Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Entstowwe vir onderwysers amper hier

Die verspreiding van entstowwe vir onderwysers sal vandeesweek begin sodat die onderwyssektor na “normaliteit” kan terugkeer.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, het die aankondiging van die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, verwelkom dat die verspreiding van die Johnson & Johnson (J&J)-enkeldosisentstof vir onderwysers vandeesweek begin.

Luidens die Wes-Kaapse onderwysdepartement is hy besig om die plan vir die verspreiding van die entstowwe te finaliseer en sal hy Maandag met skole kommunikeer oor wat dit behels.

Daar is 29 plekke waar onderwysers ingeënt kan word en hulle sal van die datum, tyd en plek in kennis gestel word.

Volgens die onderwysdepartement sal hy so gou as moontlik die presiese datums gee omdat die datum vir wanneer die entstowwe afgelewer word, nog nie bevestig is nie.

Schäfer sê die entstowwe is belangrik in die geveg teen die virus en om enige verdere onderbrekings in die skoolkalender te verhoed.

“Die impak van die verlies die afgelope jaar word deur die leerlinge en die ekonomie gevoel,” sê Schäfer.

Om personeellede in te ent sal voorkom dat hulle siek word en sal die skoolomgewing veiliger maak, wat normaliteit sal teweegbring, sê Schäfer.

Die onderwysdepartement het saam met die nasionale gesondheidsdepartement beplan aan die aankondiging en skole is reeds op 9 Junie daarvan in kennis gestel.

Brent Walters, hoof van die onderwysdepartement, het in ’n kennisgewing die plan met skole gedeel en hoe onderwysers intussen hulself kan voorberei.

Die departement het ook inligtingsessies aangebied.

“Ons is tevrede met die plan,” sê Walters

Volgens hom is dit ’n groot stap om verlore skooltyd in te haal en beter geleenthede vir leerlinge te skep.

Intussen het Alan Winde, premier, gesê die provinsie is slaggereed vir die derde vlaag met genoeg hulpbronne om gesondheidsorg te verskerp waar nodig.

“Die gesondheidsorgstelsels sal risiko’s kan identifiseer en voldoende reageer,” sê Winde.

Tans is die provinsie se bedkapasiteit op 85%, maar dit kan verhoog word. Afrox het ook bevestig hy sal meer suurstof aan hospitale verskaf.

Winde sê gesondheidswerkers se veiligheid is in dié stadium van uiterste belang en word geprioritiseer.

In die Wes-Kaap is 717 ekstra gesondheidswerkers en ondersteuningspersoneel aangestel en ’n databasis is begin om rekord te hou van diegene wat aangewys is om die entstowwe toe te dien. Hierdie mense werk almal in die gesondheidsektor.

Op 16 Junie is daar 5 297 mense geïdentifiseer, van wie 3 398 reeds ekstra opleiding van die departement ontvang het.

Winde sê 66,12% van die gesondheidswerkers is ingeënt.

• Intussen het John Steenhuisen, DA-leier, Sondag bekend gemaak hy en dr. Ivan Meyer, LUR vir landbou en voorsitter van die DA se federale raad, sal Maandag die vooruitsig van landbou in die provinsie by die D’Aria-landgoed in Durbanville bespreek.

Volgens Steenhuisen het die voortslepende inperkingsregulasies en die moontlikheid van grondonteiening sonder vergoeding ’n groot impak op die landbousektor, veral op die wynbedryf in die Wes-Kaap.

Die geleentheid begin om 18:00.

Meer oor:  Debbie Schäfer  |  Entstowwe  |  Koronavirus  |  Wes-Kaap  |  Pandemie  |  Inentings  |  Covid-19  |  Onderwyser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.