Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Geen ‘dames en here’ meer vir Tuks

Personeel van die Universiteit van Pretoria sal vergaderings en klasse in die afsienbare toekoms nie meer met “goeiemôre, dames en here” begin nie.

Die universiteit wil geslagsneutraliteit bevorder.

Die UP het onlangs ’n “transprotokol” aanvaar omdat die samelewing verander en die instelling in die lig daarvan met respek en waardigheid teenoor alle mense wil optree, het Rikus Delport, UP-woordvoerder, Saterdag aan Rapport gesê.

Volgens die UP se interne personeelnuusbrief is die protokol aanvaar vir die behoeftes van trans-, intergeslag-, nie-konformerende geslag- en nie-binêre personeel en studente.

Studente kan van vanjaar registreer met die titels mnr., me. of die geslagsneutrale titel mx.

Verskeie belanghebbendes en instellings het die protokol help opstel om die UP se teendiskriminasiebeleid te versterk.

’n Ingesteldheid om geslagsneutraal op te tree moet in ’n voorbereidingsfase by personeel en studente gekweek word voor ’n formele beleid aanvaar kan word. Die UP sê hieroor ’n algemene manier om ’n vergadering te begin, is: “Goeiemiddag, dames en here.” Maar dit gee die toon aan vir hoe mense dink aan geslag as die “een of die ander”.

Delport sê hoe mense mekaar uiteindelik sal groet, is een van die kwessies wat nog “uitgepak” moet word voordat ’n formele beleid aanvaar word. Nog ’n vraag is of personeel toegelaat kan word om hul eie gekose titel, voornaam en geslagsvoornaam in hul amptelike dokumente as werknemers te gebruik.

“Dit gebeur reeds onder studente. Dit sal nog nie so eenvoudig vir personeel wees nie, maar die protokol kan daardie gesprek begin,” sê die UP.

Volgens die dokument is die UP se praktyk om geslagsbeskrywers, -merkers en name van studente en personeel te verander wanneer dit reeds amptelik deur die departement van binnelandse sake verander is.

Studente kan van vanjaar registreer met die titels mnr., me. of die geslagsneutrale titel mx.

In 2022 kom ’n registrasieproses wat ’n groter nuanse en wyer keuses bied.

“Waar amptenare van binnelandse sake die Wet op die Wysiging van Seksbeskrywing en Seksstatus waninterpreteer deur te sê die kliënt moes ’n volle geslagsveranderingsoperasie ondergaan het om hul dokumente te verander, kan die UP emosionele ondersteuning aan die student of personeellid gee terwyl (die dispuut) opgelos word,” lui die protokol.

In koshuise is trans studente se veiligheid en waardigheid van opperste belang, soos dié van ander studente. Die UP moet sy bes doen om trans- én cisgender-studente se “angstigheid te besweer”. ’n Cisgender-persoon is iemand wie se waarneming en uitlewing van sy/haar geslagsidentiteit ooreenstem met sy/haar geslag by geboorte.

“Geslagsneutrale badkamers sal toenemend oor die universiteit heen beskikbaar gestel word.”

Die idee vir die protokol het ontstaan toe ’n trans student sowat drie jaar gelede by die UP se sentrum vir seksualiteite, vigs en geslag (CSA&G) gaan aanklop het.

Die student was in die proses om van geslag te verander en het aan die sentrum gesê hy wil erken en veiliger voel. Hy wou ’n waardige universiteitslewe hê.

Meer oor:  Rikus Delport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.