Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Fokus op grondvlak en steun’ hou meer in skool – WKOD
Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys.Foto: Deon Raath

Fokus op basiese vaardighede in die grondvlakfase en aansienlike steun aan leerlinge het die Wes-Kaap gehelp om die provinsie te wees wat die meeste leerlinge tot matriek behou, volgens die provinsiale departement van onderwys.

Die departement het Donderdag gesê dat hy ook moeite doen om te voorkom dat swakker leerlinge uitgedun word om skole se slaagsyfers sodoende te verhoog.

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys, het die middag benadruk dat hoewel die provinsie die vierde beste slaagsyfer in die land het, het die slaagsyfer steeds toegeneem van 2018 af en het meer leerlinge universiteitsvrystelling behaal.

“Om te sê dat die provinsie ‘agteruitgegaan het’ is dus verkeerd. Die slaagsyfer het gestyg van 81,5% in 2018 tot 82,3% in 2019, en die koers van universiteitsvrystellings – ’n belangriker aanduider van gehalte-onderrig – het ook toegeneem.”

Volgens Schäfer het 21 981 leerlinge universiteitsvrystelling behaal. Dit kom neer op 43,6% in 2019 teenoor die 42,3% in 2018.

Dit is ook die hoogste syfer vir universiteitsvrystellings wat die Wes-Kaap nog behaal het. Die provinsie spog ook met die meeste onderskeidings asook die top-drie-matrikulante landwyd.

“Ek sou beslis graag wou sien dat die Wes-Kaap weer eerste kom, maar ek is baie gelukkig met die uitslae van die afgelope jaar as die moeilike omstandighede waaronder ons werk – soos die toename in mense wat in gr.10 van ander swakker provinsies afkom, dalende begrotings, stygende klasgroottes en sosio-ekonomiese omstandighede wat verswak – in ag geneem word.”

Schäfer sê die belangrikste prestasie is egter dat die Wes-Kaap met ’n koers van 64,3% uit al die provinsies daarin geslaag het om die meeste leerlinge van gr.10 tot gr.12 te behou. “Dit is verreweg die hoogste in die land is.”

Van die 78 302 leerlinge wat in 2017 in gr.10 in staats- en private skole was, het 50 404 uiteindelik die nasionale seniorsertifikaateksamen (NSS) in 2019 afgelê, volgens die provinsiale departement van onderwys (WKOD).

Matrikulante skryf die eindeksamen. Foto ter illustrasie.Foto: Gallo Images

Om dit te behaal het die provinsie daarop gefokus om lees-, skryf- en getalleleer-vaardighede veral in die grondvlakfase van gr.1 tot gr.3 te verbeter.

“Deur die uitkomstes in dié fase te verbeter met ons strategie vir taal en wiskunde, verbeter ons die kanse om leerlinge in die latere grade in die stelsel te behou om uiteindelik matriek te slaag.”

Verder bied die WKOD “aansienlike aandag, steun en remediërende stappe” aan leerlinge wat sukkel en die gevaar loop om uit te val.

Die styging in die slaagsyfers onder skole in die kwintiel een tot drie dui ook daarop dat die provinsie se werk “om die gaping van ongelykheid tussen ons skole te sluit” vrugte afwerp, sê die WKOD.

Dié skole is van die armste en voorheen agtergeblewe wat gewoonlik nie skoolgeld vra nie.

Die heel armste skole in kwintiel een se slaagsyfer het met 1,5 persentasiepunte gestyg en die koers van universiteitsvrystellings met 4,4 persentasiepunte.

In kwintiel twee het die skole se slaagsyfer met 5,8 persentasiepunte toegeneem en die universiteitsvrystellings het ook met 5,8 persentasiepunte gestyg.

In kwintiel drie het die skole se slaagsyfer met 1,9 persentasiepunte en die universiteitsvrystellings met 2,8 persentasiepunte gestyg.

Schäfer het Woensdag in ’n verklaring gesê dat skole in kwintiel een tot drie se slaagsyfer oor die afgelope tien jaar met 16,7 persentasiepunte van 56,7% in 2009 tot 73,6% in 2019 toegeneem het, terwyl skole in kwintiel vier en vyf (wat skoolgeld vra) se slaagsyfer met 2,4 persentasiepunte in dieselfde tydperk gestyg het.

“Terwyl ons erken dat verdere ingrypings en verbeterings nodig is om seker te maak dat alle leerlinge gelyke toegang tot gehalte-onderwys geniet, is daar geen twyfel dat die ongelykheidsgaping krimp nie.”

Die gebruik van veelvuldige eksamengeleenthede het ook ’n beduidende uitwerking op die matriekuitslae, met sommige provinsies waar tot 20% van hul kandidate dié opsie kies en in die Wes-Kaap is dit net 3%, sê Schäfer.

Khalid Sayed, ANC-adjunkhoofsweep in die Wes-Kaapse wetgewer en woordvoerder oor onderwys. Foto: Malherbe Nienaber

“Dit is weer eens die laagste syfer in die land en dui aan dat meer leerlinge die geleentheid gegee word om die volle eksamen te skryf, terwyl ’n slaagsyfer bo 80% behou is. Die belangrike feit is dat die uitslae van die veelvuldige eksamengeleenthede, wat gewoonlik swakker leerlinge tegemoetkom, nie by die slaagsyfer ingesluit word nie.”

Volgens Schäfer kan dit die “kunsmatige voorkoms van verbetering” in die slaagsyfer skep.

Slegs 7,2% van die leerlinge wat die veelvuldige opsie in 2018 gekies het, het ná die tweede eksamengeleentheid in Junie verlede jaar matriek geslaag.

“As dit by die 2018-slaagsyfer ingesluit was, sou die slaagsyfers veel anders gelyk het. Om dié rede is ek bly dat die nasionale minister aangekondig het dat dit die laaste jaar van veelvuldige eksamengeleenthede gaan wees.”

Khalid Sayed, ANC woordvoerder oor onderwys in die Wes-Kaapse wetgewer, het Woensdag egter kommer uitgespreek dat onderwys in die provinsie agteruitgaan omdat die provinsie voorheen die beste uitslae in die land gehad het, insluitend toe die ANC nog aan bewind was.

Lees ook: Gehalte van onderwys ly onder die DA

Hy voer aan dat die top-drie-leerlinge in kwintiel vyf daarop dui “dat die WKOD meer waarde aan die grootliks bevoordeelde (voormalige Model C) skole heg”.

“Die Wes-Kaap het voorheen uitgestaan onder die toppresteerders in die land. Vanjaar het Gauteng sewe van die top-tien-distrikte opgelewer, met twee in die Vrystaat, een in die Noord-Kaap en geen in die Wes-Kaap nie.”

Sayed sê die DA-regering moet met ’n “behoorlike omkeerstrategie” vir onderwys vorendag kom, veral om die uitvalsyfer in die platteland en agterstande wat betref infrastruktuur en instandhouding in townships reg te ruk.

Meer oor:  Debbie Schäfer  |  Skool  |  Matriekuitslae  |  Wkod  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.