Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Geen bykomende onderwysers, sê Angie

Bykomende onderwysers gaan nie as ’n reël by elke skool in Suid-Afrika ontplooi word om weens die handhawing van gesonde afstande te help met opgedeelde klasse nie, sê Angie Motshekga, minister van basiese onderwys.

En onderwysers gaan ook nie weens die Covid-19-pandemie oortyd betaal word nie.

Motshekga het gereageer op parlementêre vrae nadat Nomsa Marchesi, DA-LP, vroeër onder meer by haar wou weet of bykomende onderwysers aangestel sal word siende dat alle klasse opgedeel moet word om aan die gesondheidsprotokolle te voldoen soos die verskillende grade terugkeer.

Daarom sal daar in die algemeen nie ’n behoefte wees om bykomende onderwysers in groot getalle aan te stel om gesonde afstande te handhaaf nie.

Marchesi wou ook weet of onderwysers vir oortyd betaal sal word.

Motshekga het in haar parlementêre antwoorde gesê haar departement verwag nie dat die vraag na bykomende onderwysers hoog sal wees weens die handhawing van gesonde afstande nie. Volgens haar is die hoofbeperking eerder die beskikbaarheid van klaskamerruimte.

“Skole sal verskillende modelle gebruik om leerlinge te akkommodeer, wat afhangend van die konteks van ’n spesifieke skool, onder meer alternatiewe tye, dae en weke van skoolbywoning insluit.”

Volgens haar sal dieselfde aantal onderwysers dus gebruik word om in terme van die afgeskaalde kurrikulum en herverwerkte klasroosters onderrig te gee.

Sy sê daar sal wel ’n paar gevalle wees waar skole bykomende klaskamerruimte benodig.

“Daarom sal daar in die algemeen nie ’n behoefte wees om bykomende onderwysers in groot getalle aan te stel om gesonde afstande te handhaaf nie.”

Oor oortydbetaling vir onderwysers het Motshekga gesê die plan is om die werkslading van onderwysers in terme van hul diensvoorwaardes te handhaaf.

“Dit sal moontlik wees binne die konteks van die afgeskaalde kurrikulums en herverwerkte roosters. Waar dit van onderwysers vereis word om bykomende ure te werk, sal dit binne redelike beperkinge wees siende dat alle buitemuurse aktiwiteite ook opgeskort is.”

Motshekga het bygevoeg dat die kleiner leerlingtal per onderwyser, wat tans weens die handhawing van gesonde afstande toegepas word, moontlik selfs ná die opheffing van die inperking kan voortduur indien omstandighede dit vereis.

Marchesi het Maandag in reaksie op Motshekga se antwoorde gesê dat die begroting van die departement van basiese onderwys erg gesny is en dat die nie-aanstelling van bykomende onderwysers ongetwyfeld ’n gevolg daarvan is.

“Met meer leerlinge wat na verwagting in Julie en Augustus by skole ingefaseer sal word, sal daar ’n verhoogde vraag na gesonde afstande wees wat tot meer klasse gaan lei.”

Volgens Marchesi sal dit ook tot meer onderrigtyd weens die alternatiewe bywoning van klasse lei, terwyl daar ook ’n toename in afwesigheid van onderwysers met onderliggende siektes sal wees.

Die DA het daarom ’n beroep op Motshekga gedoen om duidelike riglyne te verskaf oor hoe die gaping weens afwesige onderwysers met onderliggende siektes gevul sal word.

“Die departement het ’n plig om te verseker dat meer onderwysers beskikbaar is in skole om ’n verdere las te verhoed op onderwysers wat wel onderrig kan gee,” het Marchesi gesê.

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Covid-19  |  Skole  |  Bykomende Onderwysers  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.