Onderwys
Engels, vra UV se taalskimme

Prof. Jonathan Jansen Foto: Conrad Bornman

“Lectures in the majority of the programmes should be in English.”

Dit is die aanbeveling van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se geheime taalkomitee vir die nuwe taalbeleid vir voorgraadse studente.

Engels word ook aanbeveel as die enigste taal op nagraadse vlak en vir die skryf van verhandelings en tesisse – met die enigste uitsondering van verhandelings en tesisse in taalvakke. Huidige studente kan darem hul verhandelings in Afrikaans voltooi.

Hoewel die meeste kursusse vir voorgraadse studente in Engels aangebied moet word, maak hul voorstel vir ’n “veeltalige beleid” voorsiening vir parallelmedium-onderrig (Engels/Afrikaans) vir onderwysstudente wat voorberei word om skool te hou.

Kursusse met baie studente van die platteland wie se Engels swak is, kan hul klasse op eerstejaarsvlak in Afrikaans neem. Ondersteuning sal aan die studente verleen word om hul studies in Engels op tweedejaarsvlak te neem. Daar word darem ’n toegewing wat betref Afrikaans gemaak: Daar moet ’n verbintenis wees om Afrikaans as akademiese taal te ondersteun deurdat Afrikaanse akademiese joernale ondersteun word.

Die UV se senaat gaan vandag hieroor moet stem. Volgens die huidige taalbeleid moet ’n tweederde-meerderheid dit goedkeur.

Die verslag het reeds groot omstredenheid veroorsaak. Volksblad verneem ’n paar lede van die komitee het reeds hieroor bedank.

Prof. Jonathan Jansen het vroeër op ’n konvokasievergadering gesê solank hy by die UV is, is Afrikaans veilig.

Van die ander belangrike aanbevelings is:

  • Engels word ook die UV se administratiewe taal;
  • Engels moet in alle vergaderings gebruik word; dit kan verander na gelang van omstandighede, maar mag niemand uitsluit nie;
  • Wat die studentelewe betref, mag taal nie ingespan word om teen mense te diskrimineer, te isoleer, uit te sluit of te kleineer nie.

’n Peiling op al drie kampusse het bevind dat 48,9% van studente en personeel ten gunste van parallelmedium-onderrig is en net 37,7% vir Engels alleen gestem het. Dié uitslag is nie volledig in die verslag ingesluit nie. Die verslag getiteld Facilitation of the review of the UFS language policy is Woensdag aan senaatslede gestuur.

Dionne van Reenen, navorser aan die UV se Instituut vir Versoening en Sosiale Geregtigheid, is die voorsitter van die taalkomitee. Sy beman die instituut se transformasielessenaar met geen bewese kundigheid oor taalbeplanning nie.

Lacea Loader, direkteur: kommunikasie en handelsmerkbestuur, het vandeesweek gesê die verslag van die taalkomitee word op 4 Desember aan die UV-raad vir bespreking en goedkeuring voorgelê.

Sy het gesê die toepassing van moontlike aanbevelings van die taalkomitee sal deel van die verslag vorm. Aangesien hierdie ’n interne proses is, sal die media nie na die onderskeie vergaderings genooi word nie.

Hoewel die aanbeveling is dat voorgraadse studente meestal kursusse in Engels volg, lui die voorstel dat ’n “nuwe taalbeleid ontwikkel word wat veeltaligheid as vertrekpunt aanvaar wat Engels, Afrikaans, Sesotho en isiZulu erken ingevolge die kampusse se behoeftes”.

Die taalkomitee stel voor dat die UV ’n hernude poging in taalontwikkeling voorgraads aanwend “om seker te maak dat alle UV-studente ’n kans het om op universiteit suksesvol te wees, ongeag die beperkinge van hul skoolonderrig”.

Tutoriale vir kleiner groepe sal in Afrikaans en Engels kan wees met ondersteuning in ten minste Sesotho en isiZulu.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Volg Netwerk24