Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Geen meer kamermaats, koshuiskuiers as universiteite heropen

Universiteite landwyd maak gereed om vanaf 8 Junie hul kampusse gedeeltelik oop te stel en gee spesiale aandag aan die verblyf van studente, veral dié wat in koshuise woon.

Lacea Loader, woordvoerder van die Universiteit van die Vrystaat, sê studente sal nie meer ’n kamermaat in die koshuis hê as hulle terugkeer nie.

“Voorbereidings in koshuise op die drie kampusse van die UV sluit in die installering van hand-ontsmettingstasies en die handhawing van ’n gepaste afstand tussen individue in gebiede waar mense byeenkom, soos kombuise en sitkamers.

“Reëlings word met studente getref in gevalle waar kamers gedeel word en slegs een student sal per kamer gehuisves word.

“Ook in waar studente elders woon, word verseker dat die koronavirus nie daar versprei nie.”

Die kampus van die Universiteit van Kaapstad. Sekere studente sal binnekort kan terugkeer na die kampus. Foto: Argief

Elijah Moholola, woordvoerder van die Universiteit van Kaapstad, sê finalejaar- mediese studente, studente wat akademies sukkel en diegene wat kampuslaboratoriums moet gebruik om hul 2020-studies te voltooi, sal eerste terugkeer.

“Studente se veiligheid en gesondheid is ons hoofprioriteit. Dit beteken dat ons nie al die beddens in koshuise sal kan gebruik nie.

“Die universiteit het reeds met sekere koshuise gereël om die mediese studente, wat eerste sal terugkeer, te akkommodeer.

“Wanneer die studente wat akademies sukkel, terugkeer, sal hulle nie persoonlike kontak met dosente hê nie,” sê Moholola.

Louis Jacobs, woordvoerder van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê daar word nou bepaal wie blyplek in koshuise sal verlang.

“Die NWU kan nie studente toelaat om kamers te deel nie.

“Ons is ook in kontak met die eienaars van alle geakkrediteerde privaat verblyf en maak seker dat die inperkingsmaatreëls ook daar nagekom word,” sê Jacobs.

By die Universiteit van Pretoria (Tuks) sal studies die semester steeds elektronies voortgaan. Maar studente wat nie toegang het tot aanlyn klasse nie, sal kan aansoek doen om na private en kampuskoshuise terug te keer.

“Nagraadse en finalejaarstudente wat na koshuise moet terugkeer om hul navorsing te voltooi, sal ook hulp kan aanvra,” sê prof. Tawana Kupe, rektor.

Volgens Kupe sal spesiale maatreëls, soos die dra van maskers, sifting by ingange, die handhawing van ’n veilige afstand tussen individue en die gebruik van ontsmettingsmiddels, geld.

Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) sê voorbereiding is nog aan die gang. ’n Volledige plan sal teen Vrydag uitgestuur word.

Die Universiteit Stellenbosch het gesê reëlings vir die terugkeer van studente, wat onderhewig sal wees aan streng nakoming van nasionale regulasies, word tans getref.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.