Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Equal Education bekommerd oor verlore skooltyd

Die drukgroep Equal Education (EE) deel die kommer van Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, oor baie onderrigtyd wat weens Covid-19 verlore gegaan het.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. Foto: Elizabeth Sejake

Motshekga het Saterdag op ’n mediakonferensie, toe sy aangekondig het dat skole gereed is om Maandag te heropen, die situasie as “katastrofies” beskryf.

Hoërskole sal steeds onbepaald ’n roterende rooster gebruik, hoewel die plan voorlopig is dat alle laerskole op 2 Augustus na volle kapasiteit sal terugkeer.

Dit sal die eerste keer sedert Maart 2020 wees dat alle laerskoolleerlinge weer elke dag mag skoolgaan.

Volgens Motshekga beplan die departement al drie maande aan die volle heropening van laerskole, en sal hy sy bes doen om te verseker dat maatreëls, soos die behou van ’n veilige afstand tussen individue, toegepas word.

“Die gesondheid en veiligheid van leerlinge kom eerste, maar die gevolge van Covid-19 is verwoestend.”

EE het Saterdag in ’n verklaring gesê navorsing wys dat leerlinge oor die land heen sedert 2020 tussen 70% en ’n volle jaar van studie verloor het.

“EE se hoërskoollede het al herhaaldelik die baie ernstige uitdagings verduidelik en die stres wat veroorsaak word deur gedwing te word om tuis te leer.”

Volgens EE het die jongste Nids-Cram-navorsing (National Income Dynamics Study – Coronavirus Rapid Mobile Survey) gewys dat baie leerlinge, veral leerlinge in gr. 10 tot gr. 12, nie vanjaar teruggekeer het skool toe nie en dat daar sedert die aanvang van die pandemie 500 000 méér leerlinge buite die skool is.

EE is beïndruk met die inenting van 517 000 onderwysers en ander skoolpersoneellede as deel van die sektorale benadering van die nasionale inentingsprogram.

“Veels geluk aan die departement van onderwys vir sy poging, wat sal help om skole en gemeenskappe te beskerm en om vrese te besweer oor die verspreiding van Covid-19, terwyl verseker word dat onderwys kan voortgaan,” lui die verklaring.

Jaco Deacon, adjunk- uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê heelparty skole waar Covid-19-maatreëls gehandhaaf kan word, het al lankal met die departement gereël om die gewone roosters te hervat.

Motshekga het op die mediakonferensie bekend gemaak dat 137 skole, drie onderwysgeriewe en agt kantore in KwaZulu-Natal tydens die onlangse onluste deurgeloop het.

In Gauteng is 11 skole gevandaliseer, en altesaam beloop die skade na raming R300 miljoen.

Simone Geyer, adjunk-direkteur-generaal van die departement, het gesê daar is planne om mobiele klaskamers op te rig sodat leerlinge kan skoolgaan.

Skole en provinsies is in verskillende stadiums van gereedheid om leerlinge Maandag ná afloop van die wintervakansie terug te verwelkom.

Daar sal gefokus word op maatreëls soos die verskaffing van water en maskers aan skole en die handhawing van ’n veilige afstand.

Meer as 47 000 mense is aangestel om sifting by skole te doen voordat leerlinge en personeel ’n skoolterrein betree. Termometers is aan alle skole verskaf.

Motsheka het voorts gepraat oor die voorlopige 2023-skoolkalender wat gepubliseer is, en waarop die publiek kommentaar kan lewer.

“Die aanvullende eksamens, wat basies ’n tweede geleentheid is om die matriek-eindeksamen te skryf, sowel as ’n geleentheid vir ouer volwassenes om matriek te behaal, is intussen voltooi.

“Meer as 700 000 antwoordstelle is nagesien. Die standaardisering sal in Augustus gedoen word en die uitslae sal op 24 Augustus bekend wees.”

Meer oor:  Equal Education  |  Jaco Deacon  |  Angie Motshekga  |  Covid-19  |  Skole  |  Skooljaar  |  Vlak 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.