Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Emmerstelsel toe nie uitgewis soos beloof

Dis te wyte aan probleme met tenderprosesse dat sy nie haar belofte kon nakom om die emmerstelsel binne ses maande uit te roei nie, sê Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie.

Sy het in Junie verlede jaar aan Rapport se susterskoerant City Press gesê: “Ons sal die emmerstelsels uitroei. Gee ons tyd. Kom oor ses maande na ons en vra ons oor die emmerstelsel.”

Nou, agt maande later, het haar departement erken meer as 12 000 huishoudings in die land moet steeds emmertoilette gebruik.

Verskeie ANC-politici beloof al sedert 1994 dat die regering emmertoilette gaan uitroei. Thabo Mbeki het byvoorbeeld in 2006, toe hy nog president was, gesê dit sou in 2007 uitgewis wees. Sy opvolger, Kgalema Motlanthe, het ’n soortgelyke belofte gemaak.

In 2014 was nagenoeg 59 000 emmertoilette steeds in gebruik. Sedertdien is byna R3 miljard bestee om dit met spoeltoilette te vervang.

Joleen Steyn Kotze, ’n senior navorser in demokrasie, bestuur en dienslewering by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), sê dis ’n skande dat daar steeds huishoudings is wat gedwing word om emmertoilette te gebruik. “Dit is ’n menseregtekwessie omdat die gebruik van emmertoilette mense se waardigheid aantas. Die regering het ’n morele verantwoordelikheid om dit uit te roei.”

Sy wys uit dat politici nie verantwoordelik gehou word wanneer hulle beloftes hieroor maak en dit nie nakom nie. Volgens haar kan Sisulu nie alleen die skuld daarvoor kry nie.

“Dit wys ook daarop dat munisipaliteite heeltemal disfunksioneel is om die aangeleentheid te hanteer. Hulle is bloot nie in staat om spoeltoilette te lewer nie omdat hulle nie hul toelae vir plaaslike infrastruktuur bestee nie.”

Sputnik Ratau, woordvoerder, sê die departement van water en sanitasie fokus tans daarop om emmertoilette in ses munisipaliteite uit te roei: Tsantsabane (Postmasburg), Siyancuma (Griekwastad) en Sol Plaatje (Kimberley) in die Noord-Kaap; en Setsoto (Ficks­burg), Nketoana (Petrus Steyn) en Tokologo (Hertzogville) in die Vrystaat.

Ratau sê hul poging word in die wiele gery “deels weens die geografiese verspreiding van gemeenskappe en die koste om waterstelsels vir spoeltoilette in afgeleë gebiede op te rig”.

Hy sê dit word bemoeilik weens ’n gebrek aan water in droë gebiede.

“Die departement stel nou alternatiewe oplossings in werking soos om watertenks en herwinningsaanlegte te bou waar water behandel word en as gryswater beskikbaar is vir toilette.”

Volgens Ratau wou die departement oorspronklik emmertoilette met sogenaamde VIP-toilette (geventileerde puttoilette) vervang, maar gemeenskappe het op spoeltoilette aangedring.

“Dit het koste- en tydimplikasies gehad wat daartoe gelei het dat dit langer neem om die aangeleentheid te takel.”

Meer oor:  Lindiwe Sisulu  |  Sanitasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.