Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Geen regulasies wat onafhanklike skole dwing om te sluit’

Onafhanklike skole bepaal hul eie kalender en daar is geen regulasies wat dié skole verhoed om te heropen nie.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê onafhanklike skole is nié gebonde aan openbare skole se skoolkalender nie.

Die departement van basiese onderwys het Vrydag die heropening van openbare skole tot 15 Februarie uitgestel weens die stygende koronavirus-infeksiekoers. Daar is aanvanklik gesê onafhanklike skole wat reeds geopen het, gaan by dié besluit moet inval.

Mzwandile Matthews, raadgewer vir die minister van basiese onderwys, het egter later gesê dié skole kan nie gedwing word nie. Daar sal egter probeer word om hulle te oortuig. 

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het Maandag die onafhanklike skool Helpmekaar Kollege in Johannesburg besoek nadat hy gehoor het al die skool se leerlinge sou dié week terugkeer. Helpmekaar Kollege het reeds op 13 Januarie vir gr. 8- en gr. 12-leerlinge heropen.

Volgens Lesufi is hy die afgelope naweek oorval met boodskappe oor sommige skole wat steeds dié week gaan heropen.

“Ons beskou dit as gevaarlik en voel ons kan nie net die openbare skolestelsel sluit nie, ons moet ook die onafhanklike stelsel oortuig. Hulle is deel van dieselfde gemeenskappe as al die ander skole,” sê hy.

Helpmekaar Kollege het ná Vrydag se aankondiging herbesin en sal van Dinsdag aanlyn voortgaan.

Klaus König, skoolhoof, sê hulle is geensins geïntimideer om die heropening uit te stel nie.

Lesufi het ook Maandag met die Curro-groep gepraat oor sy skole wat op 13 Januarie heropen het. Curro het hierna in ’n verklaring gesê “in reaksie op die gesondheidskrisis” het hy besluit om so lank as wat dit nodig is na aanlyn leer te skuif.

“Enige ander skool wat nou steeds in Gauteng oop is, is in weerwil van die regering se wense. Ons sal hulle tot ’n sekere mate probeer oortuig. As hulle nie oortuig wil word nie, sal ons ongelukkig moet optree. Ons sal ’n meganisme binne die wet kry om toepaslik op te tree,” sê Lesufi.

Volgens Colditz is daar egter nie regulasies hiervoor nie.

“Kragtens die Rampbestuurswet sou die verantwoordelike minister, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, natuurlik wel regulasies kan uitvaardig waarvolgens onafhanklike skole ook moet sluit, maar dit is nie gedoen nie,” sê hy.

Die Facebook-groep “Parents Against The Opening Of Schools” het intussen gevra dat regulasies onmiddellik afgekondig word sodat “ryk skole” nie skuiwergate kan gebruik nie. Die groep is in Mei 2020 gestig en het al byna 112 000 lede.

Vanessa le Roux, een van die stigters, sê hulle wil hê ongelykhede moet aangespreek word.

“Dis ons mense in arm gemeenskappe wat elke dag mense begrawe, elke dag onderwysers verloor. As die nasionale aankondiging Vrydag gemaak is, hoekom was dit nie Maandagoggend in die Staatskoerant nie? Die departement is nie ernstig nie, hulle probeer ons net tevrede stel,” sê sy.

Lesufi sê sy departement gaan Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, vra om regulasies so gou as moontlik in die Staatskoerant af te kondig.

Die VF Plus en Solidariteit het Lesufi se optrede gekritiseer en meen hy oorskry sy magte.

“Die departement het onafhanklike skole bloot aangemoedig om ook later te begin. Die besluit om daartoe in te stem of nie, berus egter steeds by die betrokke skool,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum.

Dr. Juran van den Heever, hoof van Solidariteit Jeug, sê Lesufi se prioriteite as LUR wek kommer en dat hy eerder skole moet besoek wat nie die nodige veiligheids- en gesondheidsmaatreëls het nie.

Volgens die VF Plus is dit in die belang van goeie onderwys dat alle skole wat veilig kan heropen, toegelaat moet word om dit te doen.

Sarel van der Walt berig John Steenhuisen, DA-leier, sê skoolkinders moet toegelaat word om einde vandeesmaand terug te keer skool toe.

“Moet hulle ’n gebroke onderwysstelsel erf waarin standaarde verlaag word en uitslae gemanipuleer word om die illusie van sukses te skep? Nee. Dis hoekom ons moet ophou om die knie te buig voor vakbonde soos Sadtu.”

Meer oor:  Fedsas  |  Paul Colditz  |  Skole Heropen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.