Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Gautengse ouers ontevrede oor plasings in skole

’n Ma van Krugersdorp aan die Wes-Rand is ontsteld oor die skool waarin die Gautengse departement van onderwys haar dogter geplaas het.

Dit kom nadat Panyaza Lesufi, LUR vir dié departement, Maandag bekend gemaak het dat alle kinders wie se ouers die regte aansoekprosedure gevolg het vir 2020 ’n plek in ’n skool het.

Hoewel dit waar kan wees, sê die ma, wat anoniem wil bly uit vrees vir viktimisering, haar dogter is nou 10 km van hul huis in Rant-en-Dal geplaas.

“Ons het aansoek gedoen by Monument Primary School, maar my kind het plek gekry in die Laerskool Muldersdrift. Sy was die afgelope drie jaar in ’n Engelse kleuterskool en gaan sukkel om in ’n Afrikaanse skool aan te pas. Daar is ook nie vervoer van die laerskool af nie, wat dit verder bemoeilik,” sê sy. Hulle woon 3 km van Monument Primary.

Die meisie word ook van haar beste maatjies geskei.

“Dit klink dalk belaglik, maar so iets is belangrik vir haar sosiale en emosionele ontwikkeling. Dit is klaar ’n groot stap om laerskool toe te gaan en dit is traumaties vir haar om van haar vriende afskeid te neem.”

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys. Foto: Mary-Ann Palmer

Die departement beweer die vrou het nie haar dokumentasie ingedien nie, daarom het haar kind nie plek gekry nie.

Die vrou sê sy het die aanlyn inskrywingsvorm voltooi en daarna gewag vir ’n SMS van die departement om te bevestig dat hulle haar registrasie ontvang het en om haar na ’n skool te verwys.

Volgens die departement se webtuiste sal hulle ’n SMS aan die ouers stuur, hoewel dit nie ’n voorvereiste is om vorms in te dien nie.

Die webtuiste stipuleer dat die belangrikste faktor die woonadres van die leerling is.

Die vrou is egter nie die enigste een met ’n probleem nie. Alicia Brits, ’n inwoner van Danville in Pretoria, se seun Raymond (6) is nog glad nie in ’n skool geplaas nie. Elmarie Buys, ook van Danville, se dogter Zelmarie (6) is in ’n skool geplaas wat 45 minute se stap weg is. Die gesin het nie vervoer nie.

Intussen het Steve Mabona, die departement se woordvoerder, op navrae oor die voorvalle gereageer met ’n ou mediaverklaring.

Luidens die verklaring is hulle besig om aandag aan alle navrae te gee.

“Die meerderheid hiervan is oor dokumentasie wat nie ingedien is nie en oor ouers wat ontevrede is oor die skool waar hul leerlinge geplaas is,” sê Mabona in die verklaring.

Indien jy ontevrede is met jou kind se plasing, kan ’n appèlvorm afgelaai word by www.gdeadmissions.gov.za.

Meer oor:  Skoleplasings  |  Panyaza Lesufi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.