Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Enock: ‘Skole mag Nyati-boskamp nie meer besoek’ – Lesufi

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het Woensdagaand gesê skole sal voortaan nie meer van die Nyati-boskamp naby Brits se fasiliteite gebruik maak nie.

Enock Mpianzi het op 15 Januarie hier verdrink tydens die Parktown Boys’ High School se oriënteringskamp vir gr. 8-leerlinge. Sy lyk is op 17 Januarie gevind.

Lesufi het Woensdag die inhoud van ’n verslag aan ouers van die skool bekend gemaak wat hy ná Enock se dood van die Harris Nupen Molebatsi-regsfirma aangevra het.

Die Mpianzi-familie het Donderdag aan Netwerk24 gesê hulle gaan siviele en strafregtelike klagte indien teen al die partye wat in die verslag geïmpliseer word.

Yves Kadilo, Enock Mpianzi se broer, op ’n besoek aan die oord waar sy broer dood is. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Onder meer die Nyati-boskamp word in die verslag van nalatigheid beskuldig.

“Ons sal dit voortaan aan alle skole kommunikeer dat die gebruik van die fasiliteit (Nyati) gestaak is,” sê Lesufi.

Hy het ook verwys na die drie vorige sterftes by die kamp en gesê dit sal ondersoek word.

Daniël Eloff, Nyati se regsverteenwoordiger, sê hulle gaan nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie.

Die skool is ook van nalatigheid aangekla rakende die teenwoordigheidslyste, die wateraktiwiteit in die rivier, en die magtiging van die onderwysdepartement vir die leerlinge om wel die kamp te mag bywoon.

Die departement kommunikeer tans met die skool oor die nodige tugprosesse. Ons hoop om al die aanbevelings in die verslag binne die volgende twee weke af te handel.
Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys.

Nalatigheid deur die skool, sy beheerliggaam en van sy onderwysers is ook in die verslag uitgewys.

“Die departement kommunikeer tans met die skool oor die nodige tugprosesse. Ons hoop om al die aanbevelings in die verslag binne die volgende twee weke af te handel,” sê Lesufi.

Strafregtelike stappe is volgens die verslag reeds teen die betrokke onderwysers gedoen.

Die LUR sê skole sal voortaan ook bewys moet lewer dat hulle reeds die plek besoek het waar hulle ’n kamp wil hou wanneer hulle by die departement daarvoor aansoek doen.

Parktown Boys’ High het Donderdag in ’n verklaring gesê hulle steun die besluite van die onderwysdepartement.

“Die skool rou steeds en ons fokus ons aandag op ons leerlinge, personeel, die onderwysers en die Mpianzi-familie,” lui die verklaring.

Die skool het nie Netwerk24 se navraag oor die skorsing van die beheerliggaam of die betrokke onderwysers beantwoord nie.

Die onderwysdepartement is ook van nalatigheid beskuldig aangesien hy nie die aansoekvorm vir die hou van die kamp betyds verwerk of goedgekeur het nie. Die departement het reeds in Februarie amptenare in dié verband geskors.

Vakbonde sê skole kan ook ’n belangrike les uit dié voorval leer. “Die onderwysdepartement is laks met hul antwoorde op die aansoeke (vir kampe), maar skole sal moet besef dat hulle in die toekoms nie die departement se stilte as implisiete goedkeuring kan aanvaar nie,” sê Chris Klopper, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie.

Paul Colditz, hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, sê die departement kan ’n lys met kampe uitreik wat aan die nodige veiligheidsmaatreëls voldoen. Hy sê wel dat skoolkampe nie net tot die kampe op die lys beperk moet word nie, “want dit maak die deur oop vir korrupsie”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.