Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Gelyke Kanse: US-beleid ‘kulturele vooroordeel’

Die Universiteit Stellenbosch (US) se voorgestelde nuwe taalbeleid kom neer op “kulturele vooroordeel” teenoor Afrikaanssprekendes, meen ondersteuners van die veldtog Gelyke Kanse.

Die digter Breyten Breytenbach, een van die stigters van die Gelyke Kanse-veldtog, wat hom vir die behoud van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US) beywer. Foto: Nasief Manie

Die groep het Dinsdag in ’n ope brief aan die US gepleit dat die huidige taalbeleid behou word en parallelmedium só toegepas word dat geen student uitgesluit word nie.

In die brief stel ondersteuners van die veldtog dit aan die universiteit dat die voorgestelde nuwe taalbeleid ’n omgewing sal skep waar Engelssprekendes en hul kultuur as meerderwaardig, en Afrikaanssprekendes en hul kultuur as minderwaardig, beskou sal word. Dit kom volgens hulle neer op kulturele vooroordeel.

“Dit voldoen hoegenaamd nie aan die mees basiese vereistes van gelykberegtiging in kollektiewe eiewaarde tussen verskillende taalgemeenskappe nie. Daarsonder sal ‘intergroepkontak’ telkens ’n bron van wrywing word, die laaste uitkoms wat ’n sinvolle taalbeleid as ’n onvoorsiene gevolg behoort te skep,” lui die brief.

Die groep voer aan dat ’n raadstaalkomitee onder ’n onpartydige voorsitter en met insluiting van onder andere onafhanklike taalkenners en wye verteenwoordiging van belanghebbende instansies die taalbeleid behoort te ontwikkel.

Hoewel die US ’n langsame proses van openbare deelname gevolg het om insette te kry op die konsepbeleid, meen Gelyke Kanse hy het slegs oppervlakkige en selektiewe oorlegpleging met belangegroepe voor die skryf van dié beleid gedoen.

“Die ongelukkige gevolg is dat die bestuur pas weer ’n erg gebrekkige konseptaalbeleid voorgelê het. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wys byvoorbeeld daarop dat die konsepbeleid ’n swak vertaalde Afrikaanse weergawe uit Engels is,” skryf die groep.

Die konsepbeleid ignoreer volgens hulle ook heeltemal die belange van die bruin Afrikaanssprekende gemeenskap, wat vir die US ’n primêre teiken vir transformasie behoort te wees.

“Die klaarblyklike oplossing is dat die raad sy bestaande beleid van gelyke status vir Afrikaans en Engels herbevestig, met behoorlike parallelmediumonderrig wat niemand uitsluit nie, maar toegang verleen aan alle studente wat aan die toelatingsvereistes voldoen,” lui die brief.

“Dit verg die grootste moontlike strewe na konsensus oor fundamentele waardes soos gelykwaardigheid en die voortbestaan en ontwikkeling van Afrikaans as akademiese en wetenskapstaal.”

Die brief is deur 33 van Gelyke Kanse se amptelike ondersteuners onderteken, insluitende oudpres. FW de Klerk, die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, die Nobelpryswenner J.M. Coetzee en die digter Breyten Breytenbach.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.