Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Gemengde reaksie oor langer skoolvakansie

Ouers, onderwysers en skoolhoofde het gemengde gevoelens oor ’n verlenging van die skoolvakansie en die verskuiwing van skoolheropening na 15 Februarie.

Sommige meen die verlenging is ’n seën omdat dit onderwysers en leerlinge sal beskerm, terwyl ander meen dit is van kardinale belang dat elke dag in die skoolkalender benut moet word.

“So baie onderwysers is reeds dood,” sê Vanessa le Roux, stigter van die groep Ouers teen die heropening van skole. “Elke oggend as ek wakker word en die nuus lees, sien ek van nog twee of drie onderwysers wat oornag dood is.“Die uitstel is baie goeie nuus, veral omdat ons in ’n omstandigheid is waar daar baie onsekerheid is oor hoe lank die virus nog met ons gaan wees, en wanneer ons eendag ’n entstof sal kan kry.”

Sy meen dié tyd moet gebruik word om ander maniere te vind om opvoeding te doen, eerder as om kinders skool toe te stuur.

“My seun was verlede jaar in gr. 9 en hy was een van die kinders wat nie teruggekeer het skool toe na die eerste vlaag nie. Hy het al sy werk elektronies gekry en sy punte was nog steeds baie goed.

“Daar moet net politieke wil wees om hierdie tipe tegnieke by skole te implementeer. Om hulle net doodeenvoudig terug te stuur, is om met die lewens van ons mense te speel.”

Ons sal moet dink aan maniere om die verlore tyd in te haal.

Natalie Arendse, skoolhoof die Noorder Paarl Sekondêr, sê die aankondiging “kan in ’n nagmerrie ontaard” vir veral matrieks wat nie toegang het tot aanlyn hulpmiddels nie.

“Ons verstaan die vrese vir onderwysers en leerlinge en ons plaas veiligheid eerste, maar elke dag in die skooljaar tel. Verlede jaar se matrieks het darem ’n normale eerste kwartaal gehad, maar vanjaar se groep sal nou moet inhaal.

“Ons sal moet dink aan maniere om die verlore tyd in te haal.” Sy sê leerlinge van die skool se ouers het gemengde gevoelens oor die verlenging van die vakansie, met sommige wat dit verwelkom en ander wat bekommerd is.

Linja Olivier, ’n matriekleerling by die Hoërskool Charlie Hofmeyr op Ceres, sê sy sal eerder haar matriekjaar opoffer sodat haar eerstejaar op universiteit pret kan wees.

“Ek is nie bekommerd dat ons later begin nie,” sê sy. “Hoewel dit seker beter is ten opsigte van Covid-19. Maar ek wil eintlik nou net klaar kry met skool. Nou moet ons nog langer wag.”

Sy sê sy beplan om die ekstra vakansietyd te gebruik om haarself voor te berei op die jaar deur byvoorbeeld haar boeke in orde te kry. Beide haar ouers, Elizma en Etienne, is onderwysers en is tans besig om eksamenvraestelle na te sien.

“Ek is seker hulle is bly oor die ekstra rustyd,” sê sy.

Luke van Schoor, hoofseun van die Hoër Jongenskool Paarl, sê hy dink die meeste leerlinge verwelkom die langer vakansie.

“Maar ons wil nie ’n herhaling van verlede jaar hê waar dit gevoel het asof die werk ophoop nie,” sê hy. “Ek gaan die ekstra tyd gebruik om te werk aan beplanning vir die nuwe jaar, veral wanneer dit kom by die verwelkoming van ons gr.8’s.”

Elza van der Walt, wie seun, Wium, vanjaar ’n matriekleerling is by Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch, sê sy het ook gemengde gevoelens.

“Ek dink ons sou daarvan gehou het om nou al te begin, maar weens Covid-19 is dit moeilik. Hulle is gretig om te begin met ’n nuwe skooljaar, veral omdat daar lekker tradisies plaasvind. Maar ongelukkig is dit iets wat hulle moet aanvaar.”

Henk Arangies, skoolhoof van die Laerskool Eversdal, sê dit sal vir baie laerskoolouers slegte nuus wees.

Ek dink ons sou daarvan gehou het om nou al te begin, maar weens Covid-19 is dit moeilik.

“Talle van hulle wil met hul lewens aangaan en weer werk toe gaan. Nou moet hulle van voor af planne uitdink hoe om hul kinders te akkommodeer. Dit kan vir baie ouers geweldige spanning veroorsaak.”

Hy sê dit is sinneloos om, veral vir jonger grade, die jaar met aanlyn leer te begin. “Ons het gevind dat dit belangrik is om ten minste vir ’n week of twee kontak te hê tussen die onderwyser en die leerling, om daardie band en konneksie te bou. Daarna kan aanlyn leer voortgaan.”

Hy sê ’n groot uitdaging wat wag is om onderwysers en ouers weer die erns van Covid-19 te laat besef. “Ons keer terug na hoe dit was in Junie, nie hoe dit was in Desember nie.”

Die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SACE) sê hy is verheug oor die nuus dat die skole eers die 15de heropen. “Dit toon dat die regering kwessies oor gelykheid, billikheid en inklusiwiteit ernstig opneem,” sê die raad in ’n verklaring.

“Die raad beywer hom vir die versterking van die veiligheid en beskerming van alle skoolbestuurspanne wat op 25 Januarie terugkeer en onderwysers wat 1 Februarie begin. Hul veiligheid is nou selfs belangriker en dringender gegewe die erns van die tweede vlaag van Covid-19.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Skole Heropen  |  Vlak 3  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.