Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
FOTO’S: Nog ’n Driehoek-tragedie wat wag?

Die Gautengse departement van onderwys doen niks aan die verkrummelende infrastruktuur by die Ennerdale Sekondêre Skool nie en plaas die 1 200 leerlinge se lewe in gevaar, sê ouers van die kinders.

Ennerdale Sekondêre Skool
Steierwerk by Ennerdale Sekondêre Skool. Foto: Ntwaagae Seleka, News24

Hulle is bang vir ’n katastrofe erger as die een by die Hoërskool Driehoek in die Vaaldriehoek waar ’n loopbrug ineengestort het. Vier leerlinge is dood en 20 beseer in dié voorval.

Ouers in Ennerdale het Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, en die departement uitgelooi omdat daar niks gedoen word nie.

Talle massiewe krake is te sien op twee loopgange wat twee blokke klaskamers met mekaar verbind. Steierpale ondersteun tans die gange.

Bekommerde ouers sê volgens die kinders vibreer die gang as hulle daaroor loop. Boonop wil die eienaar van die steiers sy pale terughê.

Daar is ook ander tekens van verval in die skool.

Die skool se beheerraad sê weens veiligheidsredes word daar net klas gegee aan gr. 12-leerlinge by die skool. Die skool is verder sedert Maandag gesluit.

Leerlinge het Donderdag op die skoolterrein en in die straat rondgeloop tydens ’n besoek van News24.

’n Werknemer van die skool het gesê die kinders kom vroeg skool toe net om blootgestel te word aan gevare terwyl hulle in die strate rondloop. “Sommige van hulle rook en drink omdat hul niks het om te doen nie,” sê die werker.

Ennerdale Sekondêre Skool
Foto: Ntwaagae Seleka, News24

Werkers by die skool het van die loopgange afgesper om te voorkom dat mense daar loop.

Ouers het ’n brief aan News24 gewys van 19 Mei 2016 waarin die twyfelagtige toestand van ’n loopgang uitgewys is. Dit is geskryf deur twee assessors wat ’n inspeksie gedoen het.

Volgens hulle “visuele inspeksie” val die kolomme wat die loopgang moet ondersteun, uitmekaar. “Die gebreekte sementvlak wys daarop dat dit en die kolomme nie behoorlik versterk is nie. Die skool het steiers gehuur om die vervallende sement op te hou,” lui die brief.

Die assessors beveel aan dat die struktuur deur ’n strukturele ingenieur ondersoek moet word.

Volgens die beheerraad het die skool 1 274 leerlinge en vandeesjaar het hul 60 leerlinge met spesiale sorg bygekry.

Die plan is dat is dat dit ’n tegniese beroepskool moet word, sowel as ’n akademiese skool.

Ouers het Donderdagoggend by die skool bymekaar gekom omdat hulle antwoorde wil hê.

Ennerdale Sekondêre Skool
Foto: Ntwaagae Seleka, News24

“Ek is kwaad. Vir vyf jaar het ons gedink die departement sal die skool regmaak, maar hy wil nie. Hulle gaan net optree wanneer ons kinders dood is. Daar is ooreengekom dat ’n blok klaskamers gesluit sal word omdat dit nie veilig is nie,” het Evelyn Seshobela gesê. Sy is die ma van ’n leerling in gr. 11 en het spesiaal die dag by die werk afgevat om haar stem by die skool te laat hoor.

“Ons kinders verloor leertyd. Die regering wil hê ons moet ons kinders dwing om skool toe te gaan, maar nie onder hierdie omstandighede nie. Ek is bekommerd oor die kinders wat die laaste twee weke op straat is. Enigiets kan met hulle gebeur en niemand sal verantwoordelik gehou kan word nie,” sê Seshobela.

’n Gr. 8-leerling sê sy voel of sy skool moet verlaat as die infrastruktuur nie gou reggemaak word nie. Twee ander het gesê hulle kom van Evaton en Orange Farm skool toe, maar dit is tydmors.

“Ek gaan opgee. My jaar is gemors. Ek verloor hoop en voel niemand gee om nie. Ons kom hier om te leer, maar bring die dag op die strate deur of op die skoolterrein,” sê hulle.

Delphine Botha, voorsitter van die beheerkomitee, sê die raad kla al van 1997 toe die eerste krake verskyn het.

“Ons wil hê Lesufi moet optree en vinnig ook. Ons wil hom nie hier sien met baie mikrofone en kameras van die media om trooswoorde te gee sou hier hartseer familie wees nie. Hy moet kom voordat mense doodgaan. Ons wil nie nóg ’n Driehoek-situasie hê nie.

Ennerdale Sekondêre Skool
Foto: Ntwaagae Seleka, News24

“Dié tragiese ongeluk het ons oë wyd oopgemaak en ons simpatiseer steeds met die ouers van die leerlinge wat daar dood en beseer is,” sê Botha.

Jacobus Souls, die skoolhoof, sê die ouers het Donderdag ’n lys van versoeke aan ’n amptenaar van Lesufi se kantoor oorhandig.

“Ons het dit duidelik gemaak dat ons nie leerlinge in die skool gaan toelaat totdat dit veilig is nie. Ons het tydelike strukture nodig of ’n alternatiewe plek waar ons kan onderrig – so gou as moontlik,” sê Souls.

Volgens hom het die departement belowe om binne sewe dae te antwoord en Vrydag inspekteurs te stuur om die gebou te ondersoek.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, sê die departement wil nie die skool sluit nie. Die departement kyk op die oomblik na alle skole wat hul probleme met infrastruktuur aan hulle deurgegee het.

Ennerdale Sekondêre Skool
Foto: Ntwaagae Seleka, News24

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Ennerdale  |  Brugtragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.