Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Gautengse skole gaan sterre soos hotelle kry, sê LUR
Panyaza Lesufi
Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, praat Dinsdag met joernaliste in Johannesburg. Foto: Jana Marx

Skole wat voortaan soos hotelle gegradeer sal word, miljarde se begrotingsbesnoeiings en kleuterskoolonderwysers wat nou ’n kwalifikasie sal moet bekom, is van die belangwekkende aankondigings wat Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, Dinsdag op ’n mediakonferensie in Johannesburg gemaak het.

Hy het ook bevestig dat alle gr. 1- en gr. 8-leerlinge wat aansoek gedoen het vir plek in skole vir aanstaande jaar, nou geplaas is.

Hy het tussendeur die provinsiale raad se sitting in Johannesburg en dié mediakonferensie aangekondig die onderwysdepartement het die sentrums vir vroeë kinderontwikkeling (VKO) van die departement van maatskaplike ontwikkeling oorgeneem.

“Die dae van ‘ek wil met kinders werk, want ek is mal oor kinders’ is verby. Jy het nou ’n sertifikaat nodig,” het Lesufi oor gr. R-onderwysers gesê.

Volgens hom moet voornemende VKO-onderwysers ’n kursus van minstens drie jaar aan ’n geakkrediteerde instelling voltooi.

Volgens Steve Mabona, die departement se woordvoerder, kan gr. R-onderwysers reeds ’n diploma aan die Noordwes-Universiteit, Lyceum-kollege en die SANTS Private Higher Education Institution behaal.

Hy sê die BEd-graad kan onder meer aan Unisa, die Universiteit van Johannesburg en die Noordwes-Universiteit behaal word.

Lesufi sê sy departement sal dié onderwysers geldelik ondersteun. “Ons het reeds hul salarisse verdubbel . . .”

Die dae waar kleuters “net speel en slaap” is volgens hom ook iets van die verlede. Kleuters gaan aan opvoedkundige programme blootgestel word om hulle vir hul skoolloopbaan voor te berei.

Vyfster-skole?

Lesufi sê die departement gaan begin om skole in Gauteng soos hotelle te “rangeer” en te “gradeer”, omdat daar “baie goeie skole in townships is” wat soms nie leerlinge kry nie omdat ouers wegskram van die ligging.

“Skole raak slagoffers van die gebiede waar hulle geleë is. Net soos jy ’n tweester-, driester, vierster- en vyfsterhotel kry, gaan ons skole nou ook gradeer.”

Hy sê faktore wat ’n skool se gradering gaan bepaal, sal insluit of die skool “skoon” is, of die infrastruktuur in stand gehou word, en “of die onderwysers stokkiesdraai”.

Lesufi het in sy terugskouing gesê dat die departement die afgelope vyf jaar 50 skole in Gauteng gebou het, wat 17 spesialisskole insluit.

’n Spesialisskool fokus op ’n spesifieke vakgebied, soos landbou, lugvaartkunde, maritieme studies of kernwetenskappe en -tegnologie.

Hierdie spesialisskole is ook ’n belangrike fokuspunt vir 2020.

Infrastruktuur belangrik

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het onlangs in ’n antwoord op ’n parlementêre vraag gesê die nasionale tesourie se begrotingsbesnoeiings aan basiese onderwys sal ’n “negatiewe invloed” op provinsies se geld vir infrastruktuur hê.

Op Netwerk24 se vraag oor hoe die Gautengse departement gaan verseker dat skole steeds behoorlik in stand gehou word midde dié besnoeiings, het Lesufi gesê die departement maak nie alleenlik op provinsiale subsidies staat nie.

“Ons sal aanhou om hiervoor (die infrastruktuur) te begroot, want dis vir ons ’n belangrike belegging.”

Volgens hom sal sy departement se totale begroting oor die volgende jaar met sowat R2 miljard ingekort word en oor die volgende drie jaar met R7 miljard.

Die inkorting ná een jaar (R2 miljard) is soveel as die totale infrastruktuurbegroting vir die huidige boekjaar.


Vakbonde reageer

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die insluiting van VKO in die onderwysdepartement beteken “een miljoen kleuterskoolonderwysers word bygevoeg”.

“As jy werk op sowat 40 kinders per klas, sal jy vir 25 000 onderwysers en in effek 25 000 klaskamers ekstra moet betaal. As hulle eers gr. RR ook gaan byvoeg, gaan dit nóg ’n miljoen kinders beteken. Dit sal die onderwysbegroting onder geweldige druk plaas.”

Oor die gradering van skole meen Klopper evaluering gaan oor veel meer as net hoe ’n skool funksioneer.

“Die SAOU sal wil deel wees van ’n gesprek hieroor. ’n Mens sal ook móét kontekstualiseer.”

Hy sê ’n arm en ryk skool kan nie volgens dieselfde maatstawwe gegradeer word nie.

Basil Manuel, hoof van die Nasionale Professionele Onderwysersorganisasie (Naptosa), sê hy is baie opgewonde oor die VKO-verwikkelinge, “want ons vra al lank vir volledig gekwalifiseerde mense om onderrig te gee”.

Hy stem egter saam met Klopper dat die probleem inkom by die aantal onderwysers en klasse.

“Jy sal dieselfde aantal gr. R-klasse moet aanbring wat jy tot gr. 12 wil deur vat,” sê hy.

Oor die begrotingsbesnoeiings sê Manuel dis waar dat al die provinsies daaronder gebuk gaan, maar dat Gauteng steeds in 'n beter situasie is as baie ander.

“Ons moet erken dat Gauteng effens anders is omdat Lesufi geld op ander maniere, soos buitelandse beleggings, kan insamel. ’n Belegger wil dalk veel eerder in Gauteng belê as in Limpopo.”


Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Besnoeiings  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.