Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Enock: Seuns wat alarm maak, geïgnoreer

Drie gr. 8-seuns wat saam met ’n medeleerling van Parktown Boys’ High was toe hy op ’n oriënteringskamp verdrink het, is glo geïgnoreer toe hulle dadelik daaroor alarm gemaak het.

Enock Mpianzi

Dit was nadat die drie as “moeilikheidmakers” gebrandmerk is omdat hulle wou weet of die kos wat op die kamp voorsien is halaal is.

Dit het Vrydagaand geblyk op ’n vergadering tussen Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, en ouers.

Die 13-jarige Enock Mpianzi se liggaam is ’n week vroeër in die Krokodilrivier naby die Nyati-oord naby Brits gekry nadat hy vermoedelik al die vorige dag verdrink het.

’n Seun wat ook op die kamp was, het aan Eyewitness News (EWN) vertel hy en ’n vriend het Enock voor hul vertrek by die skool ontmoet.

Op die kamp, die Woensdag, moes hulle draagbare maak met houtpale en skoenveters. Die instrukteurs (geen onderwysers was by nie) wou weet wie kan swem en wie nie. Enock het te kenne gegee hy kan swem. Toe moes een van die seuns in elke groep as “beseerde” bo-op die draagbaar lê, waaronder ’n rubberband vasgemaak is, en die res van die groep (van dié wat kan swem) moes dit deur die rivier vat.

Volgens die seun het sy groep se draagbaar gebreek. Toe hy Enock laas gesien het, het dié in die water gespartel.

Die rivier het die seuns meegesleur, maar kamppersoneel het hulle uit die water gehaal.

Volgens die seun het hy daarna vir die personeel en onderwysers gesê Enock is weg, maar hul reaksie was dat Enock by ’n ander groep is of dat hy glad nie kamp toe gekom het nie. Eers Donderdagoggend het dit tot hulle deurgedring dat hy regtig weg is.

Lesufi het Vrydag aangekondig die skoolhoof, Malcolm Williams, is geskors. In die brief waarin Williams van sy voorgenome skorsing verwittig word, word hy daarvan beskuldig dat hy Enock se lewe in gevaar gestel het deurdat die seun aan gevaarlike bedrywighede deelgeneem het sonder die nodige veiligheidsmaat­reëls. “Die departement meen dat u teenwoordigheid by Parktown Boys’ High School die tugprosedure in die wiele kan ry.”

Die EFF en die Menseregtekommissie snoer nou kragte saam om regstappe teen die skool, die onderwysdepartement en die Nyati-oord te doen.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi, wat die EFF verteenwoordig, sê die feit dat die gesin vrywaringsvorms onderteken het, kan nie as verdediging gebruik word nie.

“As ek vir jou sê ek is nie aanspreeklik nie, beteken dit nie dit maak nie saak as ek jou in ’n sloot stamp nie. Jy kan jouself nie teen jou eie nalatigheid vrywaar nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.