Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
#FeesMustFall: Kampusse word bakens van protes
#FeesMustFall: Min Suid-Afrikaners sal Oktober 2015 ooit vergeet. Die land is byna tot stilstand gedwing deur betogings op kampusse oor Suid-Afrika heen waarin studente daarop aangedring het dat daar in 2016 ’n 0%-toename in studiegeld moet wees.

14 Oktober – Die jaar van die student

Studente het voor die parlement in Kaapstad betoog om antwoorde te kry op hul eise. Foto: Jaco Marais

Die universiteitlandskap in Suid-Afrika het onherroeplik verander toe Chumani Maxwele vanjaar ontlasting oor Cecil John Rhodes se standbeeld by die Universiteit van Kaapstad gegooi het.

Studente sou die res van die jaar die verandering wat hulle wou hê, eis – sonder skroom of om jammer te sê.

Rhodes het uiteindelik geval en daarna het #OpenStellenbosch uitgevaar teen die taal en kultuur by Maties in #Luister.

Dit was egter die studente van die Universiteit van die Witwatersrand se #FeesMustFall-beweging wat die land se universiteite uiteindelik verlam het weens hul woede omdat onbekostigbare universiteitsgeld die armstes uitsluit. Dit sou na byna elke tersiêre instelling in die land oorspoel.

Woensdag 14 Oktober was nie veronderstel om die begin van die grootste studentebetoging sedert 1976 te wees nie.

Prof. Adam Habib het daardie Woensdag op ’n vliegtuig Durban toe geklim om deel te wees van dr. Blade Nzimande se beraad oor transformasie in hoër onderwys.

“Hy het gedink die betoging gaan net soos gewoonlik twee uur duur,” het menige student gespekuleer oor hoe die visekanselier net kon vertrek terwyl sy universiteit deur omtrent ’n duisend woedende studente vir hom gesluit is.

“Being intelligent is not good enough if you are poor,” is die hart van hul saak daardie dag op ’n pamflet, wat by Wits versprei is, aangehaal.

Die Donderdagaand is daar aangekondig Habib klim die eerste ding Vrydag op ’n vliegtuig.

Sy universiteit sou eers sowat drie weke later weer oopmaak.

Die parlement se trappe sou die eerste keer op 21 Oktober 2015 met traangas, rubberkoeëls en skokgranate versier word.

Die Uniegebou se grasperk sou brand terwyl duisende studente vir die polisie weghardloop en daar selfs vir Gwede Mantashe, die ANC se hoofsekretaris, gesê is om te sit. (Al het hy uiteraard nie daaraan gehoor gegee nie.)

Teen daardie tyd het ’n groot aantal van die land se tersiêre instellings reeds gaan stilstaan in wat ’n onregeerbare Oktober geword het.

In retrospek het Shaeera Kalla, Wits se uitgaande studenteraadvoorsitter wat die betoging by Wits gereël het, gesê hulle sou nooit in hul wildste drome dié “veldbrand” kon voorsien nie.

Uiteindelik het die studente se protesbeweging meer reggekry op die pad na gratis onderwys as wat die ANC sedert 1994 kon doen.

’n Akademikus by Wits het tussen die massas studente deur een dag aan Netwerk24 gesê dat dit insiggewend is dat die generasie van 2015 in sy wese teen die generasie van 1976 opstaan.

15 Oktober – Nou gaan jy luister, Prof – die dag toe die visekanselier van ’n topuniversiteit aangesê is om te sit

Prof. Adam Habib het in ’n pak, met sy sonbril op en met saamgeperste lippe op Vrydag 15 Oktober in die versengende Johannesburgse hitte tussen honderde woedende studente nie ’n woord ingekry nie.

Sy studente het hom in die son laat staan, hy moes die mikrofoon vir Nompendulu Mkatshwa, een van Wits se leiers, vashou en hy het nie ’n kans gekry om ’n woord te sê nie.

Habib moes luister – iets wat hy in daardie eerste twee dae nog glad nie gedoen het nie.

Hulle het uiteindelik uit die son beweeg om verder met hul visekanselier te onderhandel.

Waar die studente die Woensdag nog bereid was om ’n 6%-verhoging te aanvaar as kompromis, het Habib se stilte hulle woedend gemaak. Die boodskap was duidelik – 0% of niks. Verder het die lys vereistes gegroei. Kontrakwerk moes stop en hul uiteindelike doel is gratis onderwys vir almal.

Toe die studente begin beweeg, is Habib nie werklik ’n keuse gegee oor of hy saam gaan stap na die universiteit se Senate House, oftewel die herdoopte Solomon House nie.

Die massas het hom vergesel en Habib is aangesê om op Senate House se vloer tussen die studente te sit.

Min wetend dat hy deurnag sou moes onderhandel om uiteindelik huis toe te kan gaan.

Die omstrede Mcebo Dlamini, geskorste studenteraadsvoorsitter vir 2014-’15, het tesame met die EFF-leier by Wits, Vuyani Pambo, Kalla en Mkatshwa vir Habib op die grond aangesê om die lede van die raad se uitvoerende komitee te bel nadat dit duidelik geword het Habib kan nie self besluit oor die 0%-verhoging nie.

Die een ná die ander lid is gebel met die foon wat op luidspreker gestel is met nog ’n luidspreker daarop gerig sodat die studente kon hóór wat daar gesê word.

Ná ure is dit aangekondig – die uitvoerende komitee gaan vergader en die raadsvoorsitter is op ’n vliegtuig terug Johannesburg toe.

Uiteindelik is die studente ernstig opgeneem. Daar is deurnag onderhandel, en die studente en die uitvoerende komitee het eers om 05:30 daardie Saterdag tot ’n vergelyk gekom.

Die mag het voelbaar na die studente verskuif.

Wat niemand daardie Vrydag sou kon voorspel nie, is dat die universiteit eers sowat drie weke later weer sy deure sou oopmaak met die eksamen wat uitgestel is terwyl ’n wolk oor 2016 hang.

Honderde studente het by Tukkies in Pretoria gestaak oor klasgeld. Foto: Herman Verwey

23 Oktober – Binne vergader die president en buite brand die grasperk wyl Nelson Mandela toekyk

Met Nelson Mandela, die oorlede vader van ’n reënboognasie se arms oor Pretoria gesprei, het die kinders vir wie hy geveg het tussen traangas, rubberkoeëls en skokgranate pad toe gehardloop om weg te kom van die polisie op Vrydag 23 Oktober 2015.

Duisende studente uit verskeie universiteite in die noorde van die land het daar bymekaargekom op die grasperk van die Uniegebou om te hoor wat die president vir hulle te sê het.

Die mobiele verhoog waarop Zuma die studente moes toespreek was omhein en die polisie het gereed gestaan.

Dit is van die begin af duidelik gemaak: ’n 0%-verhoging of ons gaan voort om die land onregeerbaar te maak.

Studente-betogings oor Suid-Afrika heen het die land aangegryp. Hier het studente deur die hekke van die Parlementêre Kompleks na die Nasionale Vergadering gestorm. Foto: Jaco Marais

En ’n klein groep van die derduisende studente het dit inderdaad reggekry om die polisie te tart en uiteindelik ’n reaksie gekry. Studente moes hardloop om skuiling te soek teen die traangas en rubberkoeëls.

Te midde van die chaos het Zuma uiteindelik ’n aankondiging in ’n nuuskonferensie gedoen.

Die 0%-verhoging waarvoor studente baklei, gemarsjeer en gesing het, is goedgekeur.

Ongelukkig het die studente nie onmiddellik geweet die stryd is gewonne nie.

Van die studente met wie Netwerk24 destyds gepraat het, het nie geweet die president het pas gehoor gegee aan hul eise nie.

Daar is gedink die nuus is bloot ’n gerug.

Die opgewondenheid was by sekere mense egter gedemp – hulle wou dit self van Zuma hoor.

Minute ná die aankondiging het ’n chaos uitgebars toe die polisie in volle gang die Nyalas laat kreun het, die rubberkoeëls laat klap het en studente onder ’n wolk traangas laat uithardloop het.

Tokologo Ngakane (26) het daardie dag in haar Sasco-hemp na die studente gesit en kyk. Sy is Tuks-alumni en het saamgestap.

Sy het gesê sy verstaan nie hoekom daar soveel woede is nie, maar meen die ANC moet bekommerd wees.

“Dit is in ’n mate waarskuwingskote,” het sy dit opgesom.

“As hulle nie gaan lewer wat hulle belowe nie, gaan dit weer gebeur.”

Terug by die Uniegebou het ’n paar polisiebeamptes op die bankies gesit en afkyk oor Pretoria. Hulle was moeg.

Waar daar daardie Vrydag ’n chaos was, was die grasperk laatmiddag byna leeg en besaai met rommel, klippe, traangasblikkies en rubberkoeëldoppies – die enigste teken van die generasie van 2015 wat, soos die studente in 1976, opgestaan vir wat hulle glo reg is.

Een plakkaat wat daardie dag agtergebly het, het gelui:

“We can no longer afford to be the future.”

2016 – Gratis onderwys?

Hoewel die meeste universiteite reeds gehoor gegee het aan die studente se eise met betrekking tot die einde van werkers wat gekontrakteer word en al is daar ’n 0%-verhoging van tariewe landwyd aangekondig, moet die vraag gevra word: Hoe vinnig en hoe hard gaan daar baklei word totdat die ANC se eertydse beloftes van gratis onderwys ’n werklikheid word?

Selfs die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het in ’n vergadering met Zuma in Desember gesê daar moet geluister word voordat 2016 weer deur onluste op die land se kampusse gekenmerk word.

Studente van Wits het buite Luthuli-huis bymekaargekom om ’n memorandum aan die regering te oorhandig waarin hulle op ’n 0%-verhoging in studiegeld vir 2016 aangedring het. Foto: Felix Dlangamandla

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier