Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Gauteng: ‘Ouers, kom kyk, ons skole is gereed!’

’n Ope dag sal voor 1 Junie by alle skole in Gauteng gehou word sodat die ouers self kan kom kyk hoe hul kinders teen Covid-19 beskerm sal word wanneer hulle na hul skole terugkeer.

Dit is net een van ’n hele lys planne wat die Gautengse onderwysdepartement onder leiding van sy LUR, Panyaza Lesufi, Donderdag in ’n sitting van die provinsie se Covid-19-bevelsraad bekend gemaak het.

Dit kom kort ná Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, se aankondiging dat gr. 7- en gr. 12-leerlinge op 1 Junie na hul skole sal terugkeer.

Volgens Lesufi het 1 752 skole reeds aangedui dat hulle gereed is om te heropen.

Daar is R15 432 aan elke skool se beheerliggaam betaal vir die ontsmetting van hul skoolgebou.

Die oorblywende 577 skole word deur die departement en Bidvest ondersteun en 67 skole sal ook watertenks ontvang.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys Foto: Argief

“Veiligheid is vir ons die belangrikste. Persoonlike beskermende toerusting (PPE) moet eers in die skole wees voordat die personeellede en leerlinge daar kan wees,” sê Lesufi.

Onderwysers en leerlinge sal drie keer per dag siftingstoetse moet ondergaan: Voor skool, tydens pouse en voordat hulle huis toe gaan “om te verseker dat hulle nie ander gaan aansteek nie”.

Afgesien van handreinigers by skole sal elke leerling ook ’n koekie anti-septiese seep en drie maskers ontvang.

Skoolbanke sal ook elke twee uur skoongemaak word.

“Die dae van leerlinge wat skoolbanke deel, is verby – een leerling, een skoolbank. Leerlinge kan nie meer skryfbehoeftes onder mekaar uitleen nie en geen klaskamer sal meer as 20 leerlinge hê as die ruimte dit nie toelaat nie,” sê Lesufi.

Die departement se aanlyn aansoeke vir 2021 se gr. 1’s en 8’s sal op 25 Junie open. Ouers sal egter net een maand, tot 25 Julie, hê om aansoek te doen.

“Gewoonlik gee ons drie maande, maar in die huidige omstandighede kan ons dit nie doen nie.”

Ander maatreëls by skole

* Geen besoekers sal toegelaat word nie en as iemand die skool wil besoek, moet hulle toestemming by die departement vra.

* Alle skole wat nie omhein is nie, sal dadelik omhein word.

* Daar kan slegs een in- en uitgangspunt by ’n skool wees.

* Rugbyvelde en speelplekke mag nie gebruik word nie en geen leerling mag die skoolterrein sonder ’n masker betree nie.

* Die kurrikulum is aangepas en voordat elke onderwyser met sy of haar les begin, sal hulle eers vir leerlinge ’n les oor die virus gee.

* Die departement sal ook 7 000 mense tussen die ouderdom van 18 en 35 aanstel om die regulasies by skole af te dwing. Daar sal vier lede van dié sogenaamde “jeugbrigade” by elke skool ontplooi word. Hulle sal ook veiligheid in skoolbusse monitor.

* Leerlinge sal nie op dieselfde tyd pouse hê nie.

* Voedingskemas by skole sal voortgesit word en die personeel word tans in die nodige veiligheidsprotokol opgelei. Ander grade se leerlinge sal dan ook maaltye by die skool kan kom haal.

* Die departement sal voorsiening maak vir onderwysers van ouer as 60 wat nie kan klasgee nie.

* Die aansoektyd vir tuisonderrig word tot einde September verleng.

Langtermynplanne

Die res van die grade sal stelselmatig terugkeer, maar volgens Lesufi kan dit probleme, veral met die handhawing van ’n gesonde afstand, skep.

“ ’n Voorstel is dat ons leerlinge roteer. Die eerste groep kom in die oggend en die volgende groep later in die dag. Die ander voorstel is dat sekere grade op sekere dae skoolgaan. Dit is egter nog nie nodig om nou ’n besluit daaroor te neem nie,” meen Lesufi.

Hy het bygevoeg dat die departement ouers se kommentaar verwelkom en dat ouers tot volgende Vrydag voorstelle by die departement kan indien.

Meer oor:  Gauteng  |  Ouers  |  Skole  |  Gereed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.