Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Gemengde reaksie ná UK-raad oor Israel stem

Die besluit van die Universiteit van Kaapstad (UK) se raad om nie ’n resolusie teen akademiese instellings in Israel te aanvaar nie, het gemengde reaksie onder drukgroepe ontlok.

Die UK-raad het Saterdag gestem om nie ’n resolusie van sy senaat teen amptelike betrekkinge met Israeliese akademiese instellings in Palestynse gebiede en ander Israeliese akademiese instellings “wat growwe menseregteskendings bevorder”, te aanvaar nie.

“Die raad is van mening dat ’n paar kwessies uitgeklaar moet word, insluitende dat ’n volle assessering van die volhoubare uitwerking van die senaat se resolusie en ’n meer konsultatiewe proses benodig word, voor die saak verder oorweeg kan word.”

Die UK-raad het die kwessie na die senaat terugverwys.

Daarby het die UK-raad Saterdag hom opnuut verbind tot die steun van die regte en vryhede van alle mense, die veroordeling van enige skending van dié regte, sowel as die “gruweldade en menseregteskendings in die Palestynse gebiede wat beset word”.

Die UK het ook sy verbintenis tot akademiese vryheid beklemtoon, maar hom die reg voorbehou om hom te distansieer van akademici en instellings wat menseregteskendings steun of bevorder.

Die Kaapstadse raad van die South African Zionist Federation het dié besluit van die UK-raad verwelkom teen ’n “ongrondwetlike maatreël wat akademiese vryheid sou inperk en teen Joodse en Christen studente diskrimineer”..

“Die UK moet nou onherroeplik dié veldtog van haat verwerp, wat slegs Israel teiken en hewige, langdurige skade aan die instelling sal aanrig.”

Die Palestina-solidariteitsveldtog (PSC) het Maandag egter gesê dat die druk van “Sionistiese stemwerwers” teen die UK se voorneme van ’n akademiese boikot van Israel deur alle Suid-Afrikaners en die ANC-regering uitgedaag moet word.

’n Dringende beroep is op die UK-raad gedoen om die senaat se resolusie van 15 Maart te aanvaar.

Terry Crawford-Browne sê in ’n verklaring namens die veldtog dat internasionale organisasies al herhaaldelik bevind het dat Israel ’n “apartheidstaat” is en selfs erger as apartheid in Suid-Afrika is.

“Die navorsing wat vir die Israeliese wapenbedryf gedoen word dui daarop dat alle akademiese instellings aandadig in die skending van Palestynse inwoners se menseregte is. Israel voer dié wapens uit aan 130 lande, insluitende in Mianmar teen die Rohingya-moslems, vir Indië om teen Pakistan te gebruik en talle Afrikalande om diktators in beheer te hou.

“Laat ons ook onthou dat die G3 semi-outomatiese gewere wat in die Marikana-slagting in 2012 gebruik is ook van Israeliese oorsprong is, al is dit in Suid-Afrika vervaardig.”

Intussen is ’n aanlyn petisie begin met ’n beroep op die UK om die veldtog van ’n akademiese boikot van Israeliese universiteite teen te staan en dat dit op ’n skending van spraakvryheid en akademiese vryheid neerkom.

Die petisie wil probeer om 10 000 handtekeninge te kry en het teen Maandagaand al 9 927 gekry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.