Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Gemengde reaksie op sluiting van skole

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging Donderdagaand oor die sluiting van skole weens die toename in koronavirus-infeksies – wat die skooljaar weer omverwerp – het uiteenlopende reaksie ontlok.

Rolspelers in die onderwys sê hulle wag nog op direktiewe van Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, om duidelikheid te gee oor presies hoe die sluiting gaan werk en hoe die skoolkalender aangepas gaan word.

Ingevolge die president se aankondiging sal openbare skole van Maandag af vir vier weke sluit, met die uitsondering van matrieks en gr. 7’s, wat ná onderskeidelik een en twee weke sal terugkeer skool toe.

Ramaphosa het Motshekga, wat aanvanklik gekant was teen ’n sluiting, daarmee opgesaal om oplossings te kry vir die skooljaar wat nou sal oorspoel tot in 2021.

skole, ontsmetting, klaskamer
'n Werker in 'n klaskamer by die Seshegong secondary school in Olivenhoutbosch. Foto: Reuters

John Steenhuisen, DA-leier, het Vrydag op ’n mediakonferensie gesê sy party wag vir die publisering van die direktiewe in die Staatskoerant voordat hulle ’n dringende aansoek in die hof sal bring.

“Die virus gaan nie oor vier weke weg wees nie en ons wil deur ’n hofuitspraak seker maak skole word nie herhaaldelik in die toekoms gesluit nie,” sê hy.

“Die regering het nie beskikbare wetenskaplike bewyse in ag geneem nie en eerder geswig onder die druk van die vakbonde.”

Debbie Schafer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys. Foto: Foto24

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, sê hoewel die president se aankondiging in die afwesigheid van die direktiewe nie wetlik bindend is nie, sal die provinsiale regering nogtans na Ramaphosa luister wat volgende week betref.

“Ons het met ons regspanne gepraat, maar dit is moeilik om enige besluit te neem voordat die direktiewe gepubliseer is,” sê sy.

Mmusi Maimane, leier van die One South Africa Movement, die drukgroep Equal Education en sommige groot onderwysvakbonde is ten gunste van die sluiting van skole.

Die DA, die VF Plus, die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) en die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) meen egter die besluit is ’n fout.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, waarsku dat die jongste ontwrigting gaan bydra tot ’n jare lange agterstand vir kinders, veral in die grondslagfase, wat sedert Maart nie terug is skool toe nie.

“Daar is nog verskeie onduidelikhede. Matriekonderwysers sal weer op 3 Augustus terugkeer, maar dis nog onduidelik of die res van die onderwysers met aanlyn onderrig sal voortgaan.

“Die president het ook aangekondig gr. 7’s keer terug op 10 Augustus, maar dit is ’n openbare vakansiedag.”

Paul Colditz

Colditz sê dit is nog heel haalbaar dat die matriekeindeksamen ingevolge die huidige planne twee dae voor Kersfees klaarmaak, omdat dié leerlinge slegs ’n week van die skool af wegbly.

Hy sê omdat universiteite se nuwe akademiese jaar in 2021 ook later sal begin, behoort dit nie met matrikulante se planne vir universiteit in te meng nie.

Equal Education het Vrydag in ’n verklaring Ramaphosa se aankondiging “versigtig ondersteun”, omdat dit die regering kans gee om die ernstige kommer wat geopper is oor veiligheid by skole aan te pak.

“Ons is egter steeds baie bekommerd oor die impak van verlengde skoolsluitings op kinders. Ons doen ’n beroep op onderwysdepartemente om dringend op te tree en nie die geleentheid verlore te laat gaan om kritieke veiligheidsmaatreëls in plek te kry nie,” lui die verklaring.

Die MRK het in ’n verklaring Ramaphosa se besluit as betreurenswaardig en onregverdigbaar bestempel.

“Die besluit beteken dat tien miljoen Suid-Afrikaanse leerlinge, afhangend van die graad waarin hulle is, meer as 50% van die skooldae sal verloor weens die sluiting van skole.”

Die MRK is ook bekommerd oor die kwessie dat private skole vrygeskeld word van die sluiting, en dat openbare skole, wat gereed is vir Covid-19, ook wil afwyk deur meer grade in te neem wanneer matrieks terugkeer.

Volgens die MRK sal dit ongelykheid verhoog.

Melanie Buys, hoof van Solidariteit se Skole-ondersteuningsentrum (SOS), sê egter hulle soek nog duidelikheid oor of die huidige direktiewe steeds sal geld wat voorsiening maak daarvoor dat skole mag afwyk.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), meen politiek en druk van vakbonde het ’n rol gespeel in die president se aankondiging.

“Die probleem is dat daar net soveel mediese studies is wat toon skole moet oop wees as dié wat toon skole moet toe bly. Uiteindelik moet elke land gaan kyk na sy unieke situasie en die groter prentjie,” sê sy.

“In Suid-Afrika het leerlinge nie toegang tot die internet in die townships nie en daarom benadeel sluitings hulle erg.

“Die ander kwessie is dat die virussiekte nog lank met ons gaan wees. Ons moet leer om met die virus saam te leef en kan nie skole heeltyd oopmaak en sluit nie,” sê sy.

Colditz wys verder daarop dat heelparty provinsies nog ver van die eerste piek van Covid-19 is.

“Wat gaan gebeur wanneer infeksies oor ’n ruk in dié provinsies toeneem? Daar kan kwalik bekostig word dat skole weer sluit,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.