Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Gauteng swig oor gr. 1’s

Dit was die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se dreigement om die Gautengse departement van onderwys vandag voor die dringende hof te daag, wat daartoe gelei het dat die provinsie se aanlyn registrasie vir 2020 se gr. 1’s en gr. 8’s Vrydag skielik uitgestel is.

Fedsas het reeds hofstukke opgestel en was reg om die naweek ’n interdik aan te vra, toe die departement die registrasieproses, wat môre sou begin, Vrydag met ’n week uitgestel het.

Paul Colditz, hoof van Fedsas, sê hul probleem is dat die aanlyn stelsel nie leerlinge se taalvoorkeure in ag neem nie en ook nie die departement se beleid van voedingsones van 30 km vir skole nie.

Fedsas het dit ontdek toe hy einde April die stelsel getoets het. Verskeie skole en bekommerde ouers het hulle genader vir hulp nadat hulle dieselfde probleem raakgesien het.

Die stelsel skryf aan ouers voor vir watter skole hulle aansoek mag doen, maar Fedsas voer aan soos dit tans werk, word Afrikaanse kinders benadeel.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), die Skoleondersteuningsentrum (SOS) en AfriForum het soortgelyke besware.

Fedsas het die departement versoek om die probleem reg te stel voordat die aanlyn registrasieproses begin.

Colditz sê die departement het op stemdag laat weet “hulle verstaan die probleem en werk daaraan”. Op Vrydag se vergadering het die departement onderneem om in die komende week veranderinge aan die stelsel aan te bring om die nuwe, groter voedingsones in ag te neem. “Daar kan egter steeds probleme met taal wees,” waarsku Colditz.

“Skole aanvaar eers leerlinge en bepaal dan die onderrigtaal op grond van die leerlinge wat geplaas is en die beskikbare hulpbronne,’’ lui die departement se dokument.

Colditz sê hulle is dankbaar dat hulle “vir nou” nie hof toe hoef te gaan nie.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, sê hulle het Donderdag vir die departement gevra vir minstens ’n week se uitstel van die registrasieproses om probleme uit te stryk, maar hulle het geen antwoord ontvang nie.

Hulle het Vrydag besluit om as vriend van die hof tot die saak toe te tree sou die saak vandag voortgaan.

Klopper sê skoolbeheerliggame is geregtig om taal- en toelatingsbeleid te bepaal ingevolge die Skolewet en die departement kan hulle nie eensydig dié reg ontneem nie.

Dit plaas skoolhoofde in ’n moeilike posisie as hulle opdragte moet uitvoer van hul werkgewer, die departement, wat “irrasioneel, onregmatig en onredelik” is.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, wou geen kommentaar lewer nie en het net gesê die LUR sal vandag ’n aankondiging hieroor doen.

Meer oor:  Chris Klopper  |  Fedsas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.