Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Universiteite
Geldtekort gaan SA navorsing erg knou

Navorsing in Suid-Afrika is ’n knou toegedien met die Nasionale Navorsingstigting (NRF) wat die geldkraan vir graderings van navorsingswerk baie stywer toegedraai het.

Terselfdertyd het die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) versuim om miljarde rande te bestee. Dié geld is veronderstel om die heel armste studente te help.

Die NRF het verlede week aangedui hy gaan die subsidie vir gewaardeerde aansporingsfinansiering met meer as die helfte verminder.

Dié subsidie gee geld aan navorsers wat werk van uitnemende gehalte lewer en hul navorsing wil laat gradeer.

Die geld is bedoel vir navorsers se uitgawes en om navorsing aan die gang te hou wanneer ander geld nie beskikbaar is nie. Dit moet navorsers ook aanmoedig om hul werk aan gradering bloot te stel.

Luidens ’n NRF-dokument wat aan aandeelhouers uitgestuur is, sal navorsers wat vir die eerste keer aansoek doen om finansiering van volgende jaar af R50 000 ontvang vir die duur van hul navorsing.

Dit is teenoor die R100 000 per jaar wat hulle voorheen kon aanvra.

Navorsers wat reeds om dié finansiering aansoek gedoen het, kan wel volgende jaar aansoek doen om ’n eenmalige bedrag van R30 000.

“Gegewe die land en die NRF se ekonomiese situasie kan die stigting nie anders nie as om finansiering te herprioritiseer, sonder om die program heeltemal af te skaf,” sê Thabiso Nkone, NRF-woordvoerder.

Luidens die NRF-dokument is die finansiering nie meer volhoubaar nie. Aansoeke om geld van die aansporingsfonds het toegeneem van 1 680 in 2008 tot 3 690 in 2017.

“Hierteenoor is daar sedert 2013 jaarliks ’n afname van tussen 3% en 6% in geld wat die NRF van die regering kry, as ons inflasie in ag neem,” sê Nkone.

Nkone sê die geld wat deur die besnoeiing van aansporingsfinansiering bespaar word, sal gebruik word om ander navorsingsbeurse en skenkings te finansier.

“Navorsers op grondvlak is heeltemal onkant gevang deur die NRF-besluit en van hul projekte gaan erg benadeel word,” sê prof. Belinda Bozzoli, DA-woordvoerder oor hoër onderwys en opleiding.

Volgens die NSFAS se jongste jaarverslag het dié organisasie versuim om R2,9 miljard van sy begroting in die vorige boekjaar te bestee.

Foute met die nuwe model, wat behels dat geld regstreeks aan studente uitbetaal word, het boonop veroorsaak dat die skema nie sy doelwit behaal het om kos- en behuisingstoelae binne sewe dae aan studente te betaal nie.

  • Studente aan die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van die Vrystaat het die afgelope week aangedui hulle gaan die voorgestelde 8%-verhoging in klasgeld teenstaan.
Meer oor:  Klasgeld  |  Navorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.