Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Eredoktors-graad aan prof ‘wys NWU se taalverbintenis’
Dr. Bertus le Roux van die Noordwes-Universiteit hang die skouerband om dr. Ena Jansen by die toeken van haar eredoktorsgraad in Oktober.

’n Enorme eer.

Dís hoe prof. Ena Jansen voel oor die eredoktorsgraad wat die Noordwes-Universiteit (NWU) in Oktober aan haar toegeken het.

Wannie Carstens, haar erepromotor en voormalige direkteur van die NWU se skool vir tale, sê die NWU wys met dié toekenning dat die universiteit hom sigbaar tot Afrikaans verbind.

Jansen, ’n gesoute akademikus, is spesifiek vereer vir haar groot bydrae om Afrikaans in die Lae Lande (Nederland en België) te bevorder, veral ná die apartheidsjare.

Sy het Woensdag vertel haar aktiewe rol om die Zuid-Afrikahuis (ZAH) in Amsterdam te red, was een van die hoogtepunte in haar vrugbare loopbaan. Die ZAH het die grootste biblioteek met Suid-Afrikaanse boeke in Europa.

“Die ZAH was vir my ’n belangrike plek vandat ek in 1974 in Nederland gaan studeer het. Ek het my

daarom hand en tand verset toe die bestuur wat die historiese pand beheer (in 2012) gedreig het om dit te verkoop.”

Jansen was in daardie stadium besondere hoogleraar van Suid-Afrikaanse taal, geskiedenis en letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam. Sy het dié gesogte pos van 2003 tot haar aftrede in 2016 beklee.

Met die bedreiging van die ZAH destyds, het Jansen haar vaardighede as oudjoernalis ingespan. Sy het deur middel van artikels en onderhoude Suid-Afrikaners se aandag gevestig op die belang van die ZAH as “ ’n plek met hoë erfgoedwaarde as die belangrikste ontmoetingsplek vir Suid-Afrikaners in Nederland”.

Prof. Ena Jansen met die toekenning van die eredoktorsgraad. By haar is van links proff. Rantoa Letsosa, waarnemende uitvoerende dekaan van die NWU se fakulteit teologie, Refilwe Phaswana-Mafuya, adjunkvisekanselier: navorsing en innovasie, en Wannie Carstens, voormalige direkteur van die NWU se skool vir tale.

Ná onder meer petisies wat hieruit voortgevloei het, het Naspers (in die naam van Die Burger) geld beskikbaar gestel om die huis te red en mede-eienaar van die gebou geword.

Vandag gebruik akademici én lesers wat in Afrikaans en Suid-Afrika belangstel die huis se biblioteek, argief en ontmoetingsruimte. Daar is nou ook ’n woonstel in die huis waar Naspers-joernaliste op ’n roterende grondslag woon om hul joernalistieke ervaring in Europa te verryk.

“Die voortbestaan van die ZAH in gemoderniseerde vorm is die kroon van my werk in Amsterdam,” het Jansen Woensdag gesê. “Dit lê my na aan die hart omdat ek (in die 1970’s) tien jaar lank Die Burger en ander Naspers-koerante se buitelandse korrespondent in die Lae lande was.”

Jansen was tot 2001 verbonde aan Wits se departement Afrikaans en Nederlands. By die Universiteit van Amsterdam het sy 15 jaar lank lesingsreekse oor die Suid-Afrikaanse letterkunde gegee en talle meesters- en doktorsgraadstudente begelei.

“Ek was die eerste post-apartheid hoogleraar en het ’n groot taak gehad om belangstelling in Afrikaans te vestig. Dit was ’n enorme voorreg om die werk te kan doen. Ek was op die regte plek op die regte tyd.”

Jansen het ook verskeie boeke, akademies en literêr, geskryf. Sy woon in Amsterdam, maar besoek Kaapstad gereeld.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.