Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Gemengde reaksie op aanlyn registrasies by skole

Vir heelparty Gautengse ouers was dit ’n blou Maandag toe hulle hul gr. 1- en gr. 8-leerlinge vir 2020 wou registreer, terwyl ander sê die proses het seepglad verloop.

Die Gautengse onderwysdepartement het Maandag verskeie registrasiepunte geopen om ouers te help.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, sê die stelsel was aanvanklik ’n bietjie stadig weens “veranderings op die nippertjie”.

Die stelsel is verlede week aangepas sodat ouers kan sien in watter tale skole onderrig gee.

Lesufi het Maandag tydens ’n besoek aan ’n registrasiesentrum in Diepsloot gesê die stelsel kan sowat 60 000 aansoeke per minuut hanteer.

Hy het aan joernaliste gesê die onderwysdepartement het vroeg al 195 000 aansoeke ontvang.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAUO), sê die aangepaste stelsel het merkbaar beter gewerk as die week voordat dit aangepas is.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, Maandag in ’n sentrum in Diepsloot waar die departement ouers gehelp het om hul gr. 1- en gr. 8-leerlinge aanlyn te registreer vir volgende jaar.Foto: Deaan Vivier

“Dit was aaklig, glad nie maklik of selfs lekker soos hulle sê nie,” sê Juanita Schultz, wat een van haar kinders vir gr. 8 wou registreer by die Hoërskool Zwartkop in Centurion.

“Die aanlyn kaart het nie die woonadres herken nie en pal uitgesny. Heelwat ouers in my omgewing het laat weet dat hulle ook hiermee gesukkel het.”

Petro Pienaar, wat haar jongste vir gr. 1 wou registreer by die Laerskool Stephanus Roos in Pretoria, is bekommerd nadat sy op die verkeerde waglys geplaas is.

Hoewel hulle 970 m van die skool af woon, wou die stelsel nie haar huisadres aanvaar nie. Pleks van op waglys 1 – waar haar kanse vir ’n suksesvolle registrasie by die skool van haar keuse soveel beter is – is sy nou op waglys 4.

Sy probeer om dit reg te stel, maar is bekommerd dat sy in Augustus aangesê sal word om na ’n ander skool te gaan.

“Dan sal ek twee stelle skooluniforms moet kry en twee naskoolsentrums moet soek. Dit gaan ’n nagmerrie wees,” sê Pienaar.

Die Laerskool Lynnwood en ook Garsfontein het Maandag nie klagtes ontvang van ouers nie.

“Ek dink die stelsel was vroegoggend oorlaai met almal wat probeer registreer het, maar later het ons maklik ingekom sonder baie onderbrekings,” het Steve Stolk, Lynnwood se skoolhoof, gesê.

Paul Colditz van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) sê sy organisasie het net vyf klagtes van ouers gekry en dit reeds onder die departement se aandag gebring.

Ander skole in Pretoria wat Maandag sukkelende ouers moes bystaan, was die Pretoria Boys’ High, Pretoria Girls’ High en die Afrikaanse Hoër Seunskool.

Sommige ouers het gesukkel om te registreer en ander is op die verkeerde waglys geplaas weens die aanlyn kaart wat nie behoorlik gewerk het nie.

Louisa Motlalepule (31) skryf haar seun Kabelo Diale in vir gr. 8. Foto: Deaan Vivier

In geval waar ’n kind ’n broer of suster in die skool het en die ouers nader aan ’n skool woon of werk, sal die aansoek groter voorkeur kry en op waglys 1 geplaas word.

Daar is sowat 320 000 plekke beskikbaar vir volgende jaar. Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) van Solidariteit sê hy is vroeg al oorval deur gefrustreerde ouers wat gesukkel het om hul spruite te registreer.

Heelwat ouers is outomaties op die skool se vierde waglys geplaas, terwyl hulle eintlik eerste in aanmerking behoort te kom vir ’n plek.

Ander ouers kon nie op die stelsel inkom nie, terwyl sommiges slegs by Afrikaanse skole kon inskryf al is daar ’n Engelse skool nader aan hul woonadres.

SOS het ook klagtes gekry van skole wat nie op die stelsel kon inkom om aansoeke te verifieer nie.

Sibongile Nkonyane (links) word deur amptenare van die Gautengse onderwysdepartement bygestaan om haar dogter Coral Mabuza in te skryf vir gr. 1.Foto: Deaan Vivier

“Lesufi probeer openbare skole kaap en wil volledig beheer uitoefen oor toelatings, terwyl die departement geensins die vermoë of reg het om dit te doen nie,” sê Melanie Buys, SOS se ontwikkelingshoof.

“Skole moet nou bontstaan om die chaos te probeer hanteer. Ondanks gevorderde tegnologie tot die departement se beskikking, was skole se eie aansoekstelsels in die verlede baie doeltreffender.”

AfriForum, het Maandag ook klagtes ontvang oor die stelsel.

Carien Bloem, ’n projekkoördineerder, sê die grootste probleme is ervaar met die aanlynaansoekproses wat nie woon- of werkadresse wou verifieer nie.

Steve Mabona, ’n woordvoerder vir die onderwysdepartement, het Maandag erken die aanlynstelsel was by tye stadig. “Maar dit het vinnig weer reggekom. Die kaarte het baie data gebruik (om te laai). Ons het besef die mense wat WiFi gebruik het gesukkel en die wat selfoondata gebruik het, kon wel registreer,” sê Mabona. Volgens hom het die departement ongeveer 200 000 registrasies Maandag ontvang wat “ ‘n duidelike teken is dat die stelsel werk”. “Die departement het meer komplimente as klagtes ontvang oor die aanlyn stelsel. Ons is vol vertroue dat die klagtes opgelos sal word,” sê Mabona. Registrasies sluit op 22 Julie en daar is meer as 50 sentrums en biblioteke in Gauteng beskikbaar waar ouers hulp kan kry met die registrasieproses. 

Meer oor:  Panyaza Lesufi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.