Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Fedsas wil hof toe oor skole se watertoevoer

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) gaan Donderdag die hooggeregshof in Bloemfontein nader vir ’n dringende hofbevel as skole in die stad se watertoevoer steeds afgesny is.

Dr. Jaco Deacon Foto: Netwerk24

Fedsas skryf in ’n brief wat aan adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder van die Mangaung-metro, gerig is en deur dr. Jaco Deacon, adjunk- uitvoerende hoof van Fedsas, onderteken is: “Ons skryf namens alle lede-skole van Fedsas in Bloemfontein.”

Deacon sê dit het onder Fedsas se aandag gekom dat die Vrystaatse departement van openbare werke nie die erfbelasting van skole betaal het nie.

“Daarom eis die metro nou dat die skole onmiddellik die agterstallige erfbelasting moet betaal en is die skole se watertoevoer afgesny. Dié optrede is onwettig,” sê Deacon.

Hy wys op wetgewing wat die minister in die Staatskoerant laat afkondig het, waarkragtens vanaf 1 September 1997 alle grond en geboue wat deur staatsgefinansierde skole gebruik word, se eienaar die staat is en dat erfbelasting van die skole gevolglik deur die staat, en meer spesifiek die departement van openbare werke, betaal moet word.

Deacon sê ook in sy brief omdat art. 21-funksies aan die skole toegesê is, is die skole verantwoordelik vir die betaling van dienste wat die munisipaliteit lewer soos die betaling van water, wat die skole wel doen.

“In die lig van bogenoemde, vra ons dat die munisipaliteit op ’n dringende basis die probleem met die departement van openbare werke sal oplos om toe te sien dat erfbelasting deur die departement betaal word.”

Deacon sê Fedsas vra verder dat die munisipaliteit dringend die watertoevoer na Bloemfonteinse skole sal herstel waar dit weens agterstallige erfbelasting afgesny is omdat skole nie vir die betaling daarvan verantwoordelik is nie.

Waar die skole wel met hul waterrekening agterstallig is, word gevra dat die metro die skole kans gee om met hulle oor betaling te onderhandel om reg te laat geskied aan kinders se grondwetlike reg op basiese onderwys.

Deacon sê as die water by skole teen Donderdag wanneer die skooldag begin, nie herstel is nie, sal Fedsas geen ander keuse hê nie as om vir ’n dringende hofbevel deur die hooggeregshof in Bloemfontein te vra sodat skole se watertoevoer herstel kan word.

Indien nodig, sal ’n kostebevel ook teen die munisipale uitvoerende beamptes en amptenare in hul persoonlike hoedanigheid bekom word.

* Intussen sê Qondile Khedama, die metro se hoofbestuurder van kommunikasie, dit is waar dat die metro voortgaan om inwoners, sakeondernemings, staatsdepartemente en skole se watertoevoer af te sny weens wanbetaling waar verbruikers langer as 60 dae agterstallig is.

“As skole se erfbelasting deur die departement van openbare werke aan ons betaal moet word, moet hulle toesien dat die departement ons betaal.

“Ons vra ook alle verbruikers om so gou moontlik hul agterstallige skuld te betaal, of waar moontlik ’n reëling oor afbetaling met die metro te kom tref.

“As verbruikers dit nie doen nie, kan dit daartoe lei dat hul water afgesny word.”

Khedama sê by navraag in dié stadium skuld Bloemfontein se inwoners die metro meer as R2,7 miljard vir munisipale dienste, sakeondernemings skuld meer as R1 miljard, die staat byna R687 miljoen en diverse skuldenaars R76 miljoen. Dit is ’n totaal van sowat R4,6 miljard

Meer oor:  Fedsas  |  Bloemfontein  |  Mangaung  |  Skole  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.