Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Gapings tussen universiteite moet vernou word – Nzimande
Minister Blade Nzimande
Minister Blade Nzimande

Die departement van hoër onderwys moet spesiale maatreëls tref om die akademiese jaar te red by heelparty universiteite wat sloer om onderrig doeltreffend te hervat.

Dr. Blade Nzimande, minister van die departement, het Woensdag op ’n mediakonferensie gesê heelparty studente ontvang sedert die staat van inperking in Maart nie voldoende onderrig by ’n paar universiteite nie.

Hy sê die gaping tussen universiteite is so groot dat sommige instellings die huidige akademiese jaar teen November kan voltooi, maar ander eers teen April 2021.

Hy het ook uitgebrei oor die vlak 2-regulasies waarvolgens nog 33% van universiteitstudente hulle van 1 September af mag aansluit by die huidige 33% van studente wat tans op kampusse toegelaat word.

Die studente wat mag terugkeer, sluit in alle eerstejaarstudente. Alle studente wie se kursusse laboratorium- en tegniese toerusting, werk- en eksperimentele onderrig en praktiese plasings behels, mag ook terugkeer.

Die oorblywende 33% van studente, wat sal voortgaan met afstandsonderrig, sal eers kan terugkeer wanneer vlak 1 van die inperking intree.

Nzimande sê instellings sal almal hul eie bedryfsplanne volg om die jongste groep studente in te faseer.

Die departement het universiteite opgedeel in hoë-, medium en laerisiko-groepe op grond van ’n “verskeidenheid aanwysers” soos bedryfskwessies wat bestaan en gesondheidsmaatreëls wat ingestel is.

Alle studente wie se kursusse laboratorium- en tegniese toerusting, werk- en eksperimentele onderrig en praktiese plasings behels, mag ook terugkeer.

Volgens die minister sal spesiale maatreëls ingestel word om te verseker die hervatting van akademiese aktiwiteite by risiko-universiteite word versnel.

“Die departement is tans in verbinding met alle medium- en hoërisiko-instellings sodat daar opgetree kan word en bedryfsvermoëns uitgebrei kan word om ’n suksesvolle voltooiing van die 2020- akademiese jaar te verseker.”

Daar word gefokus om die gaping tussen die onderskeie hoëronderwysinstellings te vernou.

Alle universiteite sal voorlopig eers tussen 15 Maart en 15 April 2021 heropen vir die nuwe akademiese jaar.

Dít sal volgens Nzimande kans gee vir die huidige matriekleerlinge, wat hul matriekuitslae eers op 23 Februarie ontvang, om by tersiêre instellings te registreer.

“Matriekleerlinge moet reeds aansoek doen vir tersiêre studie. Al wat die matriekpunte gaan doen, is om aan te dui vir watter kursusse voornemende eerstejaars aanvaar kan word.”

Alle universiteite sal voorlopig eers tussen 15 Maart en 15 April 2021 heropen vir die nuwe akademiese jaar.

Volgens Nzimande is die tersiêre instellings wat as ’n laerisiko geklassifiseer word, die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie, die Noordwes-Universiteit, Rhodes-Universiteit, die Sol Plaatje-Universiteit, die Universiteit van Kaapstad, die Universiteit van Johannesburg, die Universiteit van KwaZulu-Natal, die Universiteit van Pretoria, Unisa, die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Wes-Kaapland, die Universiteit van die Witwatersrand en die Universiteit van Zoeloeland.

Die universiteite wat medium risiko is, is die Universiteit van die Vrystaat (UV), die Durbanse Universiteit vir Tegnologie, die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, die Universiteit van Limpopo, die Universiteit van Mpumalanga en die Universiteit van Venda.

Die volgende universiteite word as ’n hoër risiko geag: Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, die Mangosuthu-Universiteit vir Tegnologie, die Sefako Makgatho-Universiteit, die Fort Hare-Universiteit, die Vaal Universiteit vir Tegnologie en die Walter Sisulu Universiteit.

Volgens Nzimande kry die departement elke twee weke opdateringsverslae van die onderskeie universiteite en kan bogenoemde klassifikasies uiteraard verander.

Meer oor:  Blade Nzimande  |  Koronavirus  |  Universiteite  |  Studente  |  Terugkeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.