’n Tweeling in twee verskillende skole – 16 km uit mekaar.
Aansoekers vir ’n meisieskool beland in ’n seunskool.

Panyaza LesufiFoto: simon sonnekus
Dit is van die probleme wat by Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), aangemeld is met Gauteng se aanlyn registrasiestelsel vir leerlinge wat volgende jaar in gr. 1 en gr. 8 moet wees.
Sommige ouers het ook gesukkel om op die stelsel in te kom en ander se woonadresse kon nie op die departement se aanlyn kaart opgespoor word nie.
Volgens Klopper het die stelsel onder die volume van gebruikers in duie gestort.
Dit was deur die loop van die dag aan en af.
Die provinsiale onderwysdepartement het vooraf gesê die stelsel kan tot 65 000 mense gelyktydig aanlyn hanteer en hy verwag ’n maksimum van 50 000 gebruikers op ’n slag.

'n Skermgreep van die aanlyn-aansoekportaal.
Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het gister gesê die stelsel was aan die begin ’n bietjie stadig weens “veranderinge wat op die laaste oomblik gedoen is”.
Die stelsel is verlede week aangepas sodat ouers kan sien in watter tale skole onderrig gee.
Daar is volgens hom net sowat 320 000 beskikbare plekke vir 2020.
Juanita Schultz, wat ’n kind vir gr. 8 wou registreer by die Hoërskool Zwartkop in Centurion, sê die proses was “aaklig, glad nie maklik of selfs lekker soos hulle gesê het nie”.
Die aanlyn kaart het hul woonadres nie herken nie en die webwerf het pal uitgesny.
“Heelwat ouers in my omgewing het laat weet dat hulle ook daarmee gesukkel het,” sê sy.
Petro Pienaar, wat haar jongste vir volgende jaar vir gr. 1 wou registreer by die Laerskool Stephanus Roos in Pretoria, is bekommerd omdat sy op die verkeerde waglys geplaas is. Al woon hulle 970 m van die skool, wou die stelsel nie haar huisadres aanvaar nie.
Ander Pretoriase skole by wie probleme aangemeld is, sluit in Pretoria Boys High, die Pretoria High School for Girls, asook die Afrikaanse Hoër Seunskool.
Steve Mabona, woordvoerder van die onderwysdepartement, erken die aanlyn stelsel is by tye stadig.
“Maar dit het vinnig weer reggekom. Die kaarte het baie data gebruik (om te laai). Ons het besef die mense wat WiFi gebruik, sukkel en dié wat selfoondata gebruik, kon regkom,” sê Mabona.
Volgens hom het die departement sowat 200 000 registrasies Maandag ontvang wat “ ’n duidelike teken is dat die stelsel werk”.
“Die departement het meer komplimente as klagtes ontvang oor die aanlyn stelsel.”
Registrasies sluit op 22 Julie.