Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Erge stres, depressie hou helfte van skool se onnies by huis

Die situasie by die Glenview Primary School in Alberton, Gauteng, het só handuit geruk dat meer as die helfte van die skool se onderwysers verlede week op een slag op verlof was weens onder meer depressie en erge stres.

Die Glenview Primary School in Alberton. Foto: Elizabeth Sejake

’n Senior amptenaar van die departement van basiese onderwys het aan Rapport gesê minstens 20 van die 37 onderwysers is so gedreig en geïntimideer deur ’n departementshoof by die skool dat hulle afgeboek is.

Die amptenaar sê die departementshoof is ’n lid van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou).

Tientalle klagte is al teen die departementshoof ingedien, maar niks het gebeur nie.

Rapport het drie van die onderwysers se siekbriewe onder oë gehad. Hul is onderskeidelik afgeboek vir matige depressie en angs, erge stres en angs, en akute stres. Hul is afgeboek van 6 en 7 Maart tot tussen 13 en 15 Maart.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement, sê al 20 onderwysers het kennisgewings gekry om redes te verskaf waarom hulle nie van wangedrag aangekla moet word nie.

“Hoe kan so baie van hulle en op een slag afgeboek wees? Ons moet dit ondersoek,” sê Mabona.

Onderwysers wat by die skool was, het glo toesig gehou oor die leerlinge.

Mabona sê dié massa-afwesigheid moet ondersoek word in die lig van ’n dispuut tussen ’n departementshoof by die skool en die hoof van die skool.

Die departement oorweeg “die voorlopige skorsing of oorplasing van die departementshoof.”

Die amptenaar, wat nie geïdentifiseer kan word nie omdat amptenare nie met die media mag praat nie, het die departementshoof as Denise Potgieter geïdentifiseer.

Onderwysers by die skool beweer sy het haar oog op die hoof, Tommie Stoltz, se pos.

Stoltz is vroeër vanjaar by twee geleenthede in hegtenis geneem – eers op 30 Januarie weens die beweerde diefstal van skoolgeld van R1 750 en toe op 5 Februarie vir onder meer crimen injuria, ’n klag wat Potgieter ingedien het.

Stoltz het by navraag die bewerings ontken, maar wil op regsadvies nie verder kommentaar lewer nie.

Rapport se bron sê die departement self ondersoek Stoltz nie vir enige ongerymdhede nie.

Stoltz is ook van 7 Maart afgeboek en kry sielkundige behandeling.

Rapport het Potgieter genader vir kommentaar, maar sy het nie reageer nie.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, sal na verwagting met Stoltz, die beheerliggaam van die skool en ouers vergader wanneer die tweede kwartaal begin.

Meer oor:  Steve Mabona  |  Alberton  |  Onderwysers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.