Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Gerrie Nel help Eldoradopark met stryd by skool

Die skoolgemeenskap van Eldoradopark in Johannesburg het AfriForum se hulp ingeroep om die voortslepende onmin tussen die hoof en onderwysers by  Eldorado Park Secondary School te besleg.

Volgens Carien Bloem, bestuurder van onderwysprojekte by AfriForum, sukkel die skool al langer as twee jaar met onderwysers wat nie opdaag vir werk nie.

“Die onderwysers, wat almal lede van (die vakbond) Sadou is, ontvang steeds ’n volle salaris, al kom hulle nie hul verpligtinge as onderwysers na nie. Hulle is sommer tydig en ontydig afwesig van die skool,” sê Bloem.

Volgens haar broei daar ook lankal onmin tussen die skoolhoof en die onderwysers. Dit het daartoe gelei dat onderwysers die hoof by Sadou en die Gautengse onderwysdepartement verkla het.

Die onderwysers, wat almal lede van (die vakbond) Sadou is, ontvang steeds ’n volle salaris, al kom hulle nie hul verpligtinge as onderwysers na nie. Hulle is sommer tydig en ontydig afwesig van die skool.

Sweetland, die tesourier van die skool se beheerliggaam, sê Sadou-lede het klagtes van rassisme en wanbestuur van fondse teen die skoolhoof ingedien.

Die onderwysdepartement het die klagtes ondersoek en die hoof onskuldig bevind.

Op sy beurt het die hoof klagtes teen die betrokke onderwysers by die LUR van onderwys, Panyaza Lesufi, ingedien oor hul voortdurende afwesigheid van die skool.

Volgens Bloem het Lesufi in die twee jaar wat sedertdien verloop het, nog niks gedoen om die klagtes te hanteer nie. Niemand is ook aangewys om die saak te ondersoek nie.

Panyaza LesufiFoto: Argief

Terwyl Lesufi vinnig optree wanneer meer gegoede skole ter sprake is, lyk dit of die klagtes van dié skool wat in ’n armer buurt is, geïgnoreer word, sê sy.

Die skoolgemeenskap het nou adv. Gerrie Nel van AfriForum se vervolgingseenheid ingeroep om geregtigheid te laat geskied in die skool se stryd teen die Gautengse departement van onderwys en Sadou, sê Bloem.

Volgens haar het Sadou die onderwysers by die skool aangemoedig om nie skool toe te gaan nie.

“Tot vandag was daar nog geen optrede teen die onderwysers deur die departement nie.

“Die skoolgemeenskap is ontsteld, want die leerlinge ly nou onder dié optrede van die leerkragte.

“Selfs rapporte is nie eens opgestel nie, so sommige leerlinge weet nie eens of hulle vanjaar tot die volgende graad gevorder het nie.”

AfriForum het sy vervolgingseenheid aangewys om die onderhandelinge tussen Sadou, die departement van onderwys in Gauteng en die skool te behartig.

Indien die onderwysers onskuldig bevind word, is AfriForum se voorstel aan die departement dat hulle na ander skole verplaas word.

“Die onderwysers is nie baie gewild onder die ouers nie, met goeie rede.

“Hul kinders word beïnvloed deur dié onderwysers se afwesigheid en hulle wil nie hê hul kinders moet by hulle klas kry nie.”

Bloem sê AfriForum gaan namens die skoolgemeenskap veg totdat geregtigheid geskied.

Steve Mabona, woordvoerder vir die Gautengse onderwysdepartement, kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.