
Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys.Foto: Mpumelelo Buthelezi
Hoewel jou taal nie voorkeur sal kry as jy in Gauteng vir ’n skool aansoek doen nie, kan jy nou op die stelsel sien watter tale die skool akkommodeer, het Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys, Sondag gesê.
Hy het die media by die Gautengse regeringsgebou in Marshalltown, Johannesburg, verseker dat die departement gereed is vir die aanlyn aansoeke vir gr. 1- en gr. 8-leerlinge in 2020.
Die aansoeke open Maandag om 08:00.
“Ek wil bevestig dat daar geen hangende regstappe teen die departement is nie. Al die partye wat griewe gehad het oor die proses het aangedui dat hulle nou tevrede is,” het Lesufi gesê.
Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) en die burgerregteorganisasie AfriForum het verlede week in ’n brief aan die departement geëis dat leerlinge se taal van onderrig in aanmerking geneem word by die aansoekproses.
Hulle was ook daarteen gekant dat ouers net die skool naaste aan hulle as eerste keuse kon aandui, ondanks die skool se taal van onderrig.
Die departement het Dinsdag in ’n brief aan die SOS bevestig die aansoekproses maak nou voorsiening vir taal van onderrig en bied meer skole om uit te kies in ’n bepaalde voedingsgebied.
“Taal sal egter nie voorkeur geniet nie. Ons sal wel op grond van die getal leerlinge van ’n sekere taalgroep besluite oor die taal van onderrig neem,” het Lesufi Sondag gesê.
Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het Donderdag bevestig dat die departement aandag aan hul groot bekommernisse en probleme gegee het.
Die ouers sal nou op die stelsel kan sien wat die taal van onderrig is en of dit ’n seun-, meisie- of gemengde skool (seuns en meisies) is.
Kriteria vir plasing
Die plasing van leerlinge sal volgens dié kriteria (volgens volgorde van belangrikheid) plaasvind:
1. Woonadres
2. As die aansoeker reeds ’n sibbe in die skool het
3. Die ouers se werkadres(se)
4. Die aansoeker se ouers moet in ’n 30 km-radius van die skool se voedingsgebied woon of werk.
5. Jy kan vir enige skool aansoek doen, maar die kanse is skraal dat jy aanvaar sal word as jy nie aan die vorige vier vereistes voldoen nie.