.

Hy sê Sadou monitor die situasie by die skool.

“ ’n Vlak van normaliteit is by die skool herstel,” sê Ledimo.

Onderwysdepartement ‘werk onverpoos’

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, sê Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, werk onverpoos om die probleme by die skool op te los.

Insinuasies dat hy nie omgee nie, is onwaar.

“Die werklikheid is dat sommige lede van die gemeenskap die rol wat húlle gespeel het in die ontwrigting van die leerlinge se opvoeding moet bevraagteken. Die onderwysdepartement het selfs so ver gegaan om die matrikulante op ’n kamp te neem om op te vang met skoolwerk. Die slaagsyfer het gedaal weens ontwrigtings. Ons hoop dat van daardie ouers wat ontwrigting veroorsaak het, die skade besef en vanjaar die skool normaal sal laat funksioneer,” sê Mabona.

’n Register wat wys dat sommige ouers tydens die eksamen in September 2018 as toesighouers ingestaan het toe onderwysers afwesig was.

Sweetland ontken egter dat ouers die skool ontwrig.

“In die September 2018-eksamen, toe onderwysers afwesig was, het ouers ingestaan en opgetree as toesighouers tydens die eksamen,” sê Sweetland.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê dis ongehoort dat daar in twee jaar geen vordering gemaak is of geen dissiplinêre stappe teen die sewe onderwysers gedoen is nie. Klopper sê hy kan dus verstaan hoekom die skool AfriForum genader het.

“As dit onderwysers van ons unie was, sou ons onmiddellik opgetree het. Ons sou dadelik met ’n proses begin het,” sê hy.

Meer oor:  Sadou  |  Marlon Louw  |  Eldoradopark-Skool  |  Skoolhoof  |  Wrywing  |  Eenheid. Sadou-Onderwysers  |  Stryd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.