Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Gauteng-leerlinge sál skoolklere, sanitêre produkte kry’

Die Gautengse departement vir maatskaplike ontwikkeling het sy begrotings vir waardigheidspakkies en skoolklere vir die 2020-’21-boekjaar herprioritiseer, maar hy sê leerlinge sal steeds dié items ontvang.

Volgens ’n voorlegging van die departement aan die Gautengse wetgewer se portefeuljekomitee vir maatskaplike ontwikkeling, is R38 miljoen wat vir waardigheidspakkies begroot is, vir kospakkies herprioritiseer.

Die waardigheidspakkies bevat gewoonlik sanitêre doekies, seep, tandepasta, lyfroom, deodorant en toiletpapier.

R25 miljoen wat vir skoolklere begroot is, is ook vir kospakkies herprioritiseer.

Dr nomathemba mokgethi
Dr. Nomathemba Mokgethi

Die DA het Nomathemba Mokgethi, Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, gevra om dié besluit te heroorweeg.

Refiloe Nt’sekhe, die party se woordvoerder vir maatskaplike ontwikkeling, het Donderdag in ’n verklaring gesê die party is bekommerd dat begunstigdes in Gauteng nie hierdie noodsaaklike items gaan ontvang nie.

Die DA sê hoewel daar ’n behoefte aan voedselsekerheid in die provinsie is, is hy diep ontsteld omdat “menstruasie nie verdwyn omdat daar ’n inperking is nie”.

“Waar ook al hierdie leerlinge is, hulle het steeds waardigheidspakkies nodig, wat sanitêre doekies en produkte vir mense met albinisme insluit, en omdat skole tydens en ná die inperking open, het leerlinge steeds skoolklere nodig,” lui die verklaring.

Die party sê minderbevoorregte leerlinge het veral nou ’n ernstige behoefte aan die produkte en skoolklere, omdat baie ouers tydens die inperking finansieel swaarkry.

Thabiso Hlongwane, woordvoerder vir die departement van maatskaplike ontwikkeling, sê egter die departement het laat in die vorige boekjaar ’n kontrak vir die aflewering van meer as 1,2 miljoen waardigheidspakkies toegeken.

Hlongwane verduidelik met die toekenning van dié kontrak sou daar nog meer as ’n miljoen waardigheidspakkies in die huidige boekjaar afgelewer word.

Volgens hom het die departement besef ’n besparing kan gemaak word deur vanjaar se begroting vir dié items vir Covid-19-verwante-besteding te herprioritiseer, terwyl pakkies steeds vanjaar aan leerlinge gelewer word.

“Leerlinge in Gauteng ontvang al sedert Junie waardigheidspakkies. Skoolklere sal soos normaalweg in die vierde kwartaal gelewer word, wat van Januarie tot Maart strek. Die later aflewering word voorafgegaan deur die produksie van die klere,” sê Hlongwane.

Meer oor:  Kospakkies  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.