Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Gee mag van plasings terug aan skole, vra kenners
Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys. Foto: Argief

Dit is die sentralisering van skoleplasings in die Gautengse departement van onderwys wat veroorsaak dat 41 000 leerlinge steeds nie vir 2021 geplaas is nie.

So maan kenners oor Panyaza Lesufi, die provinsie se LUR vir onderwys, se bekendmaking van dié syfer.

Aansoeke in die provinsie word aanlyn gedoen. Die aansoeke het op 1 Oktober geopen en op 30 November gesluit.

Lesufi het Sondag op ’n mediakonferensie gesê 180 skole is reeds vol, veral in Benoni, Alberton, Johannesburg-Suid, Lenasia, Roodepoort, Bryanston, Midrand en Centurion.

Van die 41 000 aansoeke wat nog nie geplaas is nie, is 90% in bogenoemde gebiede.

Die groot probleem is sy onvermoë om genoeg skoolplek te voorsien en nou wil hy dit voor die deur van Afrikaanse skole kom plaas. Skole is oorvol.

Prof. Michael le Cordeur, hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement kurrikulumstudie in die fakulteit opvoedkunde, sê dit is nie ’n nuwe probleem nie.

“Die departement moet die taak van plasings teruggee aan skole en slegs toesig hou dat die riglyne gevolg word.

“Die aanlyn aansoeke skep net probleme en lei tot die wanopvattings en misverstande wat jaarliks voorkom,” sê Le Cordeur.

Met verwysing na die aansoeke wat gesentraliseer is, sê Le Cordeur die departement “doen dit omdat hy vermoed daar is sommige skole waar kinders uitgesluit word, vir watter rede ook al”.

Die departement “moet verstaan hy kan nie die heeltyd waghond speel nie en moet eerder skole bemagtig om riglyne na te kom.”

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), stem saam. “Toelatings het baie beter afgeloop toe dit deur die skole gehanteer is.

Die aanlyn stelsel is nuttig, maar skole moet die finale sê hê oor hoeveel leerlinge hulle kan akkommodeer.”

Buys sê ondanks Lesufi se uitlating dat hy binnekort drie skole gaan open, word die getal skole in Gauteng al hoe minder.

“Die groot probleem is sy onvermoë om genoeg skoolplek te voorsien en nou wil hy dit voor die deur van Afrikaanse skole kom plaas. Skole is oorvol.”

Om nog ’n klaskamer te bou by ’n skool waar die aanvraag na plek baie groot is, is ook nie die oplossing nie. Dit plaas ekstra druk op die skool se infrastruktuur wat gaan veroorsaak dat die skool net vinniger agteruit gaan.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die onderwysvakbond Naptosa, sê om al hierdie leerlinge te akkommodeer, gaan ’n wonderwerk verg.

“Baie mense het tydens die koronaviruspandemie hul werk verloor en na Gauteng verhuis omdat hulle glo daar is steeds werk in die provinsie. Die jaarlikse probleem van skoleplasings is te wyte aan ’n gebrek aan spasie en behoorlike beplanning van die departement se kant af.”

Hy sê egter dit is moeilik om ’n langtermynoplossing hiervoor te vind.

“Om nog ’n klaskamer te bou by ’n skool waar die aanvraag na plek baie groot is, is ook nie die oplossing nie. Dit plaas ekstra druk op die skool se infrastruktuur wat gaan veroorsaak dat die skool net vinniger agteruit gaan.”

Hy sê die departement moes ook vanjaar sy begroting aanpas om voorsiening te maak vir die aankope van persoonlike beskermende toerusting (PPE’s) en dat minder skole as gevolg hiervan gebou kon word.

Khume Ramulifho, die DA se Gautengse woordvoerder oor onderwys, sê die party het die departement tot 30 November gegee om die plasingsproses te voltooi.

“Dit (die feit dat plasings nog nie voltooi is nie) plaas groot druk op ouers en ons wil hê hulle moet minstens in Desember kans kry om reëlings te tref.”

Die burgerregteorganisasie AfriForum skryf in ’n verklaring dat dit wil voorkom of die departement die proses wil manipuleer.

“Sommige ouers het AfriForum gekontak nadat hulle byvoorbeeld plasingsboodskappe van die departement ontvang het dat hulle kind in hulle tweede of derde keuse van skool geplaas is, terwyl die skool van eerste keuse die kind reeds op sy plasingslys aanvaar het.

Dit laat dit lyk asof die skool van eerste keuse reeds vol is, terwyl die kinders in der waarheid na ’n ander skool gaan. Dit kan veroorsaak dat geaffekteerde skole nie heeltemal vol is nie.”

Matriekeksamen

Lesufi het Sondag ook aangekondig dat vyf matrikulante in Gauteng tydens hul eindeksamens verneuk het.

Volgens hom is selfone by twee van die kandidate gekry terwyl drie ander met nota’s gevang is.

Vier kandidate het positief getoets vir die koronavirus maar kon hul eksamen onder gekontroleerde omstandighede aflê, sê Lesufi.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.